Brain development

Help jou baba floreer

Pret speletjies en speelgoed wat jou baba van 6 tot 12 maande sal besig hou terwyl se leer hoe die wêreld in mekaar steek.

SHARE

 
Help jou baba floreer
 
 
 

Ouer babas is op hul gelukkigste in ’n omgewing waar hulle na hartelus kan snuffel, speel en mors... Hier is wat jy alles kan doen om jou japsnoet ná 6 maande oud te laat floreer.

Die tweede 6 maande van jou kind se lewe is opwindend en gepak met mylpale, van eerste vaste kos en regop sit tot kruip en selfs loop.

Jou kleinding is onweerstaanbaar en kommunikeer openlik met almal om haar. Jy voel ook nie meer so onhandig nie en een van die lekkerste (en uitputtendste!) tye van ma wees lê nou vir jou voor.
Moet egter nie nou die fout maak om jou kind in watte toe te draai om haar teen die wêreld te beskerm nie.

Groter babas raak nou woelig en die potensiële gevare kan jou dalk lamlê. Haal diep asem en ontspan. Moenie jou baba se verkenningstogte beperk nie, behalwe as sy haarself of ander in gevaar stel. ’n Bietjie ekstra sorg en ’n paar slim skuiwe sal jou kind toelaat om die wêreld op ’n veilige en prettige manier te verken.

Eers die grondreëls

  • Maak jou huis en tuin kinderveilig deur voorwerpe en stowwe wat skadelik vir jou baba kan wees, te verwyder of buite bereik te bêre. Nou kan sy na hartelus verken en ontdek!
  • Trek vir baba klere aan wat geskik is vir kruip en rol.
  • Laat haar soveel moontlik kaalvoet wees. So ervaar sy deur middel van haar voetsole verskillende sensasies en haar balans ontwikkel ook beter.
  • Moenie te vinnig ingryp as jou baba gefrustreerd raak nie. Help haar om iets reg te kry eerder as om die taak heeltemal oor te neem en dit vir haar te doen.
  • ’n Noodsaaklike bousteen van die leerproses is herhaling. Dit help baba om basiese begrippe te bemeester en vertroue op te bou dat sy kan staatmaak op daardie kennis.
  • ’n Baba se aandagspan is baie kort – moet dus nie bekommerd wees as sy gou belangstelling in ’n boek of speelding verloor nie.
  • Probeer alle speelgoed skoon en higiënies hou, aangesien dit heel eerste na baba se mondjie gaan.
  • Dis nie goed vir jou baba om vir lang rukke in ’n babastoeltjie te sit nie. Dit strem liggaamlike kontak en bewegingstimulasie. Dit verhinder haar ook om haar maag- en rugspiere te ontwikkel.
  • ’n Roetine is in hierdie stadium baie belangrik want dit laat jou baba veilig voel as die dag ’n bekende patroon volg.

Lesse in die eetstoeltjie

6 tot 9 maande

  • Babas geniet dit om hul hande by die eetproses te betrek. ’n Bordjie vingerkos soos stukkies kaas, aartappel, piesang of sagte koekies sal jou kleintjie vir baie lank besig hou.
  • Laat jou baba die verskillende teksture van kos ontdek soos jellie, waatlemoen, sagte pasta, growwe beskuit, gekleurde ys en graankos.
  • Sy is gek daaroor om voorwerpe te laat val. Maak dit maklik deur speelgoed met tou aan ’n eetstoeltjie vas te maak (lank genoeg sodat dit steeds die grond kan tref) en wys haar hoe om dit weer op te trek. Hou net ’n ogie sodat sy nie verstrengel raak nie.

9 tot 12 maande

  • Moedig fyn motoriese beheer aan deur kleiner stukkies kos te begin gee, soos ertjies of worteltjies, wat sy dan self moet optel.

Maak doeke ruil lekker

Jou baba gaan begin om haar teë te sit wanneer jy haar doek omruil omdat sy graag op haar maag wil rol. Hang ’n interessante bewertjie ongeveer ’n armlengte bo jou baba se gesig. Sy sal dit geniet om daaraan te vat. Ruil dit gereeld met ander bewertjies om sodat sy nie verveeld raak nie. Jy kan dit later deur foto’s of prentjies vervang.

