Sleeping

Baba in jou bed

Wil jy jou baba in jou bed laat slaap, maar jy's bang dis nie die regte ding om te doen nie? Ons verban die mites, gee al die voor- en nadele, top wenke en 'n ma se eie storie sodat jy self kan besluit

SHARE

 
Baba in jou bed
 
 
 

Vir baie ouers is nagte net ’n klein bietjie makliker as baba saam in die bed slaap. Ma hoef nie op te staan wanneer hy honger word nie; baba hoef nie heeltemal wakker te word om te voed nie. Dan is daar die navorsers wat sê gesinsbed-babas word gelukkige grootmense vol selfvertroue. Maar daar is ook kenners wat waarsku dis onveilig vir ’n baba om in sy eerste jaar in die gesinsbed te slaap... Ons bekyk die voor- en nadele van die familie-kermisbed.

3 mites oor die gesinsbed

1. Kinders kan versmoor

Dit was tot onlangs nog die grootste rede waarom ouers teen ’n gesinsbed gewaarsku is. Daar is egter geen bewyse voor nie – jou baba is heeltemal veilig in jou bed, mits jy die nodige voorsorgmaatreëls tref (sien ons veiligheidsreëls hieronder).

2. Jou kind gaan nooit onafhanklik word nie

Studies het bewys dat juis omdat daar aan jou kind se behoeftes voldoen word, voel kermisbed-babas veiliger en raak hulle vinniger onafhanklik as ander kinders.

3. Jou kind gaan slaapprobleme hê

Ouers sit dikwels hul kind in die gesinsbed omdat hy sukkel om te slaap. Sulke babas gaan waarskynlik steeds moeilik slaap, maar die gesinsbed is nie die oorsaak van sy slaapprobleme nie.

11 voordele van ’n gesinsbed

  • Dit versterk binding tussen ouers en baba.
  • Dit help om mamma en baba se slaappatroon te reguleer.
  • Ouers wat heeltyd by hulle kinders is, word meer sensitief vir hulle kind se behoeftes.
  • Jy en baba kry meer rus omdat baba nie heeltemal wakker hoef te word en te huil voor daar aan sy behoeftes voldoen word nie, en jy hoef nie wakker te word van opstaan in die nag nie.
  • Dit moedig borsvoeding aan en stimuleer die melkvoorraad.
  • Jy kom vinniger agter as daar iets fout met jou kind is.
  • Studies wys dat volwassenes wat as kinders saam met hul ouers geslaap het, meer selfvertroue en selfagting het, waarskynlik omdat hulle destyds gelief en veilig gevoel het.
  • Studies wys ook dat seuns wat tussen geboorte en vyf jaar oud saam met hul ouers geslaap het, hoër selfagting het en minder skuldig en angstig voel.
  • Vroue wat as kinders by hul ouers geslaap het, het volgens ander studies minder probleme met intimiteit.
  • Daar word ook gemeen dat mense wat die gesinsbed gedeel het, oor die algemeen meer tevrede met die lewe is.
  • Kinders wat by ouers in hul kamer slaap is nie bang vir slaaptyd nie en wanneer hulle ouer word en in hulle eie kamer slaap, is slaaptyd iets wat hulle goed en veilig laat voel.

9 nadele van ’n gesinsbed

  • Baie babas in die gesinsbed word gewoontedrinkers wat gedurig in die nag slukkies borsmelk neem.
  • Ma en pa bestee minder alleentyd saam.
  • Dis soms moeilik om ’n kind wat lank in die gesinsbed geslaap het, daar uit te kry.
  • Dis nie altyd lekker as ’n ouer kind ’n glipsie in julle bed kry nie...
  • Die bed kan soms ongemaklik vol wees, veral as daar twee kinders in is.
  • Wriemelende, skoppende kinders laat ’n mens sleg slaap.
  • Kinders sukkel om te slaap wanneer ma en pa nie daar is nie.
  • Die gedeelde bed kan ’n emosionele plaasvervanger word in enkelouer-gesinne.
  • Dis soms moeilik om ’n vaste slaappatroon by jou kind te vestig omdat hy eers gaan slaap wanneer julle in die bed klim.

10 veiligheidsreëls vir die gesinsbed

  • Moenie saam met jou baba slaap as jy ’n roker is of as jy alkohol of medisyne wat jou vaak maak, gedrink het nie.
  • Slaap net op die bed saam, nie op die bank nie.
  • Die matras moet styf teen die kopstut van die bed wees.
  • Daar moenie los kussings of sagte komberse naby baba se gesig wees nie.
  • Daar moenie ruimte tussen die bed en die muur wees waar die baba kan inrol en vasgekeer word nie.
  • Baba moenie op sy magie neergesit word nie.
  • Baba se kop moet nooit toegemaak wees nie.
  • Albei ouers moet verantwoordelikheid aanvaar vir die baba in die bed.
  • Babas onder ’n jaar moenie saam met ’n ouer boetie of sussie slaap nie.
  • As ma baie lang hare het, moet dit vasgemaak word om te keer dat dit om die baba se nek verstrengel raak.

Hoe kry jy die vlooi uit jou kooi en wanneer?

