Merke, gereed, kruip!

Die kruip-mylpaal is 'n grote en iets waarna elke ouer gretig uitsien. Hier's waarom dit goed is vir 'n baba om te kruip en wat jy kan verwag.

SHARE

 
Merke, gereed, kruip!
 
 
 

Jou hart wil bars van trots wanneer baba vir die eerste keer versigtig vorentoe kruip. Dis ook ’n teken dat jy jou huis so gou moontlik babaveilig moet maak, want as daardie kleinding eers wegtrek, is daar min wat hom keer...

Al lyk jou kind se eerste poginkies om self vooruit te kom aanvanklik onbeduidend, is die kruipstadium ’n reuse-sprong in sy ontwikkeling. Beteken dit dus dat kinders wat die kruipfase oorslaan, agterstande daarvan oorhou? Hoe ’n belangrike ontwikkelingsmylpaal is kruip regtig?

Wanneer is baba gereed?

Jy weet jou baba maak reg om te kruip wanneer hy sonder ondersteuning kan sit, want dit beteken hy kan nou sy koppie regop hou en sy ruggie is sterk genoeg dat hy nie val wanneer hy op sy hande en knieë staan nie.

’n Baba is gewoonlik gereed vir kruip wanneer hy tussen 7 en 10 maande oud is, hoewel party haastig genoeg is en al op 6 maande laat vat. Maar soos met alle fases is dit onbillik om kinders met mekaar te vergelyk. Elkeen is uniek en ontwikkel teen sy eie pas – en veral vroeggebore babas sal waarskynlik eers ’n bietjie later begin kruip.

Hoekom is kruip belangrik?

Kruip is soveel meer as net ’n manier waarop jou baba sy omgewing kan verken en van een plek na ’n ander kan kom. Wanneer ’n baba kruip, dra hy sy gewig op sy handjies oor en dit bevorder die ontwikkeling van sy skouerbeheer en handboë, sê Leny Loock, ’n neuro-ontwikkelingsterapeut van Nelspruit.

Dié ontwikkeling is belangrik vir latere fyn motoriese aktiwiteite soos om ’n potlood vas te hou en te teken. Kruip gee jou baba beweeglikheid en laat hom ook toe om te beplan hoe om by voorwerpe uit te kom, sê Leny.

“Hy gaan noodwendig soms in ongemaklike ruimtes vassit, maar dit leer hom juis begrippe soos liggaamsgrootte en ruimtelike oriëntering. Later sal hy hierdie basiese konsepte van bo, onder, regs en links nodig kry om te kan lees, skryf en somme doen.”

Wanneer ’n baba kruip, moet hy albei kante van sy liggaam koördineer. “Kruip bevorder dus die ontwikkeling van die linker- en regterbrein, asook die verbintenis tussen die twee breinhelftes,” sê Leny. Laasgenoemde is noodsaaklik vir die latere koördinasie van sy liggaamsdele om dinge te kan doen soos touspring.

Dis waarom ontwikkelingskundiges verkies dat jou baba handeviervoet kruip eerder as om te seil of op sy boudjies rond te skuifel. “Ander bewegingsmetodes help baba wel om sy omgewing te verken en by plekke uit te kom, maar dit het nie al die ontwikkelingsvoordele van kruip nie,” sê Leny.

Help! My kind wil nie kruip nie

Studies toon dat meer en meer kinders later begin kruip, of sommer die kruipstadium oorslaan en begin loop sonder dat hulle ooit gekruip het. Een van die hoofredes hiervoor is die uitwerking van die rugslaap-veldtog wat die afgelope meer as ’n dekade teen wiegiedood ingespan word.

Dié veldtog moedig ma’s aan om babas op hul ruggies te laat slaap, maar een van die gevolge is dat al hoe meer ma’s belangrike magie-tyd heeltemal vermy, ook wanneer baba wakker is.

Die gevolg is dat babas dit so geniet om op hul ruggies te lê dat hulle belangstelling verloor in omrol en kruip.

Twee studies toon egter dat kinders nie ’n agterstand het indien hulle laat begin kruip (of glad kruip nie).

Die Amerikaanse pediater Beth Ellen Davis se studie, wat in 1998 in die mediese joernaal Pediatrics verskyn het, toon dat kinders wat nooit kruip nie, op dieselfde tyd begin loop as hul kruipende portuurgroep. In haar studie het babas wat op hul ruggies slaap, teen ongeveer 9 maande begin kruip, maar ’n derde van hulle het nooit gekruip nie. Tog het die rug-slapers en die magie-slapers teen ongeveer dieselfde tyd begin loop; rondom hul eerste verjaardag.

’n Studie deur die Brit dr. Peter Fleming wat dieselfde jaar in Pediatrics verskyn het, het gekyk na die langtermyn-uitwerking van die rugslaap-veldtog in Brittanje. Sy studie toon dat babas sedert die begin van die veldtog al hoe later begin omrol en kruip het en dat meer en meer babas nooit kruip nie. Teen 18 maande was daar egter geen verskil tussen die ontwikkelingsmylpale van die rug- en magie-slapers nie.

Leny sê die komponente van kruip is eintlik belangriker as die eintlike kruipaksie. Dit sluit in voldoende beheer oor die koppie, sterk genoeg skouertjies, heupstabiliteit, rompbeheer, romprotasie en die vermoë om van die sitposisie in die kruipposisie oor te gaan en dan weer te sit.