Kruip-kaskenades

6 tot 9 maande

  • Laat haar tyd op haar magie deurbring. Jy kan jou arm gebruik as vastrapplek waarteen sy haarself kan wegstoot.
  • Wanneer sy op haar maag lê, kan jy haar heupe vashou en haar bene ongeveer 15 cm van die vloer lig sodat sy outomaties die gewig op haar arms dra. Moedig haar aan om op haar hande te “loop”. Dis ’n goeie oefening as sy nog nie kruip nie, en berei haar ook voor om bollemakiesie te kan slaan.

9 tot 12 maande

  • Moedig haar aan om oor hindernisse soos kussings, komberse of jou te kruip.
  • Moenie die loopproses aanjaag nie. Die kruipstadium is ’n baie belangrike fase wat sekere dele van die brein laat ontwikkel. Dis een van die redes waarom kenners nie dol is oor loopringe nie – loopringe bevredig jou baba se behoefte aan mobiliteit maar verminder die motivering om te kruip. Indien jy egter wel ’n loopring wil aanskaf, beperk jou baba se tyd daarin tot so 10 minute per dag. Wees egter versigtig: Daar is elke jaar ernstige ongelukkie wanneer babas in loopringe by trappe of elders aftuimel.

Water verrig wondere

6 tot 9 maande

  • Gebruik aanraking om tydens badtyd jou baba se aandag op ’n spesifieke liggaamsdeel te vestig.
  • Versamel leë plastiekhouers soos jogurt-, margarien- of roomkaashouers en speel daarmee in die bad.
  • Dis nou die ideale tyd vir swemlesse. Tyd saam met jou in ’n verhitte swembad verrig wondere vir haar motoriese vaardighede en stimuleer haar sintuie.

9 tot 12 maande

  • Sy is nou mal daaroor om houers vol te skink. ’n Teestelletjie van plastiek en ’n bakkie water op die stoep sal haar sommer lekker besig hou. Moet net nooit jou kind alleen by enige houer met water los nie.
  • Gebruik leë speseryhouers met ’n gaatjiesdeksel om ’n “gieter”-effek tydens badtyd te skep.

Emosionele ontwikkeling

6 tot 9 maande

  • Hou aan met jou baba praat as jy buite sig is sodat sy kan leer dat jy daar is, al kan sy jou nie sien nie.
  • Hou jou baba dop en moenie onmiddellik reageer as sy klaerig raak nie. Soms is die geluide bloot stemspeletjies en is sy nie werklik besig om te huil nie.

9 tot 12 maande

  • Probeer om elke dag vir jou baba te lees. Moenie skaam wees nie en geniet dit om verskillende stemme, geluide en gesigsuitdrukkings te maak. Dit help baba om die karakters van mekaar te onderskei.

Prettige speletjies

6 tot 9 maande

  • Laat jou baba op die gras of mat sit en plaas speelgoed net buite haar bereik. Sy sal probeer om dit in die hande te kry en só haar sitvermoë verbeter en lus wees om te begin kruip.
  • Versterk haar oogspiere deur haar aandag te vestig op ’n bewegende motor of ’n bal wat wegrol.
  • Laat jou baba ’n flitsligkol teen ’n muur volg. Dit werk die lekkerste in ’n donker kamer.
  • Babas se asemhaling- en longkapasiteit word verbeter deur aktiwiteite waar sy aan jou hande “hang” of wanneer jy haar aan haar handjies optrek tot in ’n staande posisie. Gebruik jou duime sodat jy haar greep beter kan monitor en doen dit op ’n sagte oppervlak, soos ’n bed. Sorg dat sy nie kan seerkry as sy skielik jou hande los nie. (Dié speletjie is net geskik vir groter babas met sterker nekkies.)
  • Steek ’n lawaaierige speelding onder iets soos ’n kombersie weg en laat sy dit soek.
  • Gee vir haar ’n derde speelding wanneer sy reeds een in elke hand het. Laat sy self ’n oplossing vir die probleem vind.
  • Tuimelspeletjies is uitstekend om jou baba se gevoel vir balans en bewuswording van ruimte te ontwikkel. Kielie haar of dans met haar, laat haar op jou skoot “spring”, swaai haar terwyl jy haar onder die arms vashou, laat haar op jou skouers ry, of draai met haar in die rondte (sorg net dat jy nie omval nie!). Laat jou deur jou baba lei en hou op met enige speletjie waarvan sy nie hou nie.
  • Die meeste babas geniet spieëls en is gefassineer deur hul eie weerkaatsing. Sit langs haar en trek gesigte, beweeg en gesels.

