Maak refluks jou baba suur?

Maak refluks jou baba suur?
 
 
 

’n Moeilike, skreeuende babatjie wat jou nag ná nag uit die slaap hou, kan maklik jou vreugde oor die nuwe aankomeling knou. In die verlede is sulke babas byna altyd as koliekbabas gediagnoseer, maar deesdae weet pediaters dat refluks dikwels die sondaar is.

Hoe om te weet of dit refluks is of nie

Nuwe ondersoeke maak gelukkig die diagnose van dié pynlike toestand baie makliker sodat ma en baba hulp kan kry. Ons het by dr. André van der Merwe, ’n pediater van Bellville, gaan aanklop met ’n paar vrae.

My baba bring melk op ná  elke voeding. Het hy refluks?

Soos die meeste volwassenes het die meeste babas elke dag refluks. Ons onderskei tussen gastro-esofagiese refluks (Gor) en gastro-esofagiese reflukssiekte (in Engels word dit gastro-oesophageal reflux disease of Gord genoem).

Eersgenoemde beteken dat jou baba af en toe ’n bietjie melk opbring, iets wat van tyd tot tyd met feitlik alle babas gebeur. Dis die onskuldige oorloop van melk by ’n baba wat oorvoed is of waar melk saam met windjies uitkom; daardie bietjie suur melk wat op pa se Sondagpakbaadjie uitgespoeg word. Dis hoogstens ’n paar teelepels vol, of soms ’n bietjie meer as dit met ’n wind of drukking op die magie gepaard gaan.

’n Baba met reflukssiekte, daarenteen, is dikwels ’n ongelukkige baba wat baie huil, sleg slaap en gereeld melk opbring. Die gedurige suur in die slukderm kan later inflammasie veroorsaak wat baie seer kan wees. Dié babas sit gewoonlik nie goed gewig aan nie en kan ook soms lugwegsimptome soos ’n gestik of gehoes ontwikkel, of die sogenaamde gonsborsie (wheezing).

Laasgenoemde is gelukkig seldsaam en kom net voor as die baba se melk tot in sy keel terugvloei. Spreek jou dokter indien jou baba enige van hierdie simptome ontwikkel.

’n Mens moet refluks onderskei van piloriese stenose, waar projektielbraking plaasvind. Dit beteken dat ’n groot volume melk met ’n boog uitspuit. Refluks behels nooit projektielbraking nie. As jou kind in sy eerste 6 weke projektielbraak, moet hy dadelik dokter toe.

Die dokter kan gewoonlik ’n diagnose maak gebaseer op jou baba se simptome. Hy kan ook een van die volgende toetse doen:

  • ’n Bariumsluk: X-strale word geneem terwyl jou baba ’n spesiale vloeistof drink.
  • ’n Melk-skandering: Dit word gedoen as vermoed word dat die melk in jou baba se longe beland omdat dit so hoog opstoot dat dit in die lugpyp vloei.
  • ’n pH-studie: Dit bepaal die suurgraad en graad van refluks.
  • ’n Impedansstudie: Dit werk baie soos die pH-studie, maar gee heelwat meer inligting.
  • ’n Gastroskopie: ’n Buis word deur jou kind se keel afgevoer sodat die chirurg direk in die slukderm en maag kan kyk.

Ek vermoed my baba het refluks. Beteken dit dat hy ’n operasie moet kry of is daar ander behandelingsmoontlikhede?

Behandeling hang af van die graad van refluks.

Die eerste plan is gewoonlik melkverdikking. Produkte wat by formule- of borsmelk gevoeg kan word om dit te verdik, sluit in Gaviscon Infant, Nestargel en Thick & Easy. (Met borsvoeding sal jy jou baba eers aan die een bors voed, hom dan die verdikkingsmiddel gemeng met ’n bietjie melk in die bottel gee, en dan aan die ander bors voed.)

Daar is ook ’n verskeidenheid teenrefluks-melksoorte op die mark soos Novolac AR en Infacare AR, wat dikker is as gewone formulemelk.

Die tweede opsie is gewoonlik medikasie om maaglediging te versnel, soos Motilium, sodat die maaginhoud nie so maklik opstoot nie. En dan is daar ook ’n groep middels beskikbaar wat suurproduksie onderdruk soos Losec of Nexiam. Dit sorg dat die kos wat in baba se slukderm opstoot, nie ongemak veroorsaak nie omdat dit nie so suur is nie en kan slegs deur jou dokter voorgeskryf word.

Jou dokter sal ook medikasie voorskryf om baba se pyn te verlig, wat hopelik sal help dat jy ’n bietjie meer slaap inkry.

Net ’n baie klein persentasie van kinders met reflukssiekte word vir ’n operasie na ’n chirurg verwys met die oog op ’n Nissen-prosedure. Dit beteken dat die boonste deel van die maag om die onderste deel van die slukderm gevou word om terugvloei te voorkom en is ’n laaste uitweg.

My baba bring gedurig melk uit en dit lyk soms of dit ongemak veroorsaak. Wat kan ek tuis doen om dinge vir hom en vir ons ’n bietjie makliker te maak?

Maak eers seker jy oorvoed jou baba nie. Indien jy formulemelk gebruik, bevestig die volume met jou klinieksuster of dokter. As jy borsvoed, probeer vasstel of jy nie dalk te veel melk het nie. Tekens hiervan is dat jou baba aan een bors drink en die ander bors lek baie vinnig, of dat jou baba begin voed, maar dadelik weer los of stik.

Nog ’n manier om vas te stel of jy baba oorvoed, is om hom voor en ná voedings te weeg. So kan jy vasstel presies hoeveel melk baba ingeneem het. Vra jou klinieksuster of naaste borsvoedingskliniek vir hulp hiermee.

