Your emotional child

Emosionele ontwikkeling

Wat gaan aan in die gemoed van ’n 6 maande oue baba? Hoe help jy ’n 3-jarige om sy gevoelens te verwoord? Watter emosionele behoeftes het ’n kind van 6 of 7? Ons plaas jou spruit se gevoelslewe onder die vergrootglas en wys jou hoe om ’n emosioneel intelligente kind groot te maak wat sy volle potensiaal kan verwesenlik en eendag ’n goed aangepaste, suksesvolle en weerbare mens kan wees.

SHARE

 
Emosionele ontwikkeling
 
 
 

Hoe hanteer jy teleurstelling? Hartseer? Woede? Konflik?

Dís alles emosionele vaardighede wat jou voorskoolse kind onder die knie moet kry – en hy leer dit alles by jou, sê Rina de Klerk, ’n Gautengse kenner van emosionele intelligensie. Hoe jy jou en ander mense se gevoelens hanteer, is dus baie belangrik.

“As jy dit kan regkry om die emosionele intelligensie in jou gesin te verhoog, kan jy sorg dat julle almal beter toegerus is om enige uitdaging die hoof te bied,” sê Rina.

Sy sê emosioneel intelligente kinders is gewoonlik beter in staat om hul potensiaal te verwesenlik, kom beter met hul maats oor die weg en het minder gedragsprobleme. Hulle baklei ook minder met hul ouers en wys respek vir ander se emosies, waardes en persepsies. Hulle kan hulself laat geld en beter weerstand bied teen slegte invloede.

So ’n kind sal ook ...

  • oor selfkennis beskik, positief oor homself dink en voel en bereid wees om te waag.
  • in staat wees om sy gevoelens te ken, aanvaar, beheer en in woorde om te sit. Hy sal negatiewe denkpatrone kan herken en dit deur meer konstruktiewe denkpatrone kan vervang.
  • terugslae as deel van die lewe aanvaar, uit sy ervarings leer, en makliker daarvan herstel.
  • goed nadink oor besluite wat hy moet neem en geskille met ander mense konstruktief kan oplos.
  • minder negatiewe en meer positiewe gevoelens ervaar.

Emosionele ontwikkeling, jaar vir jaar

0 tot 2 jaar

Jou baba se heel eerste uitdrukking van emosie is om te huil en later om te glimlag, sê Rina.
“Teen 3 maande het hy reeds ’n wye raamwerk van gesigsuitdrukkings en sal hy dit begin benut om jou aandag te kry.”

Rina beklemtoon dat jou reaksie op jou baba se emosies die boustene vorm van sy vermoë om later empatie te hê en verhoudinge te bou. “Wat hy hier leer, is dat een mens ’n invloed op ander se emosies kan hê.”

Jou eie emosies is nou baie belangrik, sê Rina. “Jou baba het nog geen insig of emosionele beheer nie. Hy begin emosionele seine aanleer deur jou en jou maat se reaksies. Dis belangrik dat jy baie oogkontak maak en reageer op jou baba se emosies. Gee erkenning aan sy ontwikkelingspogings, bestee tyd saam met hom en maak saam pret. Gesels deurentyd met hom en neem hom saam op uitstappies, ook in die natuur.”

Rina beveel aan dat jy vanaf 6 maande daarop fokus om jou kind se gevoelens te bekragtig. “Raak jy moeg?” “Voel jy hartseer?” Dis ook die tyd wanneer skeidingsangs begin.

“Jou kind leer nou basiese gevoelens soos hartseer of geluk ken. Gee hom sekuriteit en roetine. Jy is die rolmodel, selfs in dié vroeë stadium. Prys hom vir elke poging en wees trots op wat jou kind bereik.”

2 tot 3 jaar

Jou aspatat kan nou al sy gevoelens in woorde begin uitdruk en begin om oor emosies na te dink. Tog kan hy nog op frustrasie reageer deur te huil, skop of te byt, of deur woedend te raak as jy hom teregwys.

Gee jou kind beperkte keuses, raai Rina aan, en bekragtig sy emosies. “Jou eie emosionele beheer is noodsaaklik, aangesien jy moeilik kan dink hoe om ’n saak reg te hanteer terwyl jou eie gevoelens met jou weghardloop. Onthou om jouself altyd af te vra: ‘Wat is my einddoel?’ en ‘Wat wil ek hê moet my kind hieruit leer?’ Dan is dit soveel makliker om te weet hoe om op te tree.”

