Allergies

Alles oor allergieë

Grondboontjies, bysteke, kathare... is jou kind allergies? Hier's 'n vinnige gids.

SHARE

 
Alles oor allergieë
 
 
 

Die een oomblik het julle nog piekniek gehou; die volgende sien jy voor jou oë hoe jou kind se gesig soos ’n ballon opblaas terwyl hy swaar begin asemhaal. Dan gewaar jy die sondaar: die heuningby wat saam met hom van sy blikkie koeldrank wou drink ...

Ná jou kind se tweede verjaardag kan ’n verskeidenheid allergieë begin inskop wat op hul minste ’n lastigheid is en op hul ergste lewensgevaarlik kan wees. Ons bekyk die algemeenstes, en hoe julle dit kan beheer.

’n Allergie is eintlik niks anders nie as ’n oorreaksie deur ons immuunstelsel.

Die immuunstelsel beskerm ons liggaam teen skadelike indringers (soos kieme) deur teenliggaampies te vervaardig wat dié indringers aanval. Maar as iemand ’n allergie het, vervaardig die liggaam teenliggaampies teen ’n “indringer” wat eintlik glad nie skadelik is nie, soos ’n kossoort.
Dié immuunreaksie kan ’n verskeidenheid simptome tot gevolg hê, soos ekseem, galbulte, toe neus, braking, fluitbors, gesigswelling, maagkrampe en bewusteloosheid. Iemand met ’n ernstige allergie kan selfs sukkel om asem te kry, wat lewensbedreigend is.

As jy allergies is, is jou immuunstelsel dus onverdraagsaam teenoor iets wat hy eintlik moes aanvaar het, verduidelik dr. Cathy van Rooyen van die Allergiekliniek in Pretoria.

Die stowwe waarvoor ons allergies is, word allergene genoem.

Cathy sê die immuunstelsel het verskillende bane, en dit bepaal of die allergeen ’n onmiddellike of vertraagde reaksie sal veroorsaak.

Tot op twee jaar oud is verskillende soorte kos die algemeenste allergene, maar namate jou kind ouer raak, kan daar ander bykom soos inseksteke, stof, stuifmeel en swamme.

Inseksteke

Die insek waarvoor die meeste kinders in ons land allergies is, is die heuningby. ’n Kind kan egter vir enigiets van ’n perdeby tot ’n muskiet allergies wees, sê Cathy. Een bysteek is genoeg om ’n allergiese reaksie te veroorsaak.

’n Bysteek kan swelling veroorsaak, jou kind kan galbulte oor sy hele lyfie kry, sy lippe en oë kan opswel, sy bors kan toetrek en hy kan sukkel om asem te haal. Die grootste gevaar is dat hy ’n allergiese skokreaksie (anafilakse) kry, wat simptome insluit soos swelling, sametrekking van longbuisies, hartversaking, sirkulasie-ineenstorting en selfs die dood.

As jou kind die eerste keer deur ’n by gesteek word, hou hom goed dop. Dit sal ’n bietjie rooi wees en ’n knoppie sal vorm, maar as daar tekens is van baie swelling, galbulte of ander ernstige simptome, moet jy hospitaal toe jaag.

As jou kind allergies is, hou altyd medikasie byderhand. Jy kan hom ook minder sensitief vir bysteke maak met ’n reeks inspuitings wat oor drie tot vyf jaar strek. Dié behandeling word desensitisasie genoem en baie mediese fondse betaal daarvoor.

Inhalante

Inhalante is allergene wat ’n mens inasem en sluit huisstof, diere, stuifmeel en swamme in.

“Die grooste probleem is gewoonlik gras of grasstuifmeel, en daarna huisstofmyte, troeteldiere en swamme,” sê Cathy. “Dit hang dikwels af waar jy woon. In die Kaap is swamme en stofmyte meer algemeen, terwyl gras in Gauteng die grootste probleem is.”

Die simptome van dié allergene stem taamlik ooreen en wissel van sinusprobleme en hooikoors tot asma – dit verskil van persoon tot persoon. Jou kind se ore kan jeuk, sy neusie kan loop, sy oë kan rooi wees en jeuk, hy kan baie nies of met ’n toe neus sukkel. As die allergeen aan hom raak, kan hy ook ’n uitslag kry.

