Jou kind se hoor- en spraakontwikkeling

Om te hoor hoe jou kleinding se spraak ontwikkel is betowerend. Hier's wat jy moet weet om te verseker hy word ’n babbelbek wat ook mooi kan luister!

SHARE

 
Jou kind se hoor- en spraakontwikkeling
 
 
 

As daai ore tog net wil werk! Dis die versugting van menige kleuterma wat weet dat daar absoluut niks fout met haar kleuter se ore is nie, maar dat hy haar ignoreer.

Om jou goed te kan uitdruk, maar nog belangriker, om goed te kan luister, is kosbare lewensvaardighede, veral omdat ons skoolstelsel baie sterk op goeie luistervaardighede leun.
Ook op sosiale vlak kan dit help om jou kind ’n gelukkige en gewilde maatjie te maak, wat weer bydra tot selfvertroue en positiewe emosies.

Die wonderwerk van gehoor ontvou al in die baarmoeder. Op 23 weke ná bevrugting reageer jou fetus al op klank en in jou baarmoeder hoor hy klanke soos jou hartklop, dermgeluide en stem.

Wat jou ongebore baba hoor, vorm die fondament van sy latere taalvermoë. ’n Baba van net 4 dae oud reageer positief op sy moedertaal en is meer onrustig wanneer hy ’n vreemde taal hoor.

Jou kind se fisieke vermoë om te hoor, sy brein se vermoë om hierdie klanke sinvol te verwerk en sy spraak vorm deel van ’n eenheid: As jou kind nie kan hoor nie, hoe kan hy ’n taal aanleer? Gehoorprobleme moet dus so gou moontlik raakgesien en behandel word.

As alles reg verloop

0 tot 3 maande

Jou baba se gehoorstrukture is met geboorte reeds baie goed ontwikkel, hoewel dit ná geboorte steeds verder ontwikkel, sê Zelna Botes, ’n Pretoriase spraak-taalterapeut. “Sy eksterne oorkanaal hou nog tot op nege jaar aan groei.”

Jou pasgebore babatjie kan goed hoor en skrik vir harde geluide. “Pasgeborenes luister eerder na langer klanke van sowat 10 sekondes, en eerder na sagter klanke as harder, skerper klanke,” sê Zelna.

Aanvanklik huil jou baba net as hy ongemak ervaar; dis sy eerste “spraak”. Kort voor lank sal jy verskillende huilgeluide vir verskillende situasies herken.

Teen agt weke begin jou baba private brabbelsessies hou, waar hy klanke probeer naboots en vokale soos “ee”, “ih”, en “uh” vorm, asook konsonante voor in die mond soos “m” en “b” en agterkonsonante soos “g”. Hy sal stilbly die oomblik wanneer jy die vertrek binnekom. Dowe babas begin gewoonlik nou ophou babbel.

3 tot 6 maande

Teen 16 weke bestaan baba se taal uit lag en borrels blaas en teen 24 weke sal hy klanke soos “da”, “ka”, “ma” en “irgh” maak. Terwyl hy gesels en lag gebruik hy die meeste vokale en konsonante want dit verg dieselfde tongbewegings wat nodig vir suig en sluk is.

Jou baba sal sy gebrabbel begin gebruik om aandag te kry of versoeke te rig, sê Zelna.
Baba sal ook nou begin terugantwoord in ’n soort gesprek. Die gebrabbel word gekenmerk deur lettergreep-herhaling, asook konsonante soos “l”, “d”, “t” en “n”.

6 tot 12 maande

Jou kleinding maak ’n verskeidenheid geluide met duidelike lettergrepe soos “ba!” of “da!”. Hy wissel hoë en lae klanke af en speel graag met sy mond en tongetjie.

Teen 36 tot 40 weke sal hy regte woordjies probeer namaak soos “tatta” of “baba”. Sy eerste regte woordjie sal hy iewers tussen 40 en 48 weke met betekenis begin gebruik. Hy verstaan al heelwat eenvoudige woordjies soos “tatta” en ook “nee”, en reageer op opdragte soos “handjies klap”.

1 tot 2 jaar

Jou kleinding kan reageer op eenvoudige vragies, soos om ’n liggaamsdeel uit te wys. Hy sê 2 tot 3 woordjies met betekenis, maar dis nie altyd verstaanbaar nie. Hy kan selfs sy eie, onverstaanbare taal hê, kompleet met stembuigings.

