Gee jou kind yster

Wat is die waarheid oor yster en hoekom is dit so belangrik, veral vir dié onder twee?

SHARE

 
Gee jou kind yster
 
 
 
 

Sowat 40 persent van die wêreldbevolking ly aan ’n ystertekort, wat dit die algemeenste voedingstoftekort in die wêreld maak. Bloedarmoede (anemie) tas 42 persent van kinders onder vyf jaar in ontwikkelende lande en 17 persent van kinders in ontwikkelde lande aan, en ’n ystertekort is meestal deel van die oorsaak.

Ystertekort-anemie ontwikkel ná ’n lang tydperk van ystertekort en beteken dat te min rooibloedselle gevorm word. Dié selle is boonop klein en bevat te min hemoglobien. Die gevolg is dat die bloed nie
in staat is om suurstof doeltreffend na die liggaamselle te dra nie.

Die uitwerking van ’n ystertekort op jong kinders is ernstig en kan jare lank duur. Daarom is dit belangrik om dit met die regte dieet te voorkom.

HOEKOM HET ONS YSTER NODIG?

Yster is ’n belangrike bestanddeel van hemoglobien, die proteïen in rooibloedselle wat suurstof en koolstofdioksied na en van liggaamselle dra. Yster speel ook ’n belangrike rol in spierfunksie, immuunfunksie en die werking van verskeie belangrike ensieme.

Die heel belangrikste rol wat yster by babas en jong kinders speel, is om te help met die ontwikkeling en werking van die brein. Die eerste sowat twee jaar is ’n kritieke tydperk vir breinontwikkelling en dis dus baie belangrik dat jou kind in veral hierdie tyd genoeg yster inkry. In sommige lewensfases verhoog mens se bloedvolume vinnig. Dit gebeur met babas, tieners en swanger vroue. Dan het ons meer yster nodig.

Sowat 90 persent van yster in die liggaam word elke dag herverbruik. Die 10 persent wat uitgeskei
word, moet deur die dieet vervang word. Meer is egter nie altyd beter nie: Te veel yster kan inmeng met babas en kinders se koper- en sinkabsorpsie en daarom moet ysteraanvullings nie gegee word tensy dit werklik nodig is nie.

YSTERTEKORT

Wat veroorsaak ’n ystertekort?

Sondaars sluit in ’n ongebalanseerde dieet, swak absorpsie en bloedverlies as gevolg van haakwurm of menstruasie. As jou ysterbehoefte verhoog – soos met babas en peuters gebeur – kan jy ook ’n ystertekort opdoen as jy nie genoeg ysterryke kos inneem nie.

Hoe weet jy jou kleuter het dalk te min yster?

Soos met enige voedingstekort verskyn simptome gewoonlik eers wanneer die probleem al taamlik ernstig is. As jou kind aanhoudend moeg of swak is, ’n bleek vel het, maklik siek word en die binnekant
van haar ooglede is ligpienk pleks van rooi, het sy heel moontlik ’n ystertekort.

Ander simptome kan insluit ’n swak eetlus, swak konsentrasie, vertraagde mylpale en ontsteking van die tong of mond. Jou baba kan meer huilerig en minder oplettend wees. Sowat 50 persent van mense met ’n ystertekort het simptome van pika, oftewel vreemde eetdrange. Hulle word lus vir goed wat nie kos is nie, veral ys, klei of stysel.

As jy agterkom jou kind het enige van hierdie simptome, moet julle dokter toe gaan. Die arts sal bloedtoetse doen om vas te stel hoe ernstig die ystertekort is. Onthou egter dat die uitslag van sulke toetse dalk verdraai kan word as jou kind siek of kort tevore geïmmuniseer is.

Wat kan gebeur as dit nie behandel word nie?

’n Matige tekort aan yster sal nie afwykings veroorsaak nie, maar as dit nie opgespoor en behandel word nie, sal die hoeveelheid yster in die liggaam stelselmatig minder word en ystertekort-anemie
sal ontwikkel.

Ystertekort-anemie is die ernstigste graad van ystertekort. As jou kind dit het, sal die dele van sy liggaam wat yster nodig het, nie behoorlik kan werk nie. Sy brein en motoriese ontwikkeling sal ál meer benadeel word namate die ysterkort vererger. Vroeë anemie kan moontlik selfs aanleiding gee tot verstandelike gestremdheid by jong kinders.

Hoe word dit behandel?

  • Nadat die graad van die tekort vasgestel is, is die volgende stap om die oorsaak te bepaal en reg te stel. Jou dokter sal waarskynlik ’n ysteraanvulling voorskryf en dan gereeld vordering monitor.
  • Dieetbehandeling is belangrik omdat dit sal sorg dat jou kind genoeg yster inkry nadat hy die aanvullings gestaak het.
  • Raadpleeg ’n dieetkundige om jou te help om elke dag vir jou kind kosse te gee wat ryk is aan yster en om maaltye so saam te stel dat ysterabsorpsie optimaal is.

