Sleeping

Slaapsand vir baba

Jou baba se slaappatroon verander namate sy groei, maar dit behoort jóú nie slapelose nagte te besorg nie. Ons wys jou hoe om jou baba se slaap te bestuur.

SHARE

 
Slaapsand vir baba
 
 
 

Min dinge hou so lank aan as daai slaapgevegte wat ’n mens met jou kinders het. Jy dink nog sy slaap uiteindelik deur die nag, dan beleef sy ’n groeiversnelling en word wakker om eks¬tra voedings te vra. Voor jy jou kom kry begin sy haar dagslapies ook afsweer. Hoe hanteer jy al dié slaapstadiums?

Pasgeborene

Slaap altesaam: 16-20 uur per dag

Nuwe ma’s kan gewoonlik nie wag om met hul baba pop te speel nie, net om teleurgesteld te moet toekyk hoe die klein blertsies die hele dag omslaap. Pasgeborenes word net wakker vir ’n voeding en hou hul oë daarna so 30 tot 45 minute lank oop voor hulle terug droomland toe verkas. Hulle ken nie die verskil tussen dag en nag nie en eet en slaap of dit nou donker of lig is. Dis normaal en noodsaaklik. ’n Pasgeborene se maag is piepklein, haar melk word gou verteer en sy moet dus dag en nag kos kry.

Wenke vir dié ouderdom

Tref van dag een af ’n onderskeid tussen dag- en nagvoedings sodat jou baba mettertyd die verskil kan begin besef.

Hou die kamer snags skemer en stil. Bedags kan jy met jou baba gesels terwyl jy haar voed. Moenie bekommerd wees nie, jy sal binnekort meer as genoeg tyd vir speel hê. Moenie jou baba oorstimuleer deur haar wakker te hou nie. Gebruik haar slaaptyd om self slaap in te haal.

0 tot 3 maande

Slaap altesaam: 15-18 uur per dag

Jou baba slaap steeds die meeste van die tyd, maar ’n nuwe ritme skop algaande in. Sy slaap dalk korter rukkies gedurende die dag, langer rukke snags en kort voor lank bly die laataand-voeding in die slag. Bedags is sy ook vir langer rukkies wakker.

Baie babas se ritme word ná ses weke oud ’n roetine. Teen omtrent drie maande  lyk dit ál minder of sy onophoudelik slaap en net vir etenstyd wakker word. Maar helaas, anders as wat al die wysneuse om jou jou beloof het, slaap die meeste babas nie van twee maande af deur nie. Hulle het omtrent almal dan nog ’n nagvoeding nodig.

Wenke vir dié ouderdom

Dis nog te vroeg om ’n formele skedule op te stel, maar jy kan jou baba stadig daaraan gewoond begin maak dat die dag daar is om wakker te bly en dat ons veronderstel is om in die nag te slaap.
Gesels en speel bedags en met badtyd, en bêre slaapliedjies vir die aand. Moenie te veel met ouboet raas as hy bedags lawaai terwyl kleinsus slaap nie – sy moet die agtergrondgeluide van die gesin met die dag begin verbind.

Maak die kamer wel nog effens donker vir haar dagslapie omdat te veel lig haar kan oorstimuleer en wakker hou.

Moenie bekommerd wees as jou baba in dié stadium dalk ’n paar slegte gewoontes ontwikkel nie, sê die slaapkenner suster Ann Richardson.

Sy moet die meeste van die tyd by jou wees omdat sy haarself nog nie aan die slaap kan sus nie.

  • Babas leer eers hier ná 12 weke oud om hulself aan die slaap te maak.
  • Dis ’n goeie plan om voeding van sussing te skei sodat jou baba mettertyd leer om self aan die slaap te raak. Babas wat insluimer terwyl hulle aan die bors of die bottel drink, raak aan dié luukse gewoond en dit skep net probleme.
  • Om jou baba te leer om self aan die slaap te raak, sit haar in die bed wanneer sy vaak is, maar steeds wakker is.

3 tot 6 maande

Slaap altesaam: 9 tot 12 uur, dagslapies ingesluit

Hoe lank slaap jou baba nou aaneen? Ann sê dit hang baie af van hoe lank sy wakker was. “Wakker tyd” duur sowat 1½ tot 2 uur. ’n Gemiddelde dagslapie is tussen 45 minute en ’n uur lank, en snags slaap baie babas nou agt uur lank.

Sommige gelukkige ma’s vind dat hul baba nou uiteindelik ’n voorspelbare slaappatroon vestig en selfs begin deurslaap, of minstens net een of twee keer per nag wakker word.

As jou baba deur die nag geslaap het en dan weer begin wakker word, kan dit wees omdat sy honger is. Die meeste babas word teen vier maande of 7 kg hongerder omdat hul voedingsbehoeftes verander. Melk alleen maak hulle nie meer vol genoeg nie en ’n aandvoeding hou dus nie meer ’n hele nag nie.

