Vestig 'n roetine vir jou baba

Vestig 'n roetine vir jou baba
 
 
 
 

Eet en slaap is die twee dinge wat jou pasgebore baba die meeste gaan doen – gewoonlik in daardie volgorde. Om die twee te balanseer en agter te kom watter een jou baba nodig het, gaan die meeste van jou tyd verg in die eerste paar weke dat jy ’n nuwe ma is.

Wanneer ’n roetine vir jou baba gevestig word, is sy die baas wat die reëls maak en eet en slaap wanneer dit nodig is. In plaas daarvan om jou baba in ’n volmaakte roetine te vestig, moet jy eerder haar behoeftes leer verstaan, en haar dophou vir tekens van honger of slaperigheid.

Doen dit só

Voedingsbehoeftes

Die voeding van jou baba gaan baie van jou tyd neem in die eerste weke. Sodra jy dink hy’s versadig en vas aan die slaap, word hy wakker en wil hy weer gevoed word (en ’n skoon doek hê) – ’n nimmereindigende siklus.

Die rede is dat babas nie veel melk gedurende ’n voeding inneem nie omdat hulle klein mae het en melk gou verteer. Voeding is dus ’n leerproses vir julle albei aan die begin en jou baba se voedingsbehoeftes
verander omtrent van een voeding tot die volgende.

Jou baba is aan die stuur van sake wat voeding betref, maar mens kan geleidelik dinge doen om ’n roetine te vestig wat julle albei pas.

Dag 1: Jou pasgebore baba lyk dalk taamlik geesdriftig oor ’n voeding kort ná geboorte. Dit het meer te doen met die sterk drang om te suig as oor honger.

Jou baba se eerste voeding sal kolostrum wees, ’n ryker, meer vullende voedingstof as gewone melk. Jou baba sal dalk belangstelling verloor ná sy eerste geesdriftige pogings. Dis normaal en sy sal eindelik
“wakker word” en meer dikwels gevoed wil word.

Dag 3: Jou regte melk kom in teen dag 3 of 4 en die voeding sal effens verander. Nie jy of jou baba moet verwag om borsvoeding van die begin af baas te raak nie! Maar jy moet jou baba voed wanneer sy dit verlang – laat jou baba se honger jou voedingsrooster bepaal. Om sowat 8 tot 12 keer in 24 uur te voed, is ’n goeie riglyn.

Dag 5–28: Albei van julle sal voedings nou heelwat makliker vind. Jy moet aanhou voed soos en wanneer jou baba dit verlang. Die riglyn van 8 tot 12 voedings in 24 uur geld steeds. Indien jy bekommerd is oor jou baba se voedingspatroon, kan dit dalk help om ’n aantekening te maak van elke
voeding en hoe lank dit duur.

Jy sal dalk ’n patroon begin opmerk wat jou sal help om jou baba beter te verstaan en ’n beter roetine uit te werk.

Slaapbehoefte

Pasgebore babas groei so vinnig dat hulle hope slaap nodig het. Die slegte nuus is dat pasgebore babas nie ontwerp is vir lang ononderbroke tye van slaap nie en hulle moet gereeld gevoed word. Dit beteken daardie slapies wat jy gedink het jy sou kon inpas, nie dikwels gebeur nie.

Hier is wat jy kan doen om dinge effens makliker te maak:

  • Leer om jou baba te lees en die tekens te interpreteer van moegheid (’n rug wat krom trek, gaap, gebalde vuiste, trek aan een oor en oë wat gevryf word. Sy sal dalk haar kop wegdraai van jou af en enigiets anders wat haar stimuleer en jy sal dalk effense donker kringe om jou baba se oë opmerk). Deur hierdie aanduidings reg te lees, kan jy haar neerlê voordat sy oormoeg is. Dit sal dit vir haar veel makliker maak om aan die slaap te raak.
  • Probeer jou baba se slaapsiklus verstaan en hoe sy interne horlosie werk. Meg Faure, medeskrywer van Koester jou baba sê: “Jou baba se interne horlosie berei hom voor om maklik aan die slaap te raak en maak dit maklik om ’n roetine te vestig. Die tydsduur wat ’n baba tevrede is om wakker te wees verander met sy ouderdom en staan bekend as sy ‘wakkertyd’.
  • Hierdie ‘wakkertye’ is die geheim om ’n babasentriese roetine te vestig wat buigsaam is en aan jou baba se behoeftes voldoen van gereelde voedings en slapies.”
  • Jy kan verwag dat jou baba in kort grepe van 2 tot 3 uur siklusse slaap, tipies vir tussen 14 tot 18 uur gedurende die eerste twee weke en 12 tot 16 uur per dag teen die tyd dat hy ’n maand oud is.

Noudat jy dalk beter kan verstaan waarom jy jou deur jou baba moet laat lei in daardie eerste dae, is hier ’n paar wenke wat jy kan volg om dinge vir jou ook te laat vlot:

Wees op die uitkyk vir jou pasgebore baba se natuurlike roetine in die eerste klompie weke. Wanneer word sy wakker? Wanneer eet sy? Skep ’n aanloop as ’n teken wat volgende kom, soos ’n bad voor slapenstyd, ’n doek wat geruil word voor voeding.