4 tot 5 jaar

Jou kind ervaar nou al dieselfde emosies as jy en gee onbeteueld uitdrukking daaraan deur gedrag, soos om lekker te lag of in woede uit te bars. Die riglyne vir aanvaarbare gedrag is nou baie belangrik. Hy sal dit geniet om gehoorsaam te wees en hy blom as jy hom prys.

Jou kind se “innerlike gesprek” ontwikkel ook nou en dit beïnvloed sy verstandelike beheer. Hy leer ingesteldhede oor reg en verkeerd. Tipies van hierdie ouderdom is verskillende vrese, soos ’n vrees vir die donker. Bekragtig sy emosies en stel hom gerus. Glo in jou kind se vermoëns en moedig hom aan.

6 tot 7 jaar

Groepsbetrokkenheid is nou vir jou kind belangrik en hy kan al reëlgebonde speletjies speel. Jou kind wil “in” wees, sê Rina. “Help hom om by die groep in te pas. Skep geleenthede vir interaksie met ander kinders.”

Hy kan ook nou soms meer emosioneel wees en sy gevoelens lug eerder as beheer. Hy kan vir omtrent al sy gevoelens al ’n naam gee.

Jou kind floreer op lof en aanvaarding. Lees vir hom stories waaruit hy ’n lewensles kan leer en werk harder om hom te help om sy gevoelens te verstaan en beheer.

Noem dit by die naam

Dis uiters belangrik dat jou kind moet kan sê hoe hy voel, sê Rina, maar ongelukkig het kinders dikwels ’n baie klein gevoelswoordeskat wat wissel tussen hartseer, kwaad en gelukkig.

Emosies gee ’n mens inligting gee oor jou behoeftes en denke. Jy kan dus nie ’n klomp verskillende emosies dieselfde naam gee nie, want hoe gaan jy weet wat werklik jou behoefte is en wat die denkpatroon is wat jy moet wysig?

Volgens Rina is daar verskeie maniere waarop ouers kinders kan help om hul gevoelens beter uit te druk

  1. Wees ’n rolmodel deur jou eie emosies in woorde om te sit. Onthou dat daar ’n verskil is tussen die emosies verwoord en gedrag. Alle emosies is aanvaarbaar, maar nie alle gedrag nie. Jy mag sê jy is teleurgesteld omdat hy nie sy huiswerk gedoen het nie, maar jy mag nie skree omdat jy kwaad is daaroor nie.
  2. Blaai saam met jou kind deur ’n tydskrif en vra hoe hy dink die mense op die prentjie voel en hoekom hy so sê.
  3. Vra hom om voor ’n spieël te staan en verskillende gesigte te trek en help hom dan om die emosie te benoem. Jy kan lekker saam gesig trek!

As dit by seuntjies kom ...

Dis steeds nie ongewoon vir mense om te meen dat seuntjies nie mag huil nie, maar Rina beklemtoon dat dit belangrik is dat ook seuntjies toestemming moet kry om te huil en hul emosies te wys.

“Hulle ervaar dieselfde gevoelens as meisies en as hulle dit onderdruk, kan dit hul immuunstelsel ondermyn, hulle kan obsessiewe gedrag ontwikkel of ontplof en totaal oorreageer vanweë onderdrukte emosies,” verduidelik sy.

“Onthou, jou emosies gee die energie wat jou motiveer – dis ’n onlosmaaklike deel van jou menswees.”

Die moeiliker emosies

Dis heerlik om positiewe gevoelens soos geluk en vreugde in jou kinders te sien, maar vir die meeste van ons is negatiewe emosies soos woede, frustrasie of hartseer moeiliker om te hanteer.

Rina beklemtoon dat negatiewe emosies net so belangrik is soos positiewe emosies. Sy sê die goue reël is weer dat alle gevoelens aanvaarbaar is, maar nie alle gedrag nie.