Wenke vir dié ouderdom

Dit is nou die tyd om vaste kos bekend  te stel. Vra jou klinieksuster vir raad oor ’n gebalanseerde eetplan.

Moet egter nie vaste kos voor vier maande oud begin gee nie en as jy enigsins kan, wag liewer tot jou baba ses maande oud is. Jou begeerte na ’n ononderbroke nagrus is nie ’n goed genoeg rede om vaste kos in te bring nie.

6 tot 12 maande

Slaap altesaam: 11 uur, plus 2 of meer slapies. Die wakker tyd tussen slapies is 1½-2 uur

As jou baba vaste kos eet en haar dieet is voldoende, behoort sy snags 10 tot 12 uur lank sonder kos klaar te kom. Waarom word sy dan wakker?

Tande kry kan een sondaar wees. Skeidingsangs is ’n ander moontlike oorsaak – van omtrent nege maande af kom babas agter jy is ’n aparte mens en nog erger, jy is nie altyd daar nie. As jy dan snags in jou eie slaapkamer is, kan hulle angstig raak en jou roep deur te huil, sê Meg Faure, mede-skrywer van Koester jou baba.

Nog ’n probleem op dié ouderdom is dat kleinsus (en jy) slegte slaapgewoontes aangeleer het en dat sy jou nou nodig het om te kan slaap. Dis ’n teken dat jy haar moet begin leer om op haar eie aan die slaap te raak.

Wenke vir dié ouderdom

Sukkel jou baba om ’n goeie nag se slaap in te kry? Vra die dokter of klinieksuster dan met die volgende roetine-ondersoek om seker te maak haar gewig is reg vir haar ouderdom en dat sy die regte voeding vir haar ouderdom kry.

As alles in orde is, beteken dit sy word nie wakker omdat sy honger is nie. Leer haar dus om aan die slaap te raak sonder om eers melk te drink. Sus en troetel haar, gee haar selfs ’n slukkie water as sy gehuil het, maar moenie ’n bottel of die bors gee nie.

As jy onseker is of tande die probleem is, kan jy haar gedrag snags met haar gedrag bedags vergelyk. As sy in die dag gelukkig en tevrede is en net snags rusteloos, is dit waarskynlik nie haar tande wat pla nie.

Dan is skeidingsangs waarskynlik die sondaar, sê Meg. Sy voel onseker omdat jy nie naby is nie. “Speel wegkruipertjie en waar’s hy-daar’s-hy-speletjies sodat sy begin besef jy is daar al kan sy jou nie sien nie.”

In dié tyd moet jy jou baba help om veilig te voel. ’n Speelding of ander troosvoorwerp kan help.

1 tot 2 jaar

Slaap altesaam: 10-12 uur, plus twee slapies

Teen dié tyd kan jou peuter vier uur lank wakker bly voor sy ’n slapie nodig het. As sy lank slaap, is een dagslapie genoeg, mits sy dan saans vroeg in die bed kom.

As sy net ’n kort uiltjie knip, kan sy twee keer per dag slaap. ’n Bedrywige dag met baie aktiwiteite behoort genoeg te wees om haar tevrede bed toe te laat gaan en deur te laat slaap. Met ’n bietjie geluk kan julle almal uiteindelik ’n goeie nagrus inkry. Maar teen twee jaar oud steek ’n nuwe uitdaging sy kop uit, want jou klein rakker is nou groot genoeg om self uit die bed te klim. As sy nie weier om te gaan slaap nie, weier sy om in die bed te bly, of staan in die middel van die nag op en dring daarop aan om by julle te kom slaap.

Ons weet kleuters kan klein helletjies wees, maar moenie te kwaad word nie. Dikwels is dié steeksheid te wyte aan angstigheid om alleen te gaan slaap.

Wenke vir dié ouderdom

Gaan uit jou pad om jou kind veilig en gekoester te laat voel met slaaptyd. Skakel liewer ’n nagliggie aan as die ganglig, want laasgenoemde kan ’n nuuskierige agie aanmoedig om te gaan kyk wat buite haar kamer aangaan, sê Ann.

Maak seker haar gunsteling-trosies is by haar in die bed en vertel ’n lekker slaapstorie.

Op dié ouderdom is die grens baie fyn tussen empatie met jou kleuter se bekommernisse en die noodsaaklikheid van ’n vaste slaaproetine. Dis ’n uitdagende tyd, sê Ann, maar as jy streng bly oor jou slaapgrense maar steeds warm en koesterend is, sal kleinsus veilig voel.

Vermy ’n laatmiddagslapie – sy moet teen vieruur wakker wees.

2-3 jaar

Slaap altesaam: 10 tot 12 uur

Baie kinders wil nou nie meer in die dag slaap nie.

As sy bedags gelukkig en tevrede is, maklik sonder jou kan klaarkom as sy slaap en deur die nag slaap, kan jy maar die middagslapie afstel.

As sy die hele middag ongelukkig is en aandete, badtyd en slaaptyd is ’n nagmerrie, het sy duidelik nog haar middagslapie nodig.