WAAR KRY ’N MENS YSTER?

Daar kom twee soorte yster in kos voor. Heemyster is in vleis, vis en pluimvee, en nie-heemyster in kos soos eiers, graan, groente en vrugte asook in klein hoeveelhede in vleis, vis en pluimvee.
Die beste voedselbron van yster is lewer.

Ander goeie bronne van heemyster sluit in oesters, seekos, niertjies, hart, maer beesvleis, skaapvleis, varkvleis, pluimvee en vis. Die beste plantbronne is droëbone en -ertjies en groen blaargroente.

Ander kosse met nie-heemyster sluit in eiergeel, droëvrugte, donker melasse, volgrane,
verrykte ontbytgraan en -brood en neute. Ysterpotte en selfs vlekvryestaalpotte kan ook bydra tot ysterinname!

Dis baie belangrik om nie net te kyk na die hoeveelheid yster in ’n kossoort nie, maar ook na die biobeskikbaarheid daarvan. Net 50 persent of minder van die yster in volgrane en party groen blaargroente is in bruikbare vorm, en hiervan word omtrent net 7 persent geabsorbeer. Spinasie het meer yster as maalvleis, maar drie keer meer yster word uit maalvleis geabsorbeer, wat maalvleis ’n beter bron maak.

Absorpsie van yster

Van die yster wat deur die dieet ingeneem word, word gemiddeld net 10 persent geabsorbeer. Faktore wat ysterabsorpsie beïnvloed het die grootste uitwerking op nie-heemyster. Heemyster se absorpsie is
taamlik konstant. Die vorm van yster is die eerste faktor wat absorpsie beïnvloed. Net 5 tot 10 persent van nie-heemyster in eier, graan, groente en vrugte word geabsorbeer terwyl sowat 25 persent van heemyster in dierprodukte geabsorbeer word.

Absorpsie word ook bepaal deur die kos waarin die yster voorkom. Sowat 50 persent van die yster in borsmelk word geabsorbeer, terwyl net 4 persent yster uit ysterverrykte formulemelk en 10 persent
uit koeimelk geabsorbeer word.

Sommige kosse bevat stowwe wat absorpsie verhoog, soos vitamien C, en ander wat dit verlaag. Oksallate in spinasie en beet, fi tate in volgrane, sade en soja en fosvitien in eiergeel verlaag absorpsie van yster in hierdie kosse. Ander faktore wat ysterabsorpsie kan verlaag is oormatige veselinname, sekere antibiotika soos tetrasikliene, en die tannien in tee, koffie en kakao. Dit kan ysterabsorpsie met tot 50 persent kan verlaag, veral wanneer dit saam met maaltye gedrink word.

Dierproteïene soos dié van bees, vark, skaap, lewer, vis en pluimvee verhoog weer absorpsie van nie-heemyster; dit staan bekend as die vleisfaktor. Organiese suur soos sitroensuur in sitrusvrugte en
gefermenteerde produkte soos jogurt en karringmelk het dieselfde uitwerking.

Maagsuur verhoog ysterabsorpsie en daarom verlaag teensuurmiddels ysterabsorpsie. Babas wat dus refluksmedikasie drink, sal yster nie so goed kan absorbeer nie. Chroniese diarree kan ook ysterabsorpsie belemmer.

Ons liggaam het die vermoë om aan te pas en ysterabsorpsie te verhoog wanneer meer yster nodig is. Sowat 5 tot 15 persent van yster in kos en aanvullings word geabsorbeer deur mense met ’n normale
hemoglobien. In iemand met ystertekortanemie word gemiddeld 20 tot 30 persent geabsorbeer maar dit kan selfs tot 50 persent wees.

Wanneer maaltye beplan word, is dit belangrik om dierproteïene by minstens twee maaltye in te sluit en ’n vitamien C-ryke kossoort met elke ete. Tee en koffie moet beperk word en nie saam met maaltye
gegee word nie.

Wat moet vegetariërs doen?

Omdat minder as 10 persent van nieheemyster geabsorbeer word, is dit belangrik dat vegetariërs genoeg plantvoedsel eet wat hoog in yster is, soos peulgroente, droëvrugte en sojaprodukte. Baie van dié kosse bevat egter fitate en oksallate, wat ysterabsorpsie verlaag.

Vegetariërs neem gewoonlik meer vitamien C ook in, maar maaltye moet steeds sorgvuldig beplan word. As jy jou kind vegetaries wil grootmaak, is dit ’n goeie plan om ’n dieetkundige te raadpleeg wat kan help met maaltydbeplanning om te verseker dat sy elke dag genoeg yster inkry.