As jy te veel melk het, sal dit help as jy jou baba in ’n lêende posisie teen swaartekrag voer. Moenie ophou borsvoed nie; dit bly die beste vir jou baba.

Dis ’n goeie beginsel om jou baba in ’n halfsittende posisie te hou ná ’n voeding. Dis ook belangrik om winde goed uit te vryf – en dis nie altyd maklik nie! Beskou jou baba se magie as ’n ballon waarvan die slukderm die boonste deel is. Jy moet die magie opwaarts vryf om die lug by die boonste deel uit te kry. Soms moet jy maar ’n bietjie druk op die magie uitoefen.

As jou baba refluks het, sal dit vir hom seer en ongemaklik wees en hy sal voel soos iemand met chroniese sooibrand. Dit kan veroorsaak dat hy net kort rukkies slaap. Lig die bokant van sy wiegie effens deur ’n opgevoude handdoek of kussinkie onder die boonste deel van die matras in te druk – dit sal help voorkom dat die kos boontoe stoot.

Bedags kan jy help deur jou baba in ’n sitstoeltjie te plaas sodat hy in ’n meer regop posisie is, of in ’n abba-sakkie voor jou dra. Die warmte sal hom rustiger maak en die posisie sal ook help dat windjies makliker kan uitkom. Hierdie voorsorgmaatreëls sal nie refluks wegneem nie, maar kan dit help verminder.

Die meeste babas (95%) ontgroei refluks tussen nege maande en ’n jaar oud. Hou dus moed en byt vas: Dit kan net beter gaan! 

 Hoe ons dit gedoen het

Michelle Nash van Olivedale, Johannesburg onthou nog goed hoe haar dogtertjie, Hannah (nou reeds vyf) met refluks gesukkel het:

“Sy was ’n moeilike baba en die eerste ses weke van haar lewe wou ons ons hare uit ons kop trek! Sy het ná elke voeding haar ruggie krom getrek en vreeslik geskree. Sy het ook baie opgegooi, en dan nie net ’n paar druppeltjies nie. Ons kon nêrens sonder ’n spoegdoek gaan nie.

“Toe sy ’n maand oud was, het ons by my ma-hulle in Port Elizabeth gaan kuier, want ek kon haar nie meer hanteer nie. Daar het ons haar na ’n pediater geneem wat refluks gediagnoseer het.

Met haar 6-weke-ondersoek het haar eie pediater haar in die hospitaal opgeneem en ’n reeks toetse gedoen. Sy het wel refluks gehad, maar ’n operasie was gelukkig nie nodig nie. Hy het Gaviscon voorgeskryf en sy het om die beurt een bottel ryspap en een bottel melk met Gaviscon gedrink. Later ek het oorgeslaan na ’n anti-refluksformule en dit het baie goed gegaan. Teen ses maande oud het dit baie beter geword en kon ons haar regtig begin geniet.”

 
 
 
Shanda Luyt

Shanda Luyt

Shanda Luyt stap al meer as 10 jaar die pad saam met Baba & Kleuter, eers as  assistent-redakteur en deesdae as vryskutskrywer. Sy is 'n ma van drie en is  passievol daaroor dat alle ouers verdien om ingeligte keuses te kan maak na  gelang van hulle en hul kinders se unieke behoeftes en omstandighede. Sy woon in Humansdorp in die Oos-Kaap.

Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 6 comments

riana

Het Sojamelk enige nadele vir babas. Ek het gehoor dit het baie estrogeen in. Kan jy dal raad gee.
Posted on Wed, Mar 27th 2013, 13:07

Elzette

My baba is nou 6 maande en 3 weke oud. hy is op Lactogen 2 vir omtrent 3 weke, en gooi al vir die laaste week met elke melkvoeding op. Hy gooi n boog op elke keer. Was al hospitaal toe en geen melk vir so 3 dae gedrink nie. Het weer probeer om melk te gee, dit het goed gegaan tot en met so 3 uur die oggend en toe gooi hy weer op, maar dit was stukke (gelyk soos suur melk). Wat kan ek tog doen of gee dat my seuntjie net beter kan word, ek kry hom so jammer as hy so huil en dan opgooi. enige raad asb.
Posted on Thu, Sep 20th 2012, 14:47

Zelda

My baba het refluks. Sy was op infacare. Die pediater het vir my losec voorgeskryf. En ons het haar oor gesit op infacare AR. En dit gaan sommer baie beter.
Posted on Mon, Jul 23rd 2012, 08:54

ANTOANETTE

my baba is nou al 3maande oud hy het vir xtrale gegaan en is bevind dat hy refluks, hy is op losec en so en gebruik die gewone nan, sy spoeg maak babbels en hy het kronies n toe neus > is daar is wat ek kan doen
Posted on Mon, Jul 9th 2012, 15:32

Maraleze

My baba is 9 maande oud en "spoeg" van klein baba af bietjies bietjies melk uit, maar dit is asof dit die afgelope paar weke meer word. Kan dit dalk reflukssiekte wees? Wt kan ek vir hom gee of moet ek maar liewers die dokter gaan sien?
Posted on Wed, Apr 25th 2012, 20:26

Sarifa Williams

Ek sukkel ook geweldig , my baba van 3maande , drink Infacare formule melk , ek probeer hom al oor drie ure voed met 150ml , hy eet nog nie , ek gee hom tussenin so 50 na 100ml water, maar glo my vry hy gooi verskriklik op , ek was nog nie by 'n dokter en hy sukkel met stoelgange hy is nogal baie ongemaklik , ek gee maar behoedmiddel , bascopan , ens. Moet ek maar 'n dokter gaan spreek .
Posted on Mon, Feb 20th 2012, 14:30