’n Allergie vir inhalante is selde gevaarlik, maar daar is wel die risiko van ’n fatale asma-aanval.
Die eerste stap is om jou kind te laat toets om vas te stel of hy wel allergies is en waarvoor. Inspuitings kan hom minder sensitief vir die allergeen maak, terwyl middels soos antihistamien en neussproei die simptome kan onderdruk.

  • Stuifmeel: Behalwe vir desensitisasie (sien hierbo) is daar nie veel wat jy kan doen om dié allergie te voorkom nie omdat stuifmeel in die lug is. Probeer voorkom dat jou kind in die veld stap of op die gras rol.
  • Huisstofmyte: Dis mikroskopies klein goggatjies (kleiner as ’n stofdeeltjie) wat van menslike velskubbe leef. Dit kom veral voor in matrasse, beddegoed, matte, sagte bekleedsel en op speelgoed. ’n Mens kan matras- en kussingbeskermers koop wat teen stofmyte bestand is, en dis ’n goeie plan om alle beddegoed bo 60 grade Celsius te was. Jy kan ook die matte uit jou huis verwyder of ’n spesiale stofsuier kry wat stofmyte uitfiltreer. (Nie alle stofsuiers doen dit nie: Jou stofsuier moet deur water filtreer of ’n HEPA-filter hê). Daar is ook ’n huisstofsproei wat die myte doodmaak.
  • Swamme: Dis veral ’n probleem by die kus, maar kom dwarsoor Suid Afrika voor. Mense is vir verskillende swamme allergies, maar die grootste sondaar is die spore van alternaria, wat binne en buite die huis voorkom. Dié swamme groei op klam plekke binne-in die huis en op verrotte plantmateriaal. Vermy dus klam lappe en ander klam dinge in jou huis, maak vensters oop waar stoom opbou en hou jou tuimeldroër liefs buitenshuis. Was teëls met ’n flou Jik-oplossing om die swamme dood te maak.
  • Troeteldiere: Katte is die troeteldiere wat die meeste allergieë veroorsaak. Sekere rasse soos Burmese katte is groter sondaars as ander. Dit maak nie saak of die kat lang of kort hare het nie: ’n Mens is eintlik allergies vir die kat se speeksel, wat op die hare beland wanneer die kat homself lek. Dieselfde geld honde.

Ideaal gesproke moet ’n mens van jou troeteldier ontslae raak, sê Cathy, maar dis nie altyd prakties nie. Jy kan help deur jou troeteldier een keer ’n week te bad om die speeksel af te was, en deur jou troeteldiere verkieslik buite te hou, of minstens uit die slaapkamers.

Soms is ’n antihistamien voldoende, maar vir ’n kind wat baie allergies is, is desensitisasie (sien hierbo) ’n goeie oplossing.

Het jy geweet?

’n Mens is nie as sodanig allergies vir rook nie, maar rook is ’n irritant wat allergieë kan vererger en ook kan bydra tot die ontwikkeling van allergieë.

Grondboontjies

Die allergie vir grondboontjies is aan die toeneem in Suid-Afrika en is ’n baie ernstige allergie omdat dit ’n allergiese skokreaksie kan veroorsaak wat dodelik is, sê Cathy.

“Party mense is selfs so allergies vir grondboontjies dat hulle reageer as hulle net naby iemand kom wat grondboontjies geëet het,” sê sy.

’n Kind kry nie noodwendig ’n allergiese reaksie die eerste keer dat hy grondboontjies eet nie, maar hy kan gaandeweg meer sensitief daarvoor raak tot hy ’n punt bereik waar allergiese simptome wel uitbars.

Daar word aanbeveel dat kinders met ’n allergiese familiegeskiedenis nie voor hul vyfde verjaardag grondboontjies eet nie. Ander kinders moet liefs nie grondboontjies eet voor hulle twee of drie jaar oud is nie.