Later sal hy sowat 10 woordjies korrek kan gebruik, maar mettertyd begin hy tweewoord-sinne maak, soos “bottel hê”.

Hy verstaan baie meer woorde as wat hy sê en probeer woorde by voorwerpe plaas. Hy kan eenvoudige opdragte uitvoer soos “Kom eet jou kos” en teen 2 sal hy eenvoudige vragies soos “Waar boeta?” vra.

2 tot 3 jaar

Sy sinnetjies begin tot driewoord-sinne rek en hy kan eenvoudige vragies beantwoord. Jy sal nou baie woordjies soos “myne!” hoor.

Sy uitspraak word ál duideliker, hoewel woorde nog baie verkeerd uitgespreek word en baie kleingoed nog met ’n sleeptong praat.

Sy woordeskat kan wissel van 300 tot 900 woorde. Hy kan eenvoudige opdragte uitvoer en is gek daaroor om stories oor en oor te hoor.

3 tot 4 jaar

Hy gebruik sinne van sowat vier tot ses woorde en is propvol vrae. Hy is gek daaroor om almal te hiet en gebied! Hy begin meer abstrakte begrippe soos koud en warm of vinnig en stadig verstaan. Hy kan hom taamlik goed uitdruk en selfs kort stories oor gebeure in sy dag vertel. Hy kan sy naam sê en so twee liedjies sing. Sy woordeskat het uitgebrei tot 1 500 woorde, afhangende van sy blootstelling.

4 tot 5 jaar

Jou kind kan die meeste konsonante mooi duidelik uitspreek, maar sukkel nog met ’n paar.
Sy woordeskat het uitgebrei tot so 2 000 woorde en hy kan byna al sy liggaamsdele benoem, verskeie kleure benoem en dinge beskryf. Hy praat gewoonlik in vol sinne. Hy kan drie opdragte onthou en ná mekaar uitvoer.

5 tot 7 jaar

Voorskoolse kinders gebruik sinstrukture en woorde uitgebrei en korrek. Teen vyf tot ses behoort sy spraak duidelik en sonder artikulasiefoute te wees. Hy kan ’n volledige storie of gebeurtenis weergee sonder om af te dwaal. Hy kan na opdragte luister en dit verstaan, onthou en uitvoer.

Hy kan rympies en liedjies memoriseer en toepaslike vrae vra. Hy maak voldoende oogkontak tydens gesprekke en val die spreker nie in die rede nie. Hy praat met ’n normale stemtoon en spraakspoed en hou daarvan om met woorde te speel, soos deur woorde te laat rym.

Oefen sy taal!

Praat gedurig met jou japsnoet, veral jou baba. Vokaliseer eenvoudige klanke soos “ee”, “aa” en “uh” en oorbeklemtoon die vorming van die mond om sy aandag te hou. Vertel vir jou peutertjie wat jy sien of hoor – benoem voorwerpe, klanke en reuke. Praat duidelik en altyd een vlak bo jou kind se vermoë. As hy sê “woef”, sê jy “Ja, die hond maak woef!”

Maak oogkontak as jy met jou kind praat.

Lees stories. “Dit leer jou kleuter om met aandag te luister, bied hom geleentheid vir nabootsing en die uitbrei van sy uitdrukkings, en is ’n geleentheid om begrippe en woordeskat uit te brei,” sê Zelna. “Kleuters geniet herhalende stories en sal weer en weer na dieselfde storie luister; die kans is dus goed dat hy die sinne self sal herhaal.” Zelna beveel aan dat jy die storie se inhoud en lengte by jou kind se nieverbale taalvermoë aanpas. “Hou die storie opwindend, oordryf, speel toneel of verpersoonlik die storie deur die hoofkarakter dieselfde naam as jou kind te gee. Lees dieselfde storie ’n paar keer en moedig hom aan om dit dan vir jou te vertel.”

Luister na jou kind as hy met jou praat of jou aandag soek. “So stel jy die voorbeeld dat luister ’n belangrike deel van kommunikasie is,” sê Zelna.

Laat hom stories of gebeurtenisse terugvertel. Vra hom om vir jou te vertel wat die oggend by ouma gebeur of wat hy by die skool gedoen het.

Moenie die televisie as taal-leermeester gebruik nie.

