Breastfeeding

Borsvoeding: Wat is waar en wat is raar?

Jy moet wegbly van kerrie en kruie terwyl jy borsvoed . . . Borsvoeding is eintlik net in baba se eerste maande van waarde . . . Borsbabas word uiteindelik vet babas . . . Gereelde borsvoeding tas Ma se gemoed aan. . . . O nè? Ma’s borsvoed hul babas al millenniums lank, maar die mites daaroor loop steeds dik. Ons slaan die gewildste wolhaarstories die nek in en onthul ook ’n paar verrassende feite . . .

SHARE

 
 
 
 

Die borsvoeding mites:


As jy borsvoed, moet jy uie, knoffel en sterk kerrie vermy

Vroue in Indië hou nie op om kerrie te eet wanneer hul borsvoed nie en jy hoef dit ook nie te doen nie. Net soos met jou swangerskap moet jy ’n gesonde en gebalanseerde dieet volg terwyl jy borsvoed. Hou egter die volgende in gedagte:

  • Die enigste kos wat jy werklik moet vermy, is groot roofvisse (by ons is dit veral vars tuna, maar ander soorte sluit in swaardvis, marlyn en haai) wat ’n baie hoë kwik-inhoud kan hê. Een porsie geblikte tuna ’n week is goed, maar moenie sommer ’n groot tunafilet eet nie.
  • Wees bedag op enige voedsel-allergieë in jou familie. Volgens suster Bonita Jones van die Well Baby-kliniek in Kaapstad kan sekere proteïne soos dié in grondboontjies deur borsmelk na jou baba oorgedra word.
  • Beperk jou alkohol-inname. Die bekende internasionale borsvoedingsorganisasie La Leche League reken een drankie of minder per dag is veilig. Alkohol word in jou melk opgeneem en is die sterkste teenwoordig 30 tot 60 minute nadat dit gedrink is, of 60 tot 90 minute indien dit saam met kos ingeneem is.


MIV-positiewe ma’s moenie borsvoed nie

Daar is ’n gevaar dat ’n ma wat MIV-positief is, die virus deur haar borsmelk aan haar baba kan oordra. ’n Mens kan egter die virus in jou borsmelk neutraliseer deur die melk uit te pomp en met hitte te behandel – dit word tuis-pasteurisasie genoem.

Volgens suster Linda Glynn van die Mowbray-kraamhospitaal in Kaapstad volg hulle ’n goedkoop en maklike proses wat deur die Universiteit van Pretoria ontwikkel is: Die melk word uitgepomp in ’n grondboontjiebotter-houer (ja, jy het reg gelees!) en dié word dan vir ’n halfuur in ’n kastrol kookwater staangemaak.

Gereelde borsvoeding kan lei tot nageboorte-depressie

’n Studie deur Jill Astbury van die Universiteit van Melbourne in Australië het gevind dat die teendeel waar is: Die voorkoms van nageboorte-depressie is laer by vroue wat hul babas geborsvoed het.
Volgens dié studie, wat in die boek Missing Voices: The Experience of Motherhood aangehaal word, lei gereelde borsvoeding dus nie tot depressie nie en kan dit trouens die voorkoms van nageboorte-depressie verlaag of die impak daarvan verminder.

Borsvoeding kan later vetsug veroorsaak

Ook hier wys studies presies die teenoorgestelde: Borsvoeding kan voorkom dat kinders later vet word. Volgens navorsing wat vyf jaar gelede in die vooraanstaande mediese joernaal The Lancet verskyn het, is die risiko vir vetsug 28 persent laer wanneer ’n kind geborsvoed is as wanneer sy formulemelk gedrink het. Dit beteken nie dat bottelbabas vet word nie, bloot dat borsvoeding een van dié dinge is wat die gevaar van toekomstige vetsug kan laat afneem.


. . . EN DIE FEITE


Borsmelk pas perfek aan by die behoeftes van jou baba

Jou baba hoef vir die eerste ses maande slegs borsmelk te kry, sê Bonita. Selfs wanneer jy met vaste kos begin, bly borsmelk steeds ’n belangrike bron van voedingstowwe. Dit duur sowat twee tot ses jaar voor jou kind se immuunstelsel ten volle ontwikkel is, en borsmelk gee haar immuniteit ’n hupstoot solank as wat sy dit drink. ’n Baba se liggaam absorbeer die voedingstowwe in borsmelk baie goed sodat minder daarvan in haar urine en stoelgang uitgeskei word. Dit verduidelik dalk waarom borsmelk-babas se vuil doeke minder sleg ruik as hul formule-maats s’n !

’n Ma het selfs tydens ’n hongersnood genoeg melk vir haar baba

’n Baie klein persentasie vroue sukkel met melkproduksie, maar eintlik is dit hoogs onwaarskynlik dat jy nie genoeg melk vir jou baba sal hê nie. Vroue kan dan selfs in tye van hongersnood hul babas borsvoed, sê Bonita. “Die geheim van suksesvolle melkproduksie is dat jy gereeld en eksklusief moet borsvoed.”

