Baby health

Geelsug

Geelsug is baie algemeen onder pasgebore babas. Hier verduidelik ons wat dit is, en hoe dit weggaan.

SHARE

 
Geelsug
 
 
 

Jy’t so uitgesien na jou beeldskone baba, en nou lê hy daar in sy wiegie en lyk meer soos ’n gifappeltjie as ’n bloesende pienk bondeltjie. Troos jou daaraan dat meer as die helfte van alle babas ’n paar dae ná geboorte so ’n gelerige kleur kry. Dit word pasgeborene-geelsug genoem en is gewoonlik nie iets waaroor jy jou hoef te bekommer nie. Dis egter ook nie ’n toestand wat jy mag ignoreer nie...

Wat is geelsug?

Geelsug is ’n geel verkleuring van die vel wat voorkom wanneer daar te veel bilirubien (’n gal-kleurstof) in die bloed is. Onmiddellik ná baba se geboorte begin volwasse rooibloedselle die fetale rooibloedselle vervang. Met die afbreek van die fetale rooibloedselle word bilirubien geproduseer.

Gewoonlik ruim die lewer die bilirubien op en dit word dan in ontlasting uitgeskei, maar pasgebore babas se lewer sukkel soms om al die bilirubien te hanteer. Die oortollige bilirubien wat dan in die bloed is, gee baba se vel ’n geel kleur.

Hoe lyk geelsug?

Die baba se vel word gelerig en die wit van sy oë kan ook geel word. Die kleur wissel van ’n baie ligte tot heldergeel. Baba kan soms effens lusteloos wees of swak drink, veral as die geelsug erg is.

Dis soms moeilik om geelsug in ’n baba met ’n donker vel raak te sien.

Wie kry geelsug?

Geelsug slaan gewoonlik uit die bloute op die derde of vierde dag ná geboorte toe. Dis baie algemeen en meer as die helfte van babas – veral vroeggebore babas wie se lewer nog meer onvolwasse is – doen dit op.

Sommige babas is meer vatbaar vir geelsug indien hulle tydens die geboorte erg gekneus is of bloeding onder die vel opgedoen het. Babas wat geborsvoed word, is ook geneig om effens meer bilirubien te hê as bottelbabas, maar dit word as normaal beskou.

Watter soorte geelsug is daar?

  • Fisiologiese geelsug: Dis die mees algemene soort en verdwyn mettertyd wanneer baba se lewer meer volwasse word. Babas met fisiologiese geelsug se urine en stoelgang behou gewoonlik hul normale kleur.
  • Patologiese geelsug: Dit is ernstiger kom voor wanneer daar so baie bilirubien in baba se bloed is dat dit skade kan aanrig. Patologiese geelsug is baie meer seldsaam as fisiologiese geelsug en kan ontstaan wanneer ma en baba se bloed onversoenbaar is of wanneer baba ’n lewerprobleem het. Babas met ’n lewersiekte of -infeksie se urine kan baie donker wees en hul stoelgang vaal en selfs wit.

Hoe lank duur dit?

Fisiologiese geelsug begin gewoonlik ná sowat vyf dae afneem en verdwyn dan ’n paar dae later. Borsbabas kan dalk vir ’n paar weke effens geel bly, maar dit is skadeloos.

Hoe gevaarlik is geelsug?

Fisiologiese geelsug is selde ernstig en verdwyn gewoonlik vanself namate baba se lewer meer volwasse raak.

Patologiese geelsug is minder goeie nuus omdat te veel bilirubien in die bloed breinskade kan veroorsaak. In baie ernstige gevalle kan baba konvulsies kry en in uiterste gevalle kan onbehandelde geelsug tot doofheid, serebrale gestremdheid en/of verstandelike vertraging lei.

Hoe word geelsug behandel?

Fisiologiese geelsug moet meestal net dopgehou word en geen behandeling is nodig nie. Wanneer die bilirubien te veel word, kan baba onder ’n helder blou lig behandel word. Dit word fototerapie genoem en breek die bilirubien in die vel af sodat dit in die gal uitgeskei word sonder dat die lewer dit eers hoef te verwerk.

Behandeling vir patologiese geelsug sluit in fototerapie en soms ’n bloedoortapping waardeur al baba se bilirubien-ryke bloed verwyder en deur normale bloed vervang word. Soms is chirurgie nodig.

Wanneer moet ek bekommerd wees?

In verreweg die meeste gevalle hoef ’n mens jou nie oor geelsug te bekommer nie. As baba net effens geel is, moet jy hom net mooi dophou. As hy egter baie geel is, baie lusteloos voorkom of nie goed lyk nie – of as sy urine donker is en sy stoelgang vaal – moet julle dadelik by ’n dokter uitkom. As jy nie seker is nie, gaan liewer dokter toe.

• Baie dankie aan dr. Ettiene Malan, ’n pediater van Sandton in Gauteng, vir sy hulp met dié artikel.

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 9 comments

Gert

Hi ek wil weet, my baba het op 3 dae oud geelsig begin kry, ons het baba ini son lig gesit maar die ogies bly nog redelik geel, wat kan ek doen?
Posted on Wed, Sep 24th 2014, 09:09

Santel

Jy kan baba 10 min in oggend en weer in middag in direkte sonlig sit vir ligte geelsig. Midwives se read, het gewerk vir ons
Posted on Mon, Mar 3rd 2014, 19:05

Elize Jacobs

Die foto-optiese bilirubien kombers weet niemand van in Bfn. Waar kan ek so iets aankoop asb. My kleinkind is amper 4 weke oud,word geborsvoed, is rustig, drink goed maar sy ogies bly redelik geel. Sal kombers help en waarom is dit nie beskikbaar sodat mammas dit maklik tuis kan bekom en gebruik nie?
Posted on Mon, Feb 17th 2014, 10:10

joey

hi.my vriendin se baba is nou n maand en 2 dae oud.hy het 3 dae na geboorte geelsug gekry,di geel in sy gesiggie is party x erg,ander dae weg,maar sy ogies bly permanent geel.met tye het hy koors.darm nog ni 38 gewees nie.is da enigsins dat ons bekommerd moet wees.asb email my asb.bja danki joey
Posted on Sat, Mar 17th 2012, 14:51

Wilma Lombard

Kleintjie is nou 2dae en is biejtie geel, watse raad is daar. Sy ma borsvoed hom, hy is baie rustig slaap baie en drink goed. Enige raad sal baie welkom wees.
Posted on Thu, Oct 13th 2011, 15:03

Alexis Kannemeyer

My baby het geelsug gekry op die 3de dag na geboorte. Ek was by die dokter maar hy se sy is ok als lyk goed. Sy is 6weke en ek borsvoed haar. Haar ogies is so lig geel en neusie ook is dit iets waaroor ek my moet bekommer?
Posted on Fri, Aug 12th 2011, 14:44

aysha

my friends baby geelsug and his eyes is yellow help plz
Posted on Wed, Feb 9th 2011, 13:25

Nelmarie

As 'n ma RH Negatief is en die pa RH positief, beteken dit hulle sal altyd probleem he met kinders wat gebore word of is dit net die 1ste baba wat die probleem met die bloed ondervind. Kan 'n RH negatiewe ma en RH positiewe pa se 3de kind bloed probleme (blou baba) wees. Omrede die ma RH negatief is, beteken dit sy sal met al 3 haar kinders probleme ondervind as hulle almal dieselfde pa sal he?
Posted on Tue, Nov 16th 2010, 14:00

jede forbes

ons het n baba 3dae oud met efe geelsig dankie vir die gerusstelling.
Posted on Sun, Sep 19th 2010, 18:26