Daar is nie werklik ’n regte of verkeerde tyd om jou kind uit die familiebed te skuif nie. Dis belangrik dat julle doen wat vir julle as gesin reg voel. As een of meer van julle nie meer gelukkig is met die deel van die gesinsbed nie, is dit waarskynlik tyd om kleinding uit te skuif.

Die meeste mense begin deur baba se kot in te dra of ’n matrassie of bedjie vir groter kinders in die kamer te sit. Wanneer die kind gewoond is om daar te slaap, kan hy stelselmatig na sy eie kamer trek.

En wat van jul sekslewe?

Intimiteit behoort nie deur die gesinsbed beïnvloed te word nie. Die meeste ouers gebruik hul inisiatief en gaan na ’n ander kamer terwyl baba slaap. Probleme ontstaan wanneer een van julle twee nie die baba in die bed wil hê nie, of wanneer die gesinsbed gebruik word om jou maat te vermy. In dié geval is die gesinsbed nie die ware oorsaak van intimiteitsprobleme nie.

Nuwe ouers moet ook onthou dat ’n nuwe baba wel jul verhouding beïnvloed en verander, of hy saam met julle slaap of nie. Nuwe ma’s is gewoonlik so uitgeput dat wanneer hulle ’n kans kry om te slaap, dit presies is wat hulle wil doen – slaap!

'Hoe ons dit gedoen het' – 'n regte ma vertel

Marina Schultz van Ellisras vertel haar oudste kind, Duan, het van dag een af in die gesinsbed geslaap.
“Dit was lekker om hom by my en my man, Robert, in die bed te hê, en nagvoedings was oneindig makliker.
“Duan was baie rustig en het van 6 weke af begin deurslaap. Daar was geen probleme nie behalwe dat Robert soms gekla het oor min plek in die bed, en dat ons alleentyd as paartjie maar min was. Ons het maar soms spaarkamer toe gegaan, maar dit het ons verhouding eintlik opwindend gemaak!
“Duan het vir ’n jaar en half by ons geslaap, en daarna het ons ’n enkelbedjie langs ons bed vir hom neergesit. Toe hy 3 was, het ons getrek en vir hom sy eie kamer gemaak en beddegoed gaan koop. Hy was baie opgewonde en tevrede daarmee om in sy eie kamer te slaap.
“Toe kleinboet Henrè gebore is, het ons besluit om hom in ’n kot in ons kamer te laat slaap. Hy het op 3 maande begin deurslaap en toe hy ’n jaar oud was, het ons hom by Duan – toe 5 – se kamer ingeskuif.
“As ek kon oorkies, sou ek steeds vir Duan so lank by ons in die bed gehou het – dit was ’n baie spesiale tyd.
“My raad aan ander ouers is dat daar voor- en nadele aan ’n gesinsbed is, en dat julle moet doen wat vir julle gemaklik is.”

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 3 comments

Michelle Joubert

Ons dogtertjie het van dag 1 af in haar eie kot langs ons bed geslaap. Dit was vir my baie gemaklik. Op 7 maande was dit vir my asof sy entevrees gekry het vir haar kot. Sy sal rustig aan die slap raak maar die oomblik wat ek haar in haar kot neerle was dit n geskreeuery van voor tot agter. Ek het toe besluit dat sy tussen Pappa en Mamma gaan slap. Dit was heerlik!! Sy het so rustig geslaap (en ek ook). Inelkgeval was dit toe winter. Toe sy September 1 word het ons vreeslik baie mense by ons huis gehad en ek het besluit om die kot weereens n kans te gee omdat ek bang was ek hoor haar nie en sy val van die bed af. So van haar 1ste verjaardag af slaap sy weer in haar eie kot (langs my bed)...baaaaie rustig! My raad - jy ken jou kind...doen wat vir julle werk en vir die hele huis gesin die gemaklikste is. Ek sal dit met my 2de kind weer doen! Mens "bond" dan op n spesiale manier!
Posted on Tue, Oct 22nd 2013, 15:43

Rulene Stephens

My dogtertjie, Elene, is nou amper twee. Toe sy geborsvoed het, het sy saam in die bed geslaap. Dit het die lewe vir my baie makliker gemaak, want my slaap was nie regtig gesteur nie. Toe sy so ses maande oud was, het ons haar in 'n kot ingeskuif en as sy wou drink het ek haar net in die bed ingetel en gevoed en dan weer terug getel in die kot in. Ek het opgehou voed op 'n jaar en toe vir haar 'n bedjie by die kamer ingedra. Ons het ook maar die spaarkamer gaan opsoek en ons liefdeslewe is geensins daardeur benadeel nie! Ses maande later, het ek haar in haar eie kamer ingeskuif. Sy het geen probleme om te gaan slaap nie en is 'n baie selfversekerde, spontane kind. Sy is nie bang om te waag nie, want sy voel geborge.
Posted on Sat, Jun 12th 2010, 06:32

Adelaide Matthee

Ek is so bly dat daar meer voordele as nadele is...en dit stel my nou meer gerus dat my baba van 16 maande by ons in die bed slaap die afgelope 2maande. Dankie vir die puik artikel
Posted on Wed, Jun 9th 2010, 11:27
Mom to Mom Feed
Poll

What do you buy online?

Nappies
Clothing
Toys
Books, DVD's, CD's