Safety

Voorsorg teen vergiftiging

Plante, medisyne, skoonmaakmiddels, insekte, alkohol... selfs vleis kan giftig wees. Hier is jou gids om jou kinders te beskerm teen vergifting.

SHARE

 
Voorsorg teen vergiftiging
 
 
 
 

Wat is vergiftiging?

Wanneer jou baba in kontak kom met ’n gifstof deur dit in te neem, in te asem of deur die vel te absobeer, word daarna verwys as vergiftiging.

Giftige gasse kan ingeasem word, terwyl die vel ander gifstowwe absorbeer wat van plante, plaagdoders of kunsmis kom. Gifstowwe kan ook in die liggaam gespuit word deur middel van insekbyte, bosluise, slange of ander diere.

Vergiftigingsimptome kan binne minute, ure of dae ontwikkel nadat jou baba daaraan blootgestel is. Somtyds is dit nie ernstig nie, maar dit kan ook erg wees of onmiddellike dood beteken.

Babas en klein kinders kan dikwels nie vir jou sê wat hulle ingeneem het nie. Jy sal vir tekens moet soek, soos medisynebottels of -houers wat gestort het. Dink ook terug wat jou baba met haar laaste maaltyd geëet het en of sy alleen gelaat is in die kombuis of tuin.

Hoe om vergiftiging te hanteer

  1. As jy dink jou baba het gif ingekry, bel dadelik ’n gifbeheersentrum (sien hier onder), dokter of noodnommer en volg hul instruksies noukeurig. Indien jou kind bewusteloos is, bel dadelik ’n ambulans. KLIK HIER VIR 'N VOLLEDIGE LYS NOODNOMMERS.
  2. Plaas die kind in die herstelposisie (dit is ’n eerstehulptegniek om ’n obstruksie in die lugweë te voorkom.) Hou jou kind se asemhaling en lewenstekens dop totdat hulp opdaag.
  3. Hou die gif wat jou kind ingeneem het byderhand om aan die paramedici of dokter te wys. Hulle sal ook jou baba se gewig wil weet. Dit is beter om nie die baba te laat probeer opgooi nie. Slegs as ’n dokter dit aanbeveel, kan jy jou kind melk of ander vloeistof gee.
  4. GAS: In geval van gasvergiftiging, verwyder die kind onmiddellik uit die besmette omgewing na vars lug, knoop klere oop en dien KPR toe.
  5. OË: As ’n gifstof in jou baba se gespat het, was dit uit met ’n stroom water.
  6. VEL: Spoel met baie water af as dit op die vel gekom het.
  7. BY: As ’n by jou kind gesteek het, verwyder die angel en was die area met warm, seperige water voordat jy ’n yspak toedien. Indien die kind moeilik asemhaal, kry onmiddellik mediese hulp.

Gifinformasie sentrums:

Skakel die gifbeheersentrum onmiddelik en doen presies wat hulle sê.

Gauteng

  • Unitas (tolvry) 0800 111 229

Western Cape

  • Red Cross Children's Hospital: 021 658 5428/ 021 689 5227; www.redcross.org.za
  • Tygerberg Hospitaal: 021 931 6129

Kwazulu-Natal

  • Saint Augustine's Hospitaal Durban (tolvry): 0800 333 444

Orange Free State

  • Universities (Poison Centre): 051 401 3111

Soorte vergiftiging

Chemiese vergiftiging:

Daar is baie huishoudelike produkte wat ’n potensiële gifgevaar vir jou baba inhou, soos bleik, skoonmaak- en wasmiddels. Kleurryke chemikalieë is dikwels baie aantreklik vir kinders, en hulle dink dis sap wat hulle kan drink. Selfs kleurlose chemikalieë kan vir ’n kind soos water lyk.

Dié chemikalieë kan ernstige skade aan die spysverteringskanaal aanrig. Afhangende van die gifstof, is daar algemene simptome van vergiftiging soos braking (soms met bloed), slaperigheid, brandblase op die lippe of in die mond sowel as pyn en ’n brandpyn in die bors.

Medisynevergiftiging:

Daardie kleurryke oor die toonbank of voorskrif-pilletjies kan soos lekkertjies vir kinders lyk. Alledaagse medisyne soos pynstillers, of allergiepille en selfs dwelms vir ontspanning
is uiters gevaarlik as ’n klein kind dit insluk.

Dit kan simptome soos braking, maagpyn, bewerigheid, sweterigheid, ylhoofdigheid en bewusteloosheid insluit. Afhangende van hoeveel ingeneem is, kan die gifstof die dood veroorsaak.

Voedselvergiftiging:

Die laaste ding wat jy wil hê, is om jou kind voedselfvergiftiging te gee, maar dit maak nie saak hoe higiënies jou kombuis is nie, bakterieë en virusse kan jou kos besmet.

Die algemeenste voedselvergiftiging in die huis is deur die salmonella- of E.coli-bakterieë, wat meestal in vleis voorkom. Jou kind sal opgooi, diarree met bloed, maagkrampe, hoofpyn, koors en slaperigheid ondervind as gevolg van die voedselvergiftiging.

Plantvergiftiging:

Kinders is geneig om selfs plante te eet, of hulle in die huis of tuin is. Maar sommige blare en bessies is giftig en kan maagkrampe en braking veroorsaak as dit in klein hoeveelhede ingeneem word. As dit in groot hoeveelhede ingeneem word, kan dit ’n toeval of selfs die dood veroorsaak.

Alkoholvergiftiging:

’n Klein kind kan dalk maklik toegang tot alkohol in die huis kry. Indien ’n kind selfs ’n klein hoeveelheid alkohol inkry, kan dit hom baie siek maak. Jou baba sal moontlik opgooi,
slaperig wees of selfs bewusteloos raak.

Die liggaam kan hitte verloor soos die bloedvate verwyd en die kind koud laat. Die grootste gevaar is dat die kind kan verstik of haar eie braaksel inasem terwyl sy bewusteloos is.

Gasvergiftiging:

Koolstofmonoksiedvergiftiging kan hoofpyn en braking veroorsaak en die kind kan bewusteloos raak. Koolstofmonoksied is ’n kleurlose, reuklose gas en ontstaan wanneer ’n vuur in ’n toe kamer gebrand word, kamers met foutiewe verhittingstelsel en swak ventilasie en ’n toe garage waar ’n voertuig se enjin loop.

Ander vorms van gasvergiftiging sluit in koolstofdioksied van riole, chloor van swembaddens en walms van huishoudelike produkte soos gom, verf, wasmiddels of dwelms.

Voorkom dat vergiftiging plaasvind deur:

  • Seker te maak dat alle gifstowwe buite die bereik van kinders, agter slot en grendel gehou word. Dit sluit in alles van huishoudelik skoonmaakmiddels, medisyne, grimering, batterye tot ysterryke vitamiene, verf met ’n loodbasis, paraffi en, sigaretaanstekervloeistof en onkruiden insekdoder.
  • Giftige plante uit die huis te verwyder.
  • Nie insekdoder of rotgif op die vloer te plaas nie.
  • Seker te maak alkohol is toegesluit en dat sigarette nie rondlê nie.
  • Altyd kombuisoppervlakke skoon te hou en jou hande in warm, seperige water te was. Jy moet dit ook doen wanneer jy van die hantering van rou tot gaar kos verwissel.
  • Nooit alledaagse houers soos koeldrankbottels te gebruik om gifstowwe in te bêre nie.
  • Nooit koshouers te gebruik om gifstowwe in te bêre nie.
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - No comments yet

Mom to Mom Feed