Leer jou kleinding rympies en liedjies en sê dit gereeld saam op.

Neem jou kleuter vir ’n roetine-gehoortoets by ’n oudioloog.

Hy kan hoor, maar nie luister nie

Dis nie net kinders met gehoorprobleme wat hulp nodig het nie. Jou kind kan ’n baie goeie gehoor hê, maar ’n swak luistervermoë, sê Janie Rolfe, ’n opgeleide Tomatis Solisten-terapeut van Pretoria. Sy verduidelik: “Luister is meer as ’n meganiese funksie van die ore. Terwyl om te hoor die passiewe persepsie van klank behels, is luister aktief.”

Luister behels erkenning, onderskeiding en organisasie van die klankinligting. As die oor nie die boodskap korrek hoor nie, word dit nie korrek oorgedra na die brein nie. Die brein begin dan met ’n foutiewe boodskap wat dit moet interpreteer en integreer en die produk is ’n leerprobleem.

Janie sê elke mens se persoonlike geskiedenis van fisieke en geestesgesondheid het ’n invloed op hoe hy luister. “Hoe ons na onsself en ander luister raak hoe ons leer, kommunikeer, dink en voel. Doeltreffende luisteraars kan onderskei tussen noodsaaklike inligting, wat verwerk moet word, en agtergrondinligting.”

Iemand wat hiervan ondervinding het, is Nadine Van der Wateren van Johannesburg. Nadine het ’n boek geskryf genaamd Die avonture van Pieter Paddavis en Lientjie Lier na aanleiding van haar ervaring met haar seun, Damian (nou 15), wat op 6 jaar met ouditiewe probleme gediagnoseer is. Die boek is daarop gemik om kinders met ouditiewe probleme te help en is by spraakterapeute beskikbaar.

Nadine sê sy het nou saam met die departement oudiologie van die Universiteit van Pretoria gewerk. “Hulle sê die probleem is betreklik nuut – so 20 jaar – omdat ons deesdae meer visueel gestimuleer word. Ons luister nie meer radio¬stories nie, ons lees nie meer stories nie.”

Nog ’n probleem is dat Afrikaans en Engels deesdae van jongs af gemeng word. “Statistiek wys as ’n kind nie sterk taalvaardig aangelê is nie en hy beland as Afrikaanssprekende kind in ’n Engelse skool, kan ’n probleem ontstaan. Kinders word dikwels in skole as aandaggebrekkig of hiperaktief gediagnoseer, maar in werklikheid het hulle net ouditiewe-prosesseringsuitvalle. Daar is niks met hul gehoor fout nie maar wel met die manier hoe hulle klanke hoor en verwerk.

“Hierdie kinders kry ongelukkig dikwels etikette. Daar is niks verkeerd met hul intellek of geheue nie, maar as hulle in ’n klas sit waar maatjies raas en boeke val, kry hulle swaar. En dan skuif die onderwyseres hulle uit as stout kinders.”

Nadine vertel Damian het die etiket gekry dat hy nie luister in die klas nie. Hy het ál meer teruggetrokke en gespanne geraak. Vandag, ná hulp, is hy egter ’n tiener wat sy volle potensiaal bereik.

“As ’n mens mekaar verkeerd hoor, ontstaan soveel misverstande. Die kind stap uit die klas en die juffrou sê kyk vir die tas, en hy dink hy moet na die kas kyk. Selfs met jou kind se vriende het dit ’n impak. Sulke kinders is geneig om net in klein groepies te wees en is dikwels teruggetrokke.”

Kry hulp as ...

  • jou kind nie sy spraak- en taal-mylpale haal nie,
  • sy algemene ontwikkeling ’n agterstand toon,
  • hy gedurig oorontsteking kry. Gereelde middeloorontsteking kan tot taal- en ouditiewe-prosesseringsprobleme lei. Taal en ouditiewe prosessering is belangrike boustene vir lees, spel en wiskunde,
  • hy nie reageer op klanke of as jy met hom praat nie,
  • jou voorskoolse kind nog sukkel om woorde of klanke soos “s” of “r” reg uit te spreek, of hakkel, of jou voorskoolse kind sukkel om tussen klanke te onderskei.

Waar kry ek hulp?