Ongelukkig kan kinders nie teen grondboontjies gedesensitiseer word nie en voorkoming is die enigste behandeling.

Grondboontjies is een van die allergene wat op voedseletikette aangedui moet word. Lees dus die etikette baie mooi. Daar is ook ander produkte wat grondboontjies in het. Wees veral versigtig vir velprodukte met grondboontjie-olie as basis – op die etiket word dit arachis oil genoem, sê Cathy.

As jou kind ’n ernstige grondboontjie-allergie het en per ongeluk ’n vorm van grondboontjies inkry, moet jy so gou moontlik noodmedisyne soos deur jou dokter voorgeskryf toedien en hospitaal toe jaag.

Penisillien

Virusse veroorsaak dikwels ’n uitslag – as jou kind dus vir ’n infeksie met penisillien behandel word en hy kry ’n uitslag, beteken dit nie noodwendig hy is allergies vir dié antibiotikum nie. Laat toets hom om seker te maak.

’n Kind wat vir penisillien allergies is, kan ’n uitslag kry, asook galbulte, asemnood en anafilakse (sien bo).

As jou kind vir penisillien allergies is, moet jy saam met jou dokter ’n veilige alternatief vir die toekoms vind omdat kinders wat vir een soort medisyne allergies is, dikwels op ander soorte ook reageer.

’n MedicAlert-snoer of -armband wat aandui dat iemand allergies is wanneer hulle dit nie self vir ’n paramedikus of dokter kan sê nie (byvoorbeeld wanneer hulle in ’n ongeluk beseer is), is ook ’n goeie plan (lees hieronder hoe om een te kry).

Wat jy kan doen

Allergietoetse

As jy jou kind vir allergieë wil laat toets, moet jy dit liefs deur jou dokter doen om seker te maak die toetse het ’n wetenskaplike basis, sê Cathy.

Wetenskaplik gefundeerde toetse behels velpriktoetse, plaktoetse of bloedtoetse wat deur patologie-laboratoriums gedoen word.

Cathy sê geen toets is 100 persent betroubaar nie, maar dit kan saam met ’n betroubare geskiedenis jou dokter in staat stel om ’n allergie te identifiseer.

MedicAlert-bandjies

MedicAlert-bandjies het al menige allergiese kind se lewe gered omdat dit mense dadelik inlig waarvoor ’n kind allergies is. Jou dokter of apteker behoort ’n aansoekvorm te hê, maar jy kan ook een by MedicAlert aanvra. Die aansluitingsfooi is R150 en sluit die eerste bandjie in. Bel MedicAlert by 012-425-7328 vir meer inligting.

Warm webwerf
www.allergysa.org

‘Hy mag nie eens aan grondbone raak nie’

Bridget Hudson van Johannesburg se seuntjie, Liam (7), is allergies vir grondboontjies. Sy vertel:
“Liam was omtrent vier maande oud en op borsmelk toe hy ekseem begin kry. Sy pediater het ’n bloedtoets gedoen en die ding waarvoor hy die meeste allergies was, was grondboontjies. Hulle het gesê sy allergie is so erg dat hy glad nie grondboontjies mag eet of selfs daaraan mag raak nie.

“Van toe af moes ons alle grondboontjies uitskakel. Ons was tot dusver gelukkig en hy het nog nooit ’n allergiese reaksie gehad nie. Hy is self ook goed daarmee: Hy het nog altyd geweet hy is allergies en vermy dus enigiets wat grondboontjies bevat.

“Ek moes egter ook leer om my gesonde verstand te gebruik, want omtrent elke produk waarsku op die etiket dat dit elemente van grondboontjies kan bevat omdat dit in dieselfde fabriek gemaak word. Aan die begin het ek alles wat hy eet met ’n arendsoog dopgehou, maar deesdae is ek meer gemaklik met sy allergie. Almal by sy skool weet wel hy het ’n allergie en maak voorsiening daarvoor.”