Hier is haar riglyne

  1. Word bewus van jou kind se emosie. Luister met aandag en empatie.
  2. Erken die emosie as ’n geleentheid vir intimiteit en ’n geleentheid vir jou om jou kind nuwe vaardighede te leer wat hy later gaan nodig hê wanneer jy nie daar is nie.
  3. Help jou kind om die woorde te vind wat sy emosie benoem, soos “Voel jy hartseer?”
  4. Help hom om oor sy persepsies te praat en dit te toets: “Hoekom dink jy sy hou nie van jou nie?”
  5. Moedig hom aan om nie op sy aanvanklike gevoelens te reageer nie, maar eers oor die groter geheel na te dink en dan te besluit oor die beste optrede.
  6. Laat jou kind eers self oplossings bedink en voeg dan jou idees by deur saam ’n dinkskrum te hou. Stel grense vir die oplossing van die probleem gegrond op gesinswaardes. Vra eers: “Wat sal jou laat beter voel as jy hartseer/kwaad/gefrustreerd is?” Doen dan gepaste uitlaatkleppe vir sy gevoelens aan die hand. “Hoekom teken jy nie ’n prentjie van hoe jy voel nie?” of: “Kom ons gaan ry fiets om stoom af te blaas.”

‘Hy is woedend oor sy speelding’

Situasie: “My seuntjie (2) se maatjie het sy gunsteling-karretjie gebreek. Hy is woedend daaroor en wil hom net te lyf gaan.”

Rina se oplossing: “Ons moet onthou woede is ’n sekondêre emosie. Onder die woede was hy dalk baie teleurgesteld en hartseer omdat sy gunsteling-karretjie gebreek is. Hy het empatie nodig: ‘Jou hart is baie seer omdat jou karretjie gebreek is. Dink jy ons moet volgende keer jou gunsteling-goed eerder bêre wanneer die maatjie kom kuier?’

As hy steeds kwaad is, laat hom ’n kussing slaan of op sy skopfiets ry om die liggaamlike uitwerking van sy gevoelens te verwerk.

‘Sy is hartseer oor haar pappa’

Situasie: “Elke keer wanneer my man vir werk moet weggaan, huil my dogtertjie (4) hartverskeurend.”

Rina se oplossing: “Jy kan haar help deur haar voor te berei en haar gevoelens te bekragtig: ‘Dit lyk vir mamma of jou hart altyd baie seer is as pappa weggaan, want jy mis hom. Wat dink jy kan ons doen om dit makliker te maak? Dink jy ons kan vir hom ’n briefie en ’n foto van jou saamgee, of moet ons ’n video maak waarop hy vir jou boodskappies gee, of moet ek jou help om elke aand vir hom ’n boodskap te SMS?’ "

 
 
 
Shanda Luyt

Shanda Luyt

Shanda Luyt stap al meer as 10 jaar die pad saam met Baba & Kleuter, eers as  assistent-redakteur en deesdae as vryskutskrywer. Sy is 'n ma van drie en is  passievol daaroor dat alle ouers verdien om ingeligte keuses te kan maak na  gelang van hulle en hul kinders se unieke behoeftes en omstandighede. Sy woon in Humansdorp in die Oos-Kaap.

Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 13 comments

maritsa

Baie goeie raad. Sal my beslis kan help met my 3 Jarige seun.Het ook die vreeslikste gedrag. Begin slaan skree tantrum erg so die tipe Hulp altyd welkom.baie dankie
Posted on Thu, Jun 12th 2014, 20:45

RITA

My kleindogter is nou nege jaar oud en sy is baie geheg aan my haar Ouma,sy mag altyd op n Vrydagaand by my oorslaap maar sy rek die storie al hoe meer uit. Sy wil nou graag die hele naweek by my kom bly en gedurende die week is sy dan by haar Ma. Ek weet egter nie hoe ek dit moet hanteer nie,want sy is altyd baie hartseer as sy moet huistoe gaan. Sy is ook baie lief vir haar Ma daar is nie fout by die huis nie, maar ek wil nie iets begin as dit later vir haar probleme gaan veroorsaak nie. Ek sal n antwoord waardeer. Baie dankie
Posted on Tue, May 27th 2014, 09:36

Elizma

My dogtertjie is 6 jaar oud en sy is oor die algemeen 'n borrelemde kind wat net ken van lag en grappies maak. Ek sukkel wel baie met skeiding, as ek haar by die skool aflaai in die oggende is dit 'n groot styd. Sy huil vreeslik en klou aan my en wil nie los nie. Haar pa is meer as 'n jaar terug oorlede en ek is enkel ouer. Ek werk deur die week en naweke spandeer ek saam haar. Help asb om die skeiding makliker te maak vir albei...
Posted on Thu, Feb 13th 2014, 14:57