YSTERAANVULLINGS

Ysteraanvullings moet net vir die voorkoming van ’n ystertekort ingespan word as jou baba nog nie eet nie en ’n hoë risiko vir ’n ystertekort het. Voltermynbabas met ’n normale geboortegewig wat ses maande lank eksklusief geborsvoed word, het ’n baie klein kans om ’n ystertekort te ontwikkel en het daarom nie aanvullings nodig nie.

Vroeggebore babas of babas met ’n lae geboortegewig loop egter ’n groter gevaar en kan van twee tot drie maande oud af aanvullings nodig hê. Babas onder ses maande se vermoë om ysterabsorpsie te reguleer is onontwikkel en ysteraanvullings meng in met die immunologiese eienskappe van borsmelk.

Jou borsbaba moet daarom net ’n ysteraanvulling kry as die dokter dit voorgeskryf het. Jong kinders moet liewer ysterverrykte formulemelk drink en ysterverrykte pap eet as om aanvullings te drink.

Swanger vroue het ’n baie hoë risiko vir ystertekort en daarom word hulle aangeraai om in die tweede en derde trimester ’n aanvulling te drink. Alle multivitamiene vir swanger vroue bevat yster.

Ysteraanvullings is wel altyd nodig om ’n ystertekort te behandel. Daar is ’n wye verskeidenheid op die mark. Ystersulfaat en ysterglukonaat word die beste geabsorbeer. Die absorpsie van stadigvrystellende
ysteraanvullings kan swakker wees omdat dit verby die deel van die dunderm beweeg waar dit die beste geabsorbeer word.

Gecheleerde yster is gebind aan aminosure wat die absorpsie verbeter en ook minder newe-effekte veroorsaak. Die newe-effekte wat tipies voorkom, is maagpyn, naarheid en braking en hardlywigheid of diarree. Stoelgange sal ook groen of swart en teeragtig wees. Om newe-effekte te verminder, moet die dosis stadig oor ’n paar dae verhoog word tot die volle dosis. Gee dit minstens drie keer per dag in verdeelde dosisse. Hoewel absorpsie beter is tussen maaltye, word newe-effekte verminder as dit saam met maaltye of melk (babas) ingeneem word.

Dis makliker om ’n ystertekort te voorkom as om dit te behandel, veral omdat yster so ’n belangrike rol in breinontwikkeling van babas en jong kinders speel.

Die beste maniere om ’n ystertekort te voorkom, sluit in eksklusiewe borsvoeding vir ses maande en dan ysterryke vaste kos terwyl borsvoeding tot twee jaar oud aanhou. As jou kind nie borsmelk drink
nie, moet hy ysterverrykte formulemelk kry. Koeimelk mag hy eers ná sy eerste verjaardag begin drink.

Goeie bronne van yster:

   Heemyster                                                                     Nie-heemyster

Kos                     

Porsiegrootte    

Ysterinhoud   

Kos                 

Porsiegrootte  

Ysterinhoud   

Borsmelk                                     100 ml 0,02mg - 0,04mg                         Eier                      1                   
1 mg
Beeslewer 2 e 1,8 mg Spinasie 2 e  0,8 mg
Hoenderlewer 1 1,7 mg Kekerertjies 2 e 0,6 mg
Maalvleis 2 e 0,6 mg Gort 2 e 0,5 mg
Skaapvleis 2 e 0,6 mg Beetslaai 2 e 0,4 mg
Hoenderboudjie 1 0,6 mg Rosyne 2 e 0,4 mg
Visvinger 1 0,3 mg Etjies 2 e 0,3 mg

Kosse ryk aan vitamin C

Lemoene, pomelo’s, nartjies, tamaties, broccoli, blomkool, aarbeie, soetrissies, papajas, kiwivrugte,
pynappels, spanspek

Faktore wat ysterabsorpsie verlaag

  • Tannien in tee en koffie
  • Oormatige veselinname
  • Fitate (in semels, peulgroente, sojaprodukte)
  • Oksallate (in rabarber, beet, spinasie, soja)
  • Teensuurmiddels
  • Tetrasiklien (antibiotika)

Superwenk

Die ysterinhoud van babapap verskil baie. Kyk na die voedingsinligting en kies dié met die meeste yster in.

 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 1 comment so far

ina jordaan

Weet van slegs een aanvullings produk wat van egte groete en vrugte vanuit die menslike voedselketting vervaardig word. Yster afgebreek met aminosure om hoogste opname te verseker. Indien jy belangstel email ijgnld@gmail.com Dankie vir baie insiggewende artikel en baie waardevolle inligting.
Posted on Thu, Dec 6th 2012, 13:24