 
 
 
Shanda Luyt

Shanda Luyt

Shanda Luyt stap al meer as 10 jaar die pad saam met Baba & Kleuter, eers as  assistent-redakteur en deesdae as vryskutskrywer. Sy is 'n ma van drie en is  passievol daaroor dat alle ouers verdien om ingeligte keuses te kan maak na  gelang van hulle en hul kinders se unieke behoeftes en omstandighede. Sy woon in Humansdorp in die Oos-Kaap.

Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 19 comments

Martie

Goeie dag, Ek wil graag weet hoe vinnig na n ete sal n mens n allergiese reaksie kan vas stel. Ons het geen allergie in on familie nie aan beide ons kante nie. Ek kan ook nie 100 % se dit is grondboontjie botter nie, omdat my seuntjie (7) nog altyd mal was daaroor en nooit n probleem gehad het nie. So paar weke gelede het dit begin lyk of daar wind is wat in sy ogies gewaai het en het met klein bietjie swelling gesit en rooiheid. Ons het aan geneem dit was wind en het oogdruppels in gegooi en gereeld sy ogies met syline solution uit gewas. Nou dat ek terug dink het hy omtrent elke dag gevra vir n peanut butter broodjie skool toe. Hy eet die gewoonlik sonder stroop of konfyt saam met bietjie margarien. Gister middag het ek van die werk af gekom en sy een ogie veral was baie rooi, ons het gery om te gaan eet en binne n kwessie van n half uur het dit gelyk of hy n blaas onder sy ogie kry. Ek en my man het gewonder of iets hom gebyt het en het onderneem om hom na ure to te vat by n 24 hour apteek en te gaan hoor. n verdere half uur later het ek gesien die blaas raak grotter en ons het n take away gevra en dadelik apteek toe gery. Voor ons by die apteek was was byde ogies geswel en letterlik n rooi pienk. Dit het gelyk of hy pienk eyeshadow aan het en dan nog die blaas onder die oog. Ons het in die ry gaan staan om met die apteker te praat toe ek opmerk hy krap sy magie aan houdend en ek het sy hempie op gelig en gesien daar is rooi kolletjies oor sy hele maag, rug, boudjies en bene. Ek het onmiddelik vir my man gevra wat het hy geeet vir middag ete omdat ek toe vermoed het dis n allergie. Hy het gese dat hy het sy ontbyt pap laterig die oggend geeet en was nie honger by 1 uur nie en het eers teen 4 uur gevra vir n peanut butter broodjie.... So dit het alles gebeur tussen 16:00 en 18:30. Die apteker het ook dadelig gese dis allergie en ons het n roompie en Allergex gekry, hy het gese ons moet dophou en kyk as sy mondjie swel of asemhalings probleme kry moet ons dr toe onmiddelik, tans was dit net n vel reaksie, (hy net gejeuk het en glad nie mooi gelyk het met die swelling nie). die apteker het gese my seuntjie lyk nie of hy n dr nodig het nie en ons het dadelik met die salf en allergex begin. Genadiglik 2 ure daarna was hy heelwat beter en vanoggend is alles verby en hy het geen uitslag, geen jeukirigheid of swelling nie. Is dit moontlik om te se dat hy n allergie het vir peanut butter? Of hoe maak ek nou?
Posted on Mon, May 25th 2015, 11:12

porsha-lee

Ek wil graag weet wat jy kan gebruik vir branding opi kop wat soos n allergie is dis dringend
Posted on Thu, May 21st 2015, 11:56

Nicolene

Ek sit met 'n geval waar my 4jarige dogtertjie se oe erg toe swel, die linker oog meer as die regter kant ene. Sy se dit brsnd en dit jik. Ek het haar so 3 weke by ons GP gehad hulle het haar getoete en gese sy allergies vir melk en ander suiwelprodukte. Maar nou het ek haar getoets, sy eet nogsteeds elke oggend haar pap met gewone melk volroom of lae vet en drink nogsteeds haar melk in haar tee en ens. Niks simptome wys dat sy allergies is vir dit wat die dr se nie. Haar bors trek ook nie toe nie. Ek het 'n ander dr gebel vir n 2de opinie wag nog om te hoor wat hy se. Kan iemand my n moontlik antwoord gee wat moontlik mag wees of wat dit kan veroorsaak?
Posted on Tue, May 12th 2015, 11:08

