Mental development

Ma se slim kind

Jy weet jou kind is slim, maar dis op ’n ‘ander’ manier as haar sussie wat op skool so uitblink. Vind hier meer uit oor veelvuldige intelligensies.  

SHARE

 
Ma se slim kind
 
 
 

Sonja Lourens van Pretoria het twee dogtertjies, onderskeidelik ses en drie en ’n half jaar oud. “Die oudste het vroeg reeds begin tel en tel sommer spontaan allerhande dinge in die huis,” vertel sy. “My jongste weier egter volstrek om te tel. Ons smeek, probeer haar omkoop en doen al die moontlike om haar belangstelling in syfers te prikkel, maar sy luister veel eerder na stories en blaai deur boeke. Sy het ’n verstommende woordeskat vir haar ouderdom.”

Sonja sê sy twyfel nie daaraan dat albei haar kinders intelligent is nie; hulle blink net in verskillende rigtings uit. Sy gee nie net aandag aan die terrein waarop elke kind goed is nie, maar help hulle ook om ander vermoëns te ontwikkel.In haar huishouding het Sonja te doen met twee uiteenlopende vorms van intelligensie, maar eintlik bestaan daar agt soorte, aldus die bekende Amerikaanse ontwikkelingsielkundige dr. Howard Gardner. Sy 1985-boek Frames of mind: The theory of multiple intelligences het destyds die sielkundegemeenskap wêreldwyd regop laat sit.

Aanvanklik het Howard sewe soorte intelligensie geïdentifiseer, maar later ’n agtste bygevoeg. Die agt terreine is: taalkundig (woorde en taal); logies-wiskundig (logika en syfers); musikaal (musiek, klank en ritme); kinesteties (liggaamsbewegingsbeheer); ruimtelik-visueel (prente en ruimte); interpersoonlik (sosiaal); intrapersoonlik (bewustheid van eie individualiteit); en naturalisties (vermoë om aspekte in die natuur te onderskei). 

Howard het ook al oor twee verdere intelligensies gespekuleer: pedagogies (om ander te leer en jou kennis oor te dra) en eksistensieel (om die “groot” vrae van die lewe te beantwoord). 

Hoe bepaal ek my kind s'n?

Jy moet bepaal wat jou kind se belangstellings is om ’n aanduiding van sy intelligensie te kry, maar dis meestal ’n te grys gebied om net daarop peil te trek, meen ST. 

“ ’n Intelligensietoets gee ’n meer akkurate aanduiding. Dit kan wees dat ’n kind in iets belangstel, maar nie ‘intelligent’ daarin is nie. So kan ’n kind dalk van musiek hou, maar nie noodwendig die natuurlike aanleg daarvoor hê nie. Gewoonlik is dit waarin ’n kind goed is ’n goeie aanduiding van intelligensie – as hy ’n uitstekende verbale aanleg het, is die kans goed dat sy linguistiese intelligensie goed sal wees. Uiteindelik kyk ons na die kind in totaliteit.”

Help jou kind so

Wat as jou klein Einstein ’n legkaartbou-deskundige is, maar glad nie in lees belangstel nie? Kinders kan beslis op meer as een terrein uitblink en jy kan hom help om sy ander intelligensies te ontwikkel.

Taalkundig- woordslim

  • Lees stories voor en kies boeke wat sy belangstellings weerspieël.
  • Luister saam na oudiostories. 
  • Speel woordspeletjies. 
  • Stel jou kind aan ander tale bloot. 
  • Sit woorde in sy kamer en magnetiese woorde teen die yskas op. 
  • Gesels oor dit wat jou kind sien en beleef. 

Logies-wiskundig- syferslim

  • Speel wiskundige speletjies soos karkrieket. 
  • Laat jou kind items in die huis of winkel optel en aftrek. 
  • Speel saam winkel-winkel.
  • Doen saam eksperimente om oorsaak en gevolg te bepaal.
  • Help jou kind dinge versamel en hou boek daarvan.
  • Gesels oor die rede vir gebeure en moedig hom aan om oplossings vir probleme uit te dink. 
  • Maak verf-met-nommers-tekeninge. 