Die bekende kinderskrywer Suster Lilian skryf in haar boek Babasorg dat selfs wanneer jou baba die kruip-stadium heeltemal oorslaan, kruipspeletjies (soos om hande-viervoet diere na te boots) steeds aangemoedig kan word om die kruipvaardighede vas te lê.

Dié babas word die eerste jaar net gedra

Die Amerikaanse biokulturele antropoloog dr. David Tracer glo dat mylpale in kinderontwikkeling van kultuur tot kultuur verskil. Sy studie van die Au-stam in Papoe-Nieu-Guinee het aanvanklik gefokus op die verhouding tussen ma’s en hul kinders, maar tydens sy veldstudies het hy opgemerk dat die babas nie kruip nie.

Vir die eerste jaar van hul lewe word die babas ongeveer 86% van die tyd deur ouer kinders of hul ouers rondgedra. Wanneer die kinders wel neergesit word, is dit meestal in ’n sittende posisie en sal hulle dus eerder op hul sitvlak rondskuifel as om te kruip. Tog begin die kinders almal mettertyd loop.

Volgens David is daar ’n praktiese rede waarom die Au-babas nie kruip nie: As hulle rondgedra word, word hulle beskerm teen allerlei parasiete wat kan lei tot siektes soos diarree.

Hy meen die klem op kruip is ’n taamlik nuwe ding wat twee eeue gelede begin het toe houtvloere en tapyte grondvloere begin vervang het. In primitiewe kulture, soos die Au, is grondvloere egter nog die norm.

Wat jy kan doen om te help

  • Haal baba uit die Jolly Jumper en loopring en plaas hom eerder op sy magie op die vloer.
  • Magie-tyd is baie belangrik en versterk die nodige nek-, rug- en skouerspiere wat nodig is vir kruip.
  • Sit ’n interessante speelding soos ’n spieël of ratel binne reikafstand van baba neer. Hopelik sal hy sy gewig na sy arms verplaas om dit in die hande te probeer kry.
  • Jou baba is gewoonlik gefassineer deur jou. Laat hom op sy magie op die bed lê terwyl jy voor hom op die vloer sit en hom vermaak.
  • Moedig baba aan om op sy eie te ontdek in ’n veilige omgewing.
  • Laat baba oor ’n roller-speelding lê (die opblaas-tipe werk lekker) om sy rugspiere te versterk.
  • Gaan lê voor jou baba op die grond. Lag en gesels met hom en moedig hom aan om sy koppie en bolyf te lig.
  • As jou baba nie daarvan hou om op sy magie te lê nie, plaas ’n opgerolde handdoek onder sy borsie vir ekstra ondersteuning.

Beveilig jou huis

As baba eers begin beweeg, moet jy met vars oë na jou huis kyk om seker te maak dis veilig. Gaan af tot jou baba se kruiphoogte en bekyk die wêreld van daar af. Jy sal verbaas wees hoeveel gevare jou huis inhou.

  • Pas op vir die plante in en om jou huis. Die volgende plante is giftig vir klein mensies: Asaleas (Rhododendron indicum), boslelies (Clivia), krismisrose (Hydrangea macrophylla), maanblomme (Brugmansia candida) en maagdeblomme (Catharanthus roseus).
  • Sit ’n hekkie voor trappe of sluit deure wat na trappe of ’n kelder lei.
  • Belê in ’n stewige skerm vir jou kaggel en hou jou kaggel skoon – dis ’n gunsteling-speelplek vir woelige kleintjies.
  • Oppas vir boekrakke wat kan omval as jou baba daarteen opstaan.
  • Skuif skoonmaakmiddels na ’n hoër kas of sorg dat die kas kan sluit.
  • Pak jou breekware vir eers weg waar klein handjies dit nie gaan bykom nie.
  • Oppas vir pille in jou bedkassie. En vra ouma en oupa om hul medisyne ook in ’n kas weg te sluit.
  • Skuif swaar meubels voor elektriese proppe of maak hulle toe met veiligheidskermpies.
  • Sit skuimrubberskerms op die hoeke van lae tafels. En verwyder vir eers glasblaaie van lae tafels.
  • Sluit jou drankkabinet.
  • Wees altyd op die uitkyk na klein voorwerpe wat rondlê en waaraan jou baba kan verstik, veral as daar ouer kinders in die huis is.
  • Onthou, geen veiligheidsmaatreël is so doeltreffend soos om die hele tyd ’n ogie oor jou baba te hou nie.
 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 3 comments

Tina Schoeman

My kleinkind is nou 14 maande oud, het nou begin loop. wanneer ek haar vashou kan ek duidelik voel en hoor hoe haar linker knie ( knak). Ek wonder net of iemand vir my kan se hoekom dit kan wees.
Posted on Sun, Sep 23rd 2012, 19:12

Andrea

My baby is 15 months and still not crowling or walking. He can sit straight up and walking on his bum and turn around on his bum ext but it is starting to worry me because he dont want to walk or pull him up on the couch or coffee table. When I took his hands in mine he starts bending his legs and give small steps forward. Do you maybe have any advice for me or what exercise I can do with him. He can stand straight up, his legs are very strong but still worrying a lot.
Posted on Wed, Oct 26th 2011, 13:33

Hannelie

HI My baba seuntjie is nou 9 amper 10mnd oud. Hy het nou begin kruip maar hy hou sy regter beentjie effens gevou onder hom. Dis kruip hy nie op sy hande en kniee nie.Gaan dit beter word en hoe kan ek hom help om reg te kruip?
Posted on Fri, Sep 23rd 2011, 08:19