Nicolene

Ek sit met 'n geval waar my 4jarige dogtertjie se oe erg toe swel, die linker oog meer as die regter kant ene. Sy se dit brsnd en dit jik. Ek het haar so 3 weke by ons GP gehad hulle het haar getoete en gese sy allergies vir melk en ander suiwelprodukte. Maar nou het ek haar getoets, sy eet nogsteeds elke oggend haar pap met gewone melk volroom of lae vet en drink nogsteeds haar melk in haar tee en ens. Niks simptome wys dat sy allergies is vir dit wat die dr se nie. Haar bors trek ook nie toe nie. Ek het 'n ander dr gebel vir n 2de opinie wag nog om te hoor wat hy se. Kan iemand my n moontlik antwoord gee wat moontlik mag wees of wat dit kan veroorsaak?
Posted on Tue, May 12th 2015, 11:08

Sandra Wessels

Dr, ek het presies dieselfde as Riana Viljoen. My gesig het begin swell. Eers my lippe toe my wange, oë en neus.....galbullte het oor my lyf uitgeslaan met 'n ongelooflike gejeuk. Ek word behandel vir allergie, maar sodra ek 'n sooibrand pyn kry (geskeurde mantelvlies) en dit effe bedaar gebeur hierdie goed. Dit het al voorheen gebeur, maar nie gereeld nie. Lekker bly
Posted on Thu, Apr 30th 2015, 17:42

bets goosen

raadop! ek sukkel met 'n gejeuk op my arms en bene,glo my ek krap tot die bloed lettelik vloei drs vra vir my waarvoor ek allergies is,??'(n definitiewe allergie is sonneblomsade,maar ek reageer heeltemaal anders.i,) die gejeuk maak my arms en bene nogal"koorsig" en rooi, Antihistamienpille is deur 'n dr.voorgeskryf 1 x 3 pd,maar hoelank kan ek dit gebruik? ek is al moedeloos hoop u sal kan help ?
Posted on Sun, Apr 19th 2015, 11:07

Riana Viljoen

Ek sit nou al drie dae met n opgeswelde gesig tot by my keel dit jeuk verskriklik sodra ek vryf swel dit meer en meer, Wil weet of dit stres kan wees.
Posted on Sun, Feb 8th 2015, 09:56

Annalene Kruger

Goeie middag dr. Cathy Ek gaan U nie lank op hou nie. My suster se seun is nou 21 hy is 'n week terug gediagnoseer met allergie vir suiwel en graan produkte. Wat op des aarde bly daar oor om te eet. Ek sal dit onsettend waardeer as dr. my net 'n idee of twee kan gee oor wat hy vir ontbyt mag eet. Vriendelike Groete Annalene
Posted on Sun, Feb 16th 2014, 17:18

Joan

hi. My 4 year old daughter has a rash, looks like German measles. its only on her face, behind her ears, and the throat, her eyes is swollen, it is itchy. she has no fever or any other symptoms that she is ill. I had German measles about two weeks back. any advise
Posted on Wed, Sep 11th 2013, 12:49

Fran

My dogtertjie is ook getoets vir allergieë toe sy ongeveer 6 maande oud was. Ek het net daarna na Kempton Park getrek en 'n baie gewilde en gerespekteerde dokter het amper 'n oorval gekry dat sy gestuur was vir die toetse, aangesien daai toetse op so 'n klein babatjie nie akuraat is nie. Ongelukkig kan ek nie meer onthou van watter ouderdom dit akuraat getoets kan word nie. Die toetse as baba het ook gewys dat sy allergies is vir grondbone. Skrikkerig oor wat om te glo en wat nie, was ek maar versigtig, maar een oggend het ek haar by die kleuterskool gaan haal en alhoewel ek vir die juffrou gesê het sy is allergies, het sy met 'n Grondboontjiebotter broodjie in die handjie gesit. Ek het amper 'n oorval gekry en vir die juffrou gevra wat aangaan. O nee, sê sy, jou baba eet al lankal die grondboontjiebotter broodjies. Nou ja, dit was genoeg bewys om die tweede dr te glo!
Posted on Tue, Jul 23rd 2013, 20:15