Altea

Ek is 'n kleuterskool-juffrou en sukkel geweldig met "n dogtertjie in my klas (3-4 jaar) met skeidingsangs. Sy huil vreeslik as mamma haar aflaai, maar is nooit huiwerig om na my toe te kom nie. Daarna sal sy heeltyd vir my se sy wil nie verf...ens en sodra ons begin dan wil sy deelneem, maar sodra ek met die ander maatjies besig raak sal sy begin kerm en HEELTYD vra "wanneer kom my ma." Indien ek nie dadelik antwoord nie sal sy die woorde begin skree en huil (amper soos 'n tantrum) Ons weet nie meer wat om te doen nie. mamma het al haar grimeersakkie ook agter gelos sodat sy kan sien mamma gaan terug kom.
Posted on Fri, Feb 7th 2014, 16:46

Chanel

Goeie dag, ek het raad nodig, my seun 4 is so maand terug deur n meisiekind 5 op die skool terein "kleuterskool" aangeraak! en by aangeraak bedoel ek dat sy vir hom seksueel gewys het wat sy met hom kan doen,en toe bedye sy hom hoe om dit als stap vir stap te doen met haar,en toe doen sy dit met hom!sedert die geval,is my kind baie agrisief as dit by liefde toon kom,hy stoot my weg as ek selfs net mooi met hom gesels,ek weet nie meet wat om te doen nie,kan iemand my asb help
Posted on Wed, Jan 8th 2014, 10:07

Janine

Ons seuntjie (6) het 'n emosionele agterstand. Hy huil maklik & was geboelie by die skool. Hy neem dit baie ter harte as kinders hom spot omdat hy 'n maroon hemp aan het - hul sê dis pers & seuns dra nie pers nie. Hy't afgelope kwartaal 2X gehuil toe ons hom by sy klas gelos het. Wou teruggan huis toe saam met ons. 1ste dag wat hy gehuil het, het 'n ander kind hom gespot dat hy 'n baba is. Hy doen toe iets wat hy nog nooit gedoen het nie: hy slaan die ander kind & hul al2 skop & slaan toe sommer mekaar. Sy juf wil hê hy moet kinders wat hom spot ignoreer, maar hy kry dit nie reg nie. En is dit dan regverdig dat HY altyd HUL moet ignoreer? Hoekom nie die spotters stop nie? Sy juf wil my sien in die nuwe kwartaal & ek's seker sy gaan vir my sê hy moet emosioneel sterker word. Wat sê ek vir haar? Sy oupa is 2jaar gelede oorlede & sedertdien is hy paar stappe terug wat emosionele gedrag betref.
Posted on Mon, Sep 23rd 2013, 15:40

Sanri

My seun is 13 en 'n ADHD-leier - hy is tans op Concerta in samewerking met 'n mediese praktisyn op aanbeveling van 'n neuropediater. Dit wil voorkom of hy nou ook aan depressive begin lei. Is dit moontlik? Waar kry ek hulp?
Posted on Fri, Jul 26th 2013, 11:18

yolande

dag se, ek het hulp nodig, my seuntjie nou tans 5 geword is party dae onmoontlik by die skool soos vandag wil hy nie in die klas luister nie en klim onder sy stoel en begin die ander maaitjies skop en toe die juffrou met hom raas toe begin hy sy kryte breek, dis nie elke dag se optrede nie, hy is die enigste kind in die huis en soms by die huis in hy ook net on hanteer baar as mens met hom raas dan doen hy die sulking ding en as ek nie betyds vir hom luister nie dan sal hy ook vir my se moet ek altyd met jou praat en praat en raas? is die goed normal?? meeste van die tyd dink ek hy is wonderlike daar gaan weke verby dat hy nie so moelik is nie maar party dae gee hy moeilik n ander betekenis? gee my asseblief bietjie raad
Posted on Wed, Jun 5th 2013, 13:59

onbekend

Ek het 'n vraag, my kind was laas jaar baie in die hospitaal met die gevolg is hy het baie agterstand in die kleutskool gekry, hy word julie maand 4 jaar oud en is nou in die klassie van die 2 tot 3 jariges. Ek wil net graag weet, hulle se dat my kind nie emosioneel gereed is om aan te beweeg na die ouer klassie nie en dat dit sy selfbeeld sal afbreek. Ek is nou net bang dat dit hom sal beinvloed en hom 'n jaar later sal laat skool toe gaan. Help asseblief want ek (kan nie) laat my kind 'n jaar agter wees met sy skool loopbaan nie.
Posted on Fri, Mar 1st 2013, 18:09