9 tot 12 maande

  • Babas geniet nou tuimelspeletjies selfs meer. Dis veral lekker om vir pappa so betrokke te kry. Moet egter nooit ’n baba in die lug in gooi en dan weer vang nie. Skep eerder die effek deur jou baba vinnig op te lig en te laat sak sonder om te los – en slegs as dit lyk asof sy daarvan hou.
  • Dis ook goed vir jou kleintjie om soms onderstebo te wees. ’n Goeie manier is om baba op jou skoot te laat lê met haar voete teen jou maag. Sorg dat jy ’n stewige greep op haar enkels het. Staan nou stadig op terwyl jy haar styf vashou. Gaan sit dan weer stadig sodat sy weer horisontaal lê. Hou die onderstebo tye aanvanklik baie kort (so 5 sekondes) en rek dit uit namate jou baba daaraan gewoond raak. Natuurlik is dit nie ’n goeie idee om dit kort ná ’n ete te doen nie!
  • Jou kleinding kan dalk begin om diere en geluide met mekaar te verbind en selfs na te boots. Wys vir haar prentjies (of die regte diere) en demonstreer die geluide wat hulle maak.
  • Wysspeletjies werk nou goed omdat jou baba meer woorde verstaan as wat sy gebruik. Vra “Waar’s mamma?” of “Waar’s die lig?” en laat haar dit uitwys.
  • Wees op die uitkyk vir huisprodukte of speelgoed met ’n interessante tekstuur soos ’n verestoffer, haarborsel of kiwivrugte. Jy kan ook lappies van verskillende teksture uitsny en jou baba dit laat verken.
  • Plak plakkers op jou baba se handjies of ander dele van haar lyfie en moedig haar aan om dit te soek en af te trek.
  • Jou baba is mal daaroor om voorwerpe teen mekaar te kap. Kry oorpluisies en skep geleenthede waar sy na hartelus dinge teen mekaar slaan, soos kastroldeksels, plastiek- of blikbekers met handvatsels, leë houers, ratels of houtspeelgoed.
  • Om houers leeg te maak is ook ’n groot gunsteling. As jy ’n bietjie skrikkerig is vir jou handsak, skep ’n eie “handsak” of houer waarin jy interessante en raserige artikels bêre om ontdek te word.
  • Speelgoed wat met ’n toutjie getrek word is baie lekker vir kleintjies wat net begin loop. Jy kan ook ’n lint of tou aan ’n gunsteling-speelding vasmaak en so die trekpret uitbrei.

Nuttige speelgoed

  • Plastiek- of kartonboeke met helderkleurige prente. Probeer realistiese prente of foto’s vind. Babas het selde die vermoë om ’n ooreenkoms te tref tussen byvoorbeeld ’n regte boom en ’n prentjie van ’n boom. ’n Goeie plan is om ’n boekie met foto’s van “haar” omgewing te maak soos foto’s van huismense, haar bedjie of bottel, fopsbeen en dies meer.
  • Speelgoed wat verskyn en verdwyn, soos opwipspeelgoed.
  • Klokkies en rammelaars.
  • Stapelblokke met verskillende teksture.
  • Balle van verskillende groottes.
  • Gegeurde borrelbad, badkryte, kleurspuitskuim of skeerroom.
  • ’n Waentjie met blokkies wat sy kan stoot.
  • Blaasborrels.
  • Sandput met speelsand.
  • Trom of xilofoon.
  • Hand- of vingerpoppe.

Interessante huishoudelike voorwerpe

  • Ou tydskrifte
  • Sleutels
  • Wasgoedpennetjies
  • Lepels (hout en metaal, groot en klein)
  • Borseltjies
  • Kastrolle, muffinpanne
  • Koekiedrukkers
  • Koeldrankstrooitjies
  • Vatlappe
  • Enige papier wat ’n geraas maak (soos sellofaan)
 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 3 comments

Rosemarie

leer baie op hierdie web....het n babasorg
Posted on Wed, Jan 23rd 2013, 12:40

Caroline

Goeie artikel
Posted on Sun, Jul 3rd 2011, 09:40

Conrad

Lees baie goeie raad
Posted on Sun, Jul 3rd 2011, 09:39