Hannes Steyn

Bysteek: Ek is allergies vir bysteek en moet onmiddelik behandeling ontvang. Die interessante feit is dat ek nie vir sommige bysteek allergies is nie, die antwoord wat ek ontvang het oor die verskynsel is: Dit hang af waar die by sy stuifmeel bekom het. Maw van Sonneblom, roosbome,Bloekombome ens. ??? Dus is jy nie allergies vir bysteek nie maar vir die plant waar die stuifmeel vandaan kom. Ek kan egter geen kanse vat nie, want die by steek my en vertel my nie waar hy gewy het nie. Is daar enige verdere navorsing oor die verskynsel?
Posted on Wed, May 8th 2013, 08:01

barbara badenhorst

My son did bath the afternoon and nothing was wrong, the next morning he is full of bumps and is itchy, the things come and did take him to a drug store to get medisine and itch cream, they did give me celestamine then it become lighter en the next day it is all over again what can I do.
Posted on Fri, May 3rd 2013, 15:22

STEPHNIE VAN ZYL

Ek wil net hoor of Jul My kan help. my seun van 5 jaar het in die laaste maand tweekeer a uitslag gehaat wat lyk soos masels , maar na twee dae is als weg. geen koors. dankie
Posted on Wed, Apr 17th 2013, 11:03

Christa

my nek,wange is geswel en ook my bo-lip weet nie wat dit is nie daar is baie fyn knoppies op my nekgedeelte en gesig en arms en selfs op my bors. ek het vital medisyne geneem soos omega 3-6 , vitamin e, menoupose iets vir water (tissue salts no 11 nat sulph) en ek het die vorige aand avo geeet en tropica pynappel geur gehad en die volgende oggen was my nek en gedeelte van my gesig geswel sodat my nek effens styf gevoel het. [Christa, kan 'n erge allergiese reaksie wees op iets wat jy geëet het, selfs iets in die lug. Gaan asb dadelik apteek of dokter toe! Hoop jy kom reg - laat weet asb hoe dit gaan? - Sophia]
Posted on Wed, Feb 6th 2013, 10:01

Lindie

Hi, my kinders is nou 4 en 7jr. Hulle het van geboorte af verskriklike allegie. Hulle is allergies vir alles, stof, diere, verskillende kosse, melk, reuk van brandstof, sigerette ens. Ek dink nie daar is n ding waarvoor hulle nie allergies is nie. Die probleem is hulle is baie lief vir diere. Ek het al na gelees oor diere en die meeste is hulle voor allergies. Watter dier sal n mens kan aanhou? Ek is al moedeloos. Ek stoom hulle tot 4 keer n dag, anders kry hulle nie asem nie. Is daar enige dier of nie regtig nie? Dankie Lindie
Posted on Tue, Nov 20th 2012, 15:07

Esme Van Molendorff

My dogtertjie het nou die 11de november 2 geword en het n vieslike hoes aan haar gehad toe ek haar dokter toe vat se hy vir my sy het n alergie maar ons weet nie vir wat nie en dit pla my om uit te vind hoeveel daai toetse gaan kos en of die medies daarvoor sal betaal ons medies is klaar uitgepit wat kan ek doen?
Posted on Thu, Nov 24th 2011, 13:33

charmaine

goeie dag jule.my seun is 2jr,hys allergies v suiwel+eierwit.wat ek wil weet is,my seun se ergste ekseem is rondom sy doek area.dit lyk kompleet asof hy n onderbroeki aangehad het,en "getan"het,so erg rooi,en geswel is dit.hoekom?kan iemand help asb?danki
Posted on Mon, Nov 21st 2011, 12:27

sharon

Hi. Wat van eier allergie? My seuntjie het in anafalaktiese skok gegaan toe hy eier geet het.
Posted on Mon, Nov 21st 2011, 10:53

Ansie

Goeie dag, kan jul my meer inligting gee oor (Desensitisasie) Baie dankie
Posted on Tue, Jun 21st 2011, 13:05

Mom to Mom Feed