Linda

Ons het regtig riglyne nodig vir ons 4 jarige dogtertjie. Sy het tweeling boeties wat nou in 'n maand 2 word en toon deesdae baie negatiewe emosies. Dit is ongelukkig dat die tweeling soveel van ons tyd vat en dat ons haar afskeep!!! Ek en my man probeer regtig hard om met haar tyd te spandeer maar dis is asof sy 'n woede het teenoor ons en teenoor haar boeties. Ek wil nie he sy moet dink ons het haar lief nie!! Sy word ook nou baie ongehoorsaam. Enige raad? Hoe hanteer mens dit?
Posted on Thu, Feb 28th 2013, 13:28

Yvonne Crafford

Ek en my man is Desember 2012 1 jaar getroud. Hyt 'n 2 en 10maande oue seuntjie uit 'n vorige verhouding. Hy bly by ons. Hy vra vir iets en wanneer dit vir hom gegee word dan wil hy dit nie he nie en wanneer ek dit vat om te bere dan wil hy dit weer he wanneer ek dit die derde keer vir hom gee en hy dit nie wil he nie dan bere ek dit en se hy kan dit nie kry nie. Die gevolg dan is dat hy 'n tantrum gooi. Ek stuur hom dan kamer toe maar dit help nie hy hou aan. Dis frustreerend. Hoe stop 'n mens dit.
Posted on Fri, Jan 18th 2013, 09:33

Michelle

My seun, Michael is nou 8 oppad 9 toe. Hy is baie negatief en dis alles voel ek my en my man se skuld. Groot daarvan dink ek ook baie kom uit jaloesie uit, vandat sy sussie gebore is (sy is nou oppad 3 toe). En dis nie dat sy bevoordeel word nie, sy is kleiner en het ander behoeftes, het dit ook so aan hom verduidelik al. Hy sal haar tot ook partykeer tart en kwaad maak dat sy heeltyd huil en kwaad raak vir hom, dis wanneer sy ook nie terug staan nie en hom begin klappe uit deel. My huis klink soos 'n mal huis na so episode en dis omtrent elke dag! En pa werk weg, is een keer in 'n maand by die huis vir die naweek. So hy kan my nie altyd bystaan nie en dis ook darem te erg as die kinders hom so min sien en hul kry raas as hy by die huis is. Ons seun voel ek het geen respek teenoor my nie, hy praat ombeskof met my en gil ook op my, wat my ook dadelik so op my perdjie wil spring en ek hom skel oor die manier wat hy my praat. My man sê dis oor ek hom nie kort vat nie en toe laat dat hy met my so praat. Maar die waarheid is ek vat hom kort, het al alles probeer, tigting, gepraat met hom en gesê hy maak my hart seer! Ek is raad op en weet nie meer! Dis of hy my haat, het selwers nou die dag gesê hy soek 'n ander familie! Ek ken nie meer my kind nie en weet nie hoe om die situasie te hanteer nie. Het jul enige raad? :(
Posted on Tue, Feb 21st 2012, 16:23

Sune

My seuntjie Dieter is 21 maande oud en hy is op die stadium baie besitlik. Ons woon op `n plaas met sy klein neef wat 6 maande ouer is as hy. Die nefie Dirkie is meer toegeeflik van geaardheid ons wil dat hy die hele tyd net moet toegee nie. Dieter wil niks deel nie `n nuwe stadium wat hy nou betree. Dieter, is moeilik in die sin dat hy heeldag vir die laaste week moan en huil geluidjies maak. Hy soek baie aandag ek ken hom nie so nie en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie. Hy toets my ook ongelooflik baie. Hoe leer ek hom om met Dirkie te deel maar hom ook te leer dat hy ook goed het as jy verstaan wat ek bedoel. Volgens Hettie Britzz se boek kweek kinders met karakter is my seuntjie is palmroos (Dieter sterk persoonlikheid glad nie skaam en `n leiertjie) en Dirkie `n sierpalm (bang en teruggetrokke) Ons wil al die kinders se persoonlikhede boost en wil graag rus en vrede dit ? Hoe doen ons dit
Posted on Thu, Aug 5th 2010, 16:59
Mom to Mom Feed
Poll

What do you buy online?

Nappies
Clothing
Toys
Books, DVD's, CD's