Bonita sê ’n ma maak dikwels die fout om ’n voeding oor te slaan deur ’n formule-bottel te gee met die hoop dat sy met die volgende voeding ’n vol bors sal hê.
”Juis die teenoorgestelde gebeur omdat die liggaam nou dink hy moet minder melk maak. Hoe meer melk jy uit die bors neem, hoe meer melk gaan die bors maak.”

Die kans is kleiner dat ’n borsbaba MIV opdoen

’n Studie wat in Maart in The Lancet verskyn het, het die mediese wêreld gaande: As MIV-positiewe ma’s vir die eerste ses maande eksklusief borsvoed, kan die lewe van amper 300 000 babas in Afrika gered word.

In dié studie, wat aan die Universiteit van KwaZulu-Natal onder leiding van prof. Hoosen Coovadia gedoen is, is gevind dat daar ’n risiko van 4 persent is dat babas wat tussen ses weke en ses maande oud eksklusief geborsvoed word, die virus ná geboorte by hul ma kry. Dié gevaar verdubbel wanneer ’n baba benewens borsmelk ook formulemelk of dieremelk te drinke kry.

En babas wat vaste kos saam met borsmelk gekry het se risiko om die virus op te doen, was ’n verstommende elf keer groter.

Borsbabas het minder fiemies
Borsvoeding is die natuurlike volgende stap ná die slukkies vrugwater wat jou baba in die baarmoeder gedrink het. Volgens Rosemary Gauld, ’n internasionaal gesertifiseerde borsvoedingskonsultant van Kaapstad, word sowel vrugwater as borsmelk “gegeur” deur die kos jy eet. Borsmelk proe dus met elke voeding anders en dit maak dit vir baba makliker om later ’n groter verskeidenheid vaste (en hopelik gesonde) kosse te geniet.

Borsvoeding sorg vir gesonder babas (en ma’s)
Wanneer jy borsvoed, dra jy jou eie teenliggaampies aan jou baba oor. Dit help om die voorkoms van onder meer oorinfeksies, diarree en longinfeksies te verminder. Borsvoeding kan jou baba ook teen allergieë, asma, diabetes, vetsug en wiegiedood beskerm! Vir ma’s verminder borsvoeding die risiko vir baarmoeder- en borskanker, dit help jou om ná die geboorte gewig af te skud en dit verlaag die voorkoms van osteoporose.

Ek sien die toekoms en daar is seks . . .
Terwyl jy borsvoed, stel jou liggaam oksitosien vry – dieselfde “lekkervoel”-hormoon wat tydens seks vrygestel word. En terwyl ons nou hieroor praat . . . Altesame 40,5 persent van mense wat deelgeneem het aan ’n studie wat in 2000 in die Journal of Midwifery and Women’s Health verskyn het, het gesê dat hulle al seksueel geprikkel gevoel het terwyl hulle hul baba borsvoed. Dis goeie nuus dat jy darem steeds ’n seksuele wese is, al ervaar jy nie op die oomblik witwarm seks in die slaapkamer nie!


En dié mites is sommer verspot verby!

•    Borsvoeding laat jou hare uitval.
•    Baba-aknee is die gevolg van “suur” borsmelk.
•    Ma’s moenie borsvoed wanneer hulle ongelukkig of in ’n swak bui is nie.
•    ’n Mens kan kaas maak van borsmelk.
•    Jy kan nie swanger raak terwyl jy borsvoed nie.
•    Gereelde voedings gaan jou baba bederf.
•    Vroue met rooi hare of baie ligte velle kan nie borsvoed nie.

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 7 comments

Wendy

Ek borsvoed my seuntjie nou al vir 18maande en hy was nog nooit op antibiotika's ens nie. Raak bietjie siek maar niks ernstig nie! Ek het streng gekyk waarna ek eet net vir die eerste 3 maande omdat hulle magies nog sensitief is. Maar as ek lus was vir sjokelade het ek so 4 blokkies geeet anderste crave mens dit en dit kan jou laat 'n hele slab sjokkelade later wil verslind - hehe.. Ek het net baie gesond geeet. En let wel ook baie baie geeet. Glo my jy sal nie gewig optel nie! Ek het drie groot etes geeet 'n dag en gepeusel aan gesonde kos tussen-in en op aanvraag geborsvoed. Ek kan nogsteeds n nasie voed so baie melk het ek! En ek was nog nooit so maer soos nou nie! Sterkte!
Posted on Tue, Jul 9th 2013, 15:42