Verseker dat die roetine gedeel word met die res van die gesin en oppassers wat jou help met jou baba en ander kinders sodat hulle ook kan help sorg dat die roetine elke dag gevolg word.

Rig die res van jou lewe in volgens die roetine in die vroeë stadium, terwyl jy besig is om dit te vestig. Jy kan ’n bietjie later daaraan begin verander, maar nie in die vroeë leerproses nie.

Hou moed en hou vol. Jou pasgebore baba kan soms soos ’n heel vreemde baba op verskillende dae optree. Pas die roetine aan waar nodig, maar hou by jou basiese rooster.

Dag en Nag

Een van die eerste dinge wat jy sal moet doen wanneer jy ’n roetine probeer vestig, is om jou baba bewus te maak van die verskil tussen dag en nag. Doen dit deur seker te maak dat slaap in die nag en
slaap in die dag heeltemal verskillend lyk.

Moenie die kamer donker maak en die huis stil hou gedurende die dag nie. Om slaap in die nag te vestig, probeer ’n slaaptydroetine wat ’n bad of was, selfs ’n vinnige massering of ’n slaapliedijie insluit. Trek die gordyne toe om die lig uit te sluit en maak seker die huis is stil.

Terwyl dit nog te vroeg is vir jou pasgebore baba om gewoond te wees aan ’n slaaptydroetine sal die
gewoonte om dit te volg help om die roetine later te vestig.

 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 4 comments

Ouma Manda

Ons kleinkind is nou 3 maande en sukkel nou meer met refluks as toe hy gebore is. Hy was 'n maand te vroeg gebore en in intenstief vir 8 dae. Hoe lank kan ons nog verwag dat die refluks probleem sal aanhou, en is daar enige spesifieke formule melk wat iemand al beproef het. Hy slaap ook net vir kort rukkies aanmekaar en lyk soms nie baie gelukkig nie. Hy het in die begin sy gewig binne 2 maande verdubbel, maar tel nou minder gewig per week op as voorheen, kan die refluks deel wees van die probleem. Enige raad sal verwelkom word. Andersins is hy pragtig!
Posted on Mon, Apr 16th 2012, 16:37

Zeelie

@ Jonker... As ek vir jou kan raad gee... as sy so baie huil op die melk werk dit dalk nie met haar. Het jy al `n ander melk probeer. Ek weet ek het `n kleintjie gehad wat ek opgepas het een keer wat vreeslik gehuil het op `n spesifieke melk, toe het ek hom oor gesit op ander melk en hy was `n ander kind wat geaardheid betref, het hom weer op die ander melk gesit vir toets en hy was vreeslik huilrig. Mens kan nie dink dat melk jou kind so sal kan beinvloed nie. Van rustig op die een melk na huilrig op die ander melk. Dit kan ook wees dat baba`tjie bietjie sukkel met windtjies of dag koliek het. Probeer colic drops saam die melk een of twee keer in die bottel en kyk of dit nie beter is nie. Sy sal ees pap kan kry wanneer sy in die nag ook nie meer kan hou nie en wil drink. En jy sal weet wanneer die tyd reg is vir pappies... babatjie sal jou kos uit jou mond begin kyk a sy reg is om al pap te kan eet. En onthou... begin altyd eers met ryspap, dis baie ligter op die magies, veral as hylle vroer begin as 5/6 mnde. Die vroegste wat jy eindlik pap kan gee is eers 4mnde Hoop ek kon bietjie van hulp wees... Sterkte
Posted on Fri, Mar 9th 2012, 15:31

Tiana

Ons het dieselfde probleem gehad, dit was hel! Die feit dat sy op AC formule is, se vir my sy het reflux? Reluks babas slaap kort rukkies en drink ook ongereeld. Nestargel het ons baba baie rustiger gemaak. Jy kry dit by enige goeie apteek en dit maak die melk net biejie dikker. Ek het ook 'n makliker metode om dit by die water in die bottels te kry, laat weet as jy meer wil weet. Probeer uithou tot op 4 maande met die pappies. Verder is rooibostee blykbaar nie ideaal vir babas met refluks, gee eerder 30ml chamomile tee of water om haar tussen voedings te probeer rek.
Posted on Fri, Mar 9th 2012, 12:30

Jonker

Ek het baba van 2 maande, en sy is op Novalac AC formule. Huidiglik drink sy gewoonlik so na 3 ure, kry haar nie op 4 ure tussen voedings nie. Deur die dag is sy baie huilerig en klaering soms sommer al 2 ure na haar vorige voeding. En dan is dit omtrent 'n stryd om haar te rek na nog 'n uur later voor ons weer bottel gee. Kan mens al begin om vir haar klein lepeltjie pap te begin gee, ek weet nie meer wat om te doen. Ek gee bietjie rooibostee en water, maar dit help nie veel. In die nag het ons geen probleem, sy drink en slaap goed, dit is slegs in die dag wat ek haar nie kan kry om lank genoeg vir voedings te wag nie.
Posted on Thu, Mar 1st 2012, 13:42
 
What do you think?

What was the most expensive item you've bought for your child?

Pram/stroller
Nursery room furniture, eg cot, compactum or bed
An outfit
A toy
Other