Body care

Besnyding

Hier is hoe jy jou babaseuntjie moet versorg nadat jy die besluit geneem het om hom te laat besny.

SHARE

 
Besnyding
 
 
 
 

Jou baba se penis bestaan uit twee lae weefsel – die voorhuid en die glans (of kop). Wanneer jou baba besny word, word die voorhuid verwyder wat die kop van die penis blootstel.

Jou besluit om jou babaseun te laat besny is vanweë persoonlike, godsdienstige of mediese redes. Dit moet binne die eerste twee weke van jou baba se lewe gedoen word en kan by die hospitaal, die dokter se spreekkamer of tuis (indien dit om godsdienste redes gedoen word) uitgevoer word.

Daar kan risiko wees indien die prosedure ná dié tydperk gedoen word – hy sal onder narkose geplaas moet word.

Hoekom word dit gedoen?

  • Die risiko is kleiner dat jou baba infeksies van die urienkanaal sal kry, veral in sy eerste jaar.
  • Die kans dat hy kanker van die penis later sal kry, is effens skraler.
  • Die kanse is effens kleiner dat hy seksueel oordraagbare siektes sal opdoen wanneer hy ouer is.

Wat is die risiko?

  • Bloeding kan voorkom. Indien die wond uitermate bloei, sal jou dokter een steek insit, wat later verwyder kan word.
  • Jou baba kan ’n infeksie ontwikkel.
  • Dit kan pynlik wees.
  • ’n Afname in seksuele sensasie kan voorkom en daar is ’n kans dat te veel van die voorhuid verwyder word of dat jou baba se penis beskadig word tydens die prosedure.

Hoe dit gedoen word

Voordat jou baba besny word, sal hy ondersoek word. Indien die dokter ’n rede vind waarom hy nie besny kan word nie, sal hy die prosedure kanselleer. Jou baba sal dan verdoof word met ’n halwe dosis baba-parasetamol of ’n verdoofmiddel sal op die penis aangewend word.

Die dokter sal dan die ekstra vel van jou baba se voorhuid oor die kop van die penis trek, en dit vir 5 minute met twee knypers klamp. Dit help om die senupunte te verdoof en die bloedtoevoer af te sny. ’n Skans word ingevoeg om die kop van die penis te beskerm en die voorhuid word met ’n skalpel afgesny.

Die dokter bind dan ’n gaasverband om die wond en dien ’n salf toe om dit dig te hou.

Versorging van ’n penis wat besny is

Die belangrikste is om jou baba se penis teen infeksie te beskerm nadat hy besny is. Moenie hom vir vyf dae bad nie – gee hom liewer ’n deeglike boudjies- en bokantwas. Jy sal hom dokter toe moet neem op die vyfde dag, waar die verband verwyder sal word en die dokter hom sal ondersoek. Hy kan dalk salf aan die wond smeer.

Hierna moet jy jou baba se penis so skoon as moontlik hou (jy moet dit met elke skoon doek wat jy aansit, met water afvee). Sommige dokters beveel aan dat merkurochroom met elke skoon doek aangewend word vir twee dae.

Dit neem sowat tien dae vir die wond om te genees, en jou baba se penis kan dalk rooi en opgeswel wees. Daar sal dalk ’n effense bloederige afskeiding in sy doek wees. Dis normaal.

Wrywing van jou baba se doek teen die wond kan ook irritasie veroorsaak. Jy sal ’n ogie moet hou vir enige tekens van infeksie en jou baba dadelik dokter toe vat as daar enige komplikasies is.

Kyk hiervoor uit

’n Effense afskeiding is normaal, maar neem jou baba dadelik dokter toe as jy die volgende opmerk:

  • Aanhoudende of oormatige bloeding
  • Rooierigheid of swelling wat met tyd vererger
  • Koors
  • Blase met sug gevul of onwelriekende afskeiding
  • Geen normale urinering 12 uur na die besnydenis
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - No comments yet

Mom to Mom Feed