Al behoort sy nou deur te slaap, is daar baie kinders wat steeds snags wakker word.
Moenie in die versoeking kom om haar deur die nag melk te gee nie, veral nie as jy dalk bekommerd is omdat sy bedags sleg eet nie.

Dis juis die melk snags wat haar aptyt bedags in die wiele ry, sê Ann. Aanvaar dit dat kleuters sleg eet en weet dat geen peuter van die honger sal sterf nie.
Jul nuwe uitdaging: nagmerries.

Wenke vir dié ouderdom

As sy nie meer in die dag slaap nie, is dit dalk ’n goeie plan om slaaptyd te vervroeg. Maak jou kleuter gewoond aan “stiltetyd” ná middagete, selfs al slaap sy nie.

As dit nagmerries of angs is wat haar wakker maak, gaan na haar toe en sus haar liefdevol. Sy het jou nodig.

As sy so angstig is dat dit lyk of sy nie getroos wil word nie, is dit gewoonlik makliker om haar heeltemal wakker te maak en dan te sus.

Nog oplossings is om TV en aksiebelaaide speletjies kort voor slaaptyd te vermy en om nie te wag tot jou kleuter oormoeg en moeilik is voor jy haar bed toe neem nie.

Kleuters se slaaptydgevegte kan tot die minimum beperk word as jy saans ’n goeie roetine vestig: aandete, bad, storie lees, slaap.

As jou kleintjie teen slaaptyd ’n rits verskonings en besware opper, sê ferm: “Dis slaaptyd. Ek sal bly en vir jou ’n storie lees as jy nou in die bed klim en daar bly.”

Moenie toegee aan woedebuie en drama wat gegooi word nie, sê Ann. “Hou jou grense stewig in plek, wees selfversekerd en seker van jou besluite –en jou kleuter sal dit ook wees.”

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 5 comments

Natasha

My seuntjie is amper 10 maande oud en het nog nooit van geboorte af deurgeslaap nie. Hy eet goed en drink sy bottel voor slaaptyd. Hy word elke 45 minute wakker en drink dan net n bietjie melk. Wat kan ons doen sodat hy deurslaap en hoe leer ons hom om nie meer in die nag te wil melk drink nie? Ons is versigting om net6 sommer op te hou melk gee gedurende die nag omdat ons dink hy sal dalk honger lei.
Posted on Mon, May 13th 2013, 10:52

Cecilia

Hi. My seuntjie is amper 11 maande.Ek sukkel nog steeds met hom deur die nag om deur te slaap. Ek kan nie dink aan n aand wat hy al deur geslaap het vandat hy gebore is nie. Hy was n Colic Baba. En deesdae is dit die tandjies wat hom pla. Hy Slaap by ons en ek kan nie eens ordenlik slaap nie want hy wil net in my arms le en bottle drink. Hy huil as sy "dumsy" uit val en hy wil dit heel nag suig. Wat kan ek doen sodat hy net kan slaap vir ten minste 4 ure aan een. Hy skrik wakker na elke uur. Dis baie stres vol.
Posted on Mon, May 13th 2013, 09:34

Nicolene Riley-Hakins

My baby is 17 Months and she is still not sleeping through. She sleeps in her own bed but at 12:00am she wants to clim out her cot and sleep with us. the she wakes up again at 3:30am to drink her bottle. Please help I am tierd. I don't know what to do to get her to sleep through the night. I also work from 7:00 - 18:00 in the day.
Posted on Wed, Aug 29th 2012, 15:19

Lizbe Bothma

My seun van 3jr is in die fase van vloerstuipe. sy nee is nee, maar myne bestaan nie. Hoe meer ferm ek is hoe kwater en baklei hy. hy wil gereeld by my ma en pa gaan slaap, want omstandighede het oms gedwing om by my ouers te bly. Ek voel dat 'n kind in sy kamer moet slaap, en my nie sien as 'n monster wanneer dit by slaaptyd kom nie. So baba's en kleuters in hul bed en kot, want jy verloor die stryd as jy toegee. Ek gee toe vir rus en vrede se onthalwe 2 uur in die nag.
Posted on Wed, Aug 8th 2012, 14:06

Petro Visagie

Hi, my son is now nearly 11 months old, since he was 6 months he is not sleeping well, he will wake up and cry, it has improved a bit and is now sleeping with us, What can i do to get him sleep in his own cot (in our room) and to sleep through the night?
Posted on Wed, Aug 31st 2011, 11:19
Mom to Mom Feed
Poll

What do you feel the guiltiest about as mom?

I feel I don't spend enough quality time with my kids.
I shout at them.
I don't listen to them attentively and am always distracted.
I probably should have breastfed them for longer.
I'm not able to give them more material things.
I'm not organised with scrap books and albums and memory boxes.
My kids are overweight.
My kids watch too much TV.
I feel guilty for sometimes wishing I could just go away and be by myself.
Someone else is looking after my kids while I work.
I don't feel guilty!