Natasha Kotze

Ek het my baba tot op 4 maande eksklusief geborsvoed en het op 5 maande opgehou - al sou ek verkies het om aan te hou met borsvoed. Ek het gevind dat, gee nie om wat ek eet nie, sy het krampe gekry en sy was koliekerig elke aand. Vir die krampe het ek gelees moet jy probeer kosse wat gas by jou sal veroorsaak verminder. Dus moenie te veel uie, kool, en sulke klas van kos eet nie. Dit het gehelp en die krampe en koliek (wat deur oorstimulasie veroorsaak word, en vererger wanneer baba krampe het) het baie verminder.
Posted on Tue, Jul 9th 2013, 15:23

Cecilia du Plessis

Hi ons kleinseun is 4 maande oud ....watse vastekosse kan ons mee begin sy allergie telling is baie hoog...
Posted on Fri, Mar 29th 2013, 10:33

Beverly

Aan al die nuwe mammas wat hulp kom soek hier. Ek was net so bang oor die borsvoeding, en het vele dokters, susters en vriendinne gevra wat borsvoes, wat mag en mag ek nie doen of eet nie. Die gevolg trekke was, nie veel van wat jy eet word oorgedra in die melk nie. Eet n goeie maaltyd en drink baie vloeistof. Caffeine, kan bab wakker hou en rooi peper kan oor dra in die melk. verder is dit maar eenvoudig. Volg jou "gut" ek was na 7 weke al moeg geworry en het elke week my diet verander want die mamma se geen sjokelade, daai een se geen uie en garlic, ens ens ens. Op die ou end was dit niks wat ek geeet het nie, maar wel sproei wat my kind maag krampies gegee het. En dit was sommer binne 2 dae uit gesorteer. En moenie bekommer oor te min melk nie. Daar is GEEN sap of kos wat bewys is om meer melk te maak nie, glo my ek het al oorals gaan navorsing oplees. Die belangrikste is, hou jou borste so leeg as moontlik. Pomp alles uit wat baba nie drink nie. Jy kan dit vries vir tot 3 maande, so vir werkende mammas kan jy dit bere tot jy weer werk, of skenk dit vit n hospitaal vir prem babas. Ekt dit al reg gekry om tot met 3 ekstra voedings n dag te vries en my kind is perd vris en gesond. Klein tip, jou eerste melk wat uitkom lyk baie waterig, dit les jou kind se dors, later kom die romerige melk uit, so houin gedagte dat jy nie net die room melk uit pomp en jou kind kry net die "front milk" nie, dis die laaste melk wat voedsaamste is. Amper alla mammas kan borsvoed, voed jou kind wanneer hy/sy honger is, en vir solank as wat hulle wil, elke kind verskil, maw, voed op aanvraag en nie tyd nie, baie hospitale se voed eers net 15min aan elke kant en dis vol doende. Snert!!!!!!! Elke kind weeg nie dieselfde nie, drink nie teen die selfde spoed nie en eet nie die selfde nie. Hou net aan probeer, wees rustig, hoe dink jy het vrouens in die 18de eeu en vroer hulle babas groot gekry?
Posted on Sat, Dec 1st 2012, 18:24

Marianne

Hallo. my dogtertjie is nou 2weke oud en ek borsvoed. ek wil asb weet of daar enige kosse is wat ek moet vermy om maagkrampe te veroorsaak. Daar is so baie dinge wat mense al vir my gese het ek mag nie eet nie maar dan is daar amper niks wat ek mag eet nie. Kan julle my asb raad gee. Sy sukkel van gister af met maagkrampies weet nie of dit iets kan wees wat ek geeet het nie. Dankie
Posted on Wed, May 9th 2012, 11:50

Anna-Marie

Hi my dogtertjie is vandag 3weke oud. Ek wil net graag weet wat mag ek eet en wat kan help dat my borsmelk voedsaam is, wil nie he sy moet honger lui nie. Daar is soveel dinge wat mense vir my se wat ek mag en nie mag eet nie eks al so deur mekaar, so nou is ek te bang om enige iets te eet wat haar sal omkrap of haar maag krampe gaan gee. Asb is daar iemand wat my kan help.
Posted on Wed, Jan 11th 2012, 09:53

chantel

Hi daar Ek is nou 11 weke swanger met my tweede kind. Ek is opsoek na 'n eetplan om te volg sodat ek my baba sal kan borsvoed sonder dat my melk te min of nie voedend sal wees nie asb.
Posted on Wed, Aug 10th 2011, 12:36
Mom to Mom Feed
Poll

What do you feel the guiltiest about as mom?

I feel I don't spend enough quality time with my kids.
I shout at them.
I don't listen to them attentively and am always distracted.
I probably should have breastfed them for longer.
I'm not able to give them more material things.
I'm not organised with scrap books and albums and memory boxes.
My kids are overweight.
My kids watch too much TV.
I feel guilty for sometimes wishing I could just go away and be by myself.
Someone else is looking after my kids while I work.
I don't feel guilty!