Naturalisties- natuurslim

  • Gaan sit saam in die tuin en kyk na hoe alles werk. 
  • Maak saam ’n kruie- of groentetuin. 
  • Kyk saam na TV-natuurprogramme. 
  • Dink saam aan groenprojekte vir jul huis. 
  • Wys jou kind hoe ’n mens weten­skaplike katoeters soos ’n teleskoop of mikroskoop kan gebruik.
  • Interpersoonlik – sosiaal
  • Help jou kind om by kinderklubs deel te neem. 
  • Speel saam bordspeletjies. 
  • Kuier saam met jou kind en gesels. 
  • Laat jou kind rolspeel. 
  • Wys ander mense uit en wat hulle besig is om te doen. 
  • Verduidelik iets aan die hand van ver­skeie karakters en hul persoonlikhede.

Musikaal intelligent- musiekslim

  • Sing vir jou kind en speel musiek. 
  • Leer haar liedjies. 
  • Maak saam musiekinstrumente. 
  • Vra jou kind om geluide te identifiseer. 
  • Laat haar musiekles neem.

Ruimtelik- visueel- ruimteslim

  • Help jou kind torings uit blokkies bou. 
  • Bou saam legkaarte. 
  • Gee klei, verf, kryte en pen en papier. 
  • Gebruik vorms in spel.
  • Laat sy verskillende teksture voel.
  • Help haar om dinge uit mekaar te haal en weer aan mekaar te sit. 

Kinesteties-intelligent - liggaamslim

  • Neem jou kind uit in die buitelug. 
  • Speel nabootsingspeletjies. 
  • Voer saam met jou kind ’n toneeltjie op. 
  • Laat jou kind fietsry, trampolien spring of dans.
  • Neem aan ’n skattejag deel.

Intrapersoonlik - self

  • Vra jou kind om haar gevoelens te deel. 
  • Help haar op die rekenaar werk. 
  • Hou saam rekord van haar aktiwiteite, soos foto’s, sketse of ’n dagboek as sy ouer is. 
  • Gee jou kind kans om dit wat sy leer, te ontleed. 
  • Moedig ’n stokperdjie aan wat sy nou al self kan beoefen, soos ’n blaarversameling. 

Maak jou kind veelvlakkig slim

Die Kaapstadse sielkundige dr. ST Potgieter het dié wenke vir stimulasie:

  1. Gee jou kind blootstelling aan ’n verskeidenheid dinge, plekke en geleent­hede. 
  2. Neem hom na plekke soos museums, die hawe, die stad, die plaas, planetarium. 
  3. Kommunikeer en gesels met hom, vra vrae en doen moeite as jou kind vir jou iets vra.
  4. Stel hom aan verskillende aktiwiteite bloot, soos musiek, sport, kultuur en sosiale interaksie.
  5. Laat jou kind legkaarte bou, inkleur, teken, breingim doen, lees en skaak speel.
  6. Moenie alles vir jou kind doen nie, maar lei hom om self te ontdek en self te leer en kreatief te wees.
  7. Moenie dat hy te veel TV kyk nie. Beperk video- en rekenaarspeletjies sodat kinders nie heeltyd voor die skerm sit nie. Kinders moet aktief betrokke raak by ander dinge soos skaak, musiek en sport.
  8. Moenie wag vir eendag om jou kind te stimuleer nie – begin dadelik en van vroeg af.
  9. Gebruik opvoedkundige leerstof en hulpmiddels om jou kind te leer redeneer, logies te dink en hand-oog-koördinasie te ontwikkel. Daar is wonderlike hulpmiddels om jou kind te stimuleer soos wiskunde en taal.
  10. Voorsien ’n veilige hawe waar kinders kan waag en probeer en foute maak. Só daag jy jou kinders uit om ’n bietjie verder te dink en te probeer eerder as om moed te verloor.
  11. Sorg dat jou kind gesond eet, genoeg oefen en genoeg slaap inkry.
  12. Leer jou kind hoe om te konsentreer en fokus.
  13. Voorsien ’n ryk omgewing en stimuleer al die aspekte van intelligensie.
  14. Moenie jou kind se kindwees wegneem nie, maar gebruik sy natuurlike nuuskierigheid en energie om hom die nodige blootstelling, uitdaging en stimulering te gee.

Onthou altyd

Intelligensie is nie alles nie. Die Amerikaanse digter Ralph Waldo Emerson en die menseregte-aktivis Martin Luther King is albei bekend daarvoor dat hulle geglo het karakter is “hoër” as intellek. Moet dus nie jou kind probeer vorm tot iets wat hy nie is nie. Om nuwe dinge te ontdek en te leer, moet nooit vir jou kind ’n pyniging wees nie. Help hom om sy eie talente en vaardighede te ontwikkel.

Baie dankie aan dr. ST Potgieter vir sy hulp met dié artikel. Vind hom by www.pitkos.co.za of 021-949-5007.

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - No comments yet