  • n Oudioloog: Klop hier aan as jy vermoed jou kind het gehoorprobleme of is doof. Sy sal jou kind se fisieke gehoorvermoë toets.
    ’n Spraak-taalterapeut Sy werk met alle aspekte van jou kind se taal- en spraak-ontwikkeling en hanteer uitspraakprobleme, woordeskatprobleme, gehoorprobleme en ouditieweprosesseringsprobleme.
  • n Remediërende onderwyseres: Sy sal na spraak en gehoor kyk spesifiek uit die perspektief van jou kind se skoolwerk.
  • Tomatis-terapeut: Die Tomatis-metode kan help met sekere gehoorprobleme en word dikwels saam met spraakterapie ingespan. Tomatis korrigeer die gehoor van mense deur ’n elektroniese apparaat wat sekere frekwensies musiek gebruik om die oor te “herleer”. Die terapie behels dat jou kind met oorfone luister na aangepaste klank.
 

Gallery

doriana_s.jpg
doriana_s.jpg
 
 
Shanda Luyt

Shanda Luyt

Shanda Luyt stap al meer as 10 jaar die pad saam met Baba & Kleuter, eers as  assistent-redakteur en deesdae as vryskutskrywer. Sy is 'n ma van drie en is  passievol daaroor dat alle ouers verdien om ingeligte keuses te kan maak na  gelang van hulle en hul kinders se unieke behoeftes en omstandighede. Sy woon in Humansdorp in die Oos-Kaap.

Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 5 comments

Carolien Agema

Hallo, Is daar dalk ouditiewe prosseserings oefeninge wat ek tuis kan doen met my seuntjie van 8 jaar? Dis nie ernstig nie, maar kan dalk net die bietjie hupstoot gee om opdragte beter op te volg. Ek hoor graag.
Posted on Wed, Aug 14th 2013, 20:44

Cecilia

Hi daar ek is opsoek na n spraak terapeut in pretoria wat my kleinkind kan help hy is 19 maande oud en praat nog nie in baba en kleuter tydskrif het ek gelees van apraksie...asseblief waar kan ek hulp kry??
Posted on Thu, May 2nd 2013, 22:21

Chantell

My Meisiekind is nou 22 maande. Sy praat altwee talle (Afrikaans en Engels). Sy kan begin engelse woorde gebruik as sy hoor die volwasse mense praat Engels en of Afrikaanse woorde in 'n afrikaanse gesprek. Sy sing twee liedjies mooi saam mamma al (Eendjie eendjie en Bubbelgum) - dalk nou nie woord vir woord nie - maar ten minste 3-4 woorde in 'n rytjie en vind groot genot uit sing. Sy kan ook kleure se name se as ons saam speel en oefen en kan meer as 50% van die woorde op die flashcards self se sonder enige hulp. Sy kyk ook nou al na die horlosie in die aand en se dis "Dudu tyd" en of "bad tyd". Sy sal se dis "Donker - en mamma lig" en sy weet wat is warm en wat is koud - selfs op tv as daar kook kanaal is sal sy se "warm kos - blaas". Ek is bitter trots op haar maar lees ek bo is sy nie dalk te gevorderd of gebeur die dinge en dat ek 'n moontlike terug slag kan verwag? Of gebeur dit maar soms? Sussie het op 5 en half maande begin kruip, 7 en half maande begin loop.
Posted on Wed, Apr 24th 2013, 08:57

judy

Haai,my seuntjie van 3 jaar sukkel met spraak.Daar`s geen fout met sy ore of mond nie.Ons sien n spraakterapeut een keer per week.Hy doen niks wat n 3 jarige behoort te doen nie.Ons is baie bekommerd,want ons is al amper n jaar by die terapeut.Hy voer glad nie opdragte uit nie.Speel altyd alleen,al is daar kinders rondom hom.Is in n kleuterskool. Hy is ook baie aggresief
Posted on Tue, Feb 19th 2013, 13:42

Charmaine

Hi, my dogter is 6 jaar oud en nou in Gr1, sy het adhd en sukkel met Ouditiewe prosessering en Sensoriese integrasie. My kind kry tans arbeidsterapie een keer n week en ek wil haar graag in die middae by die huis ook help. Is daar enige iets wat ek by die huis kan doen om die twee probleme te benader en reg te stel? Ek sal enige hulp en idees waardeer. Dankie
Posted on Wed, Jan 16th 2013, 10:51