Big school

Huistaal, skooltaal, watter taal?

Moet jy jou kind in sy moedertaal grootmaak, of is dit beter om hom van die begin af in Engels te skool? Kundiges en ma's vertel wat hulle dink.

SHARE

 
Huistaal, skooltaal, watter taal?
 
 
 

Daar is dalk 11 amptelike tale in Suid-Afrika, maar omtrent almal staan terug vir een oorheersende taal: Engels. Al meer jong mense verkies om liewer vlot in Engels te wees as om hul moedertaal behoorlik onder die knie te kry. En baie ouers wat ’n ander taal as Engels by die huis praat, besluit om hul kinders na Engelse skole te stuur omdat hulle meen dit sal vir hulle meer beteken. Wat staan jóú te doen?

Die jong mense dink dis cool om Engels te praat, terwyl die oueres bloot dink Engels is die taal van die toekoms. Waarom dan sukkel met ’n moedertaal wat slegs deur ’n handjievol mense gepraat word?

’n Internasionale taalkenner en onderwyskundige waarsku egter dat dít nie die regte manier van dink is nie. Ouers verstaan dit nie altyd dat kinders ’n tweede en selfs ’n derde of vierde taal baie beter sal aanleer as die fondament in hul moedertaal gelê is nie. En dít is regoor die wêreld wetenskaplik bewys.

Só sê dr. Neville Alexander, internasionale taalkenner, onderwyskundige en direkteur van Praesa, ’n projek by die Universiteit van Kaapstad. (Praesa staan vir Project for the Study of Alternative Education in South Africa).

As ’n kind eers die konsep “hond” verstaan, is dit maklik om vir hom die woord “dog” te leer. Hy hoef nie weer die konsep te verstaan nie, hy leer net ’n ander woord vir dieselfde begrip. Só werk dit met alle ander begrippe, verduidelik Neville.

Moedertaal is belangrik

Hy sê daar is hoofsaaklik twee redes waarom moedertaal belangrik is.

“Die moedertaal is eerstens die taal waarin kinders die doeltreffendste kan leer. Dit is wel so dat veeltalige kinders (dit is kinders wat van geboorte af twee tale geleer het, en al twee ewe goed verstaan en praat) in enige taal kan leer, maar oor die algemeen leer kinders makliker in hul moedertaal.”

Ten tweede word kinders se identiteit baie sterk met hul moedertaal verbind. Volgens Neville beteken dit dat ’n kind gewoonweg meer tuis voel in die taal wat sy ma met hom praat en wat deur sy familie en vriende gepraat word. En ’n kind wat nie sukkel met sy identiteit nie, leer gewoonlik ook makliker.

Nou waarom dan die drang na Engels in ons samelewing? As jy nie self baie besorg daaroor is dat jou kind vroeg-vroeg al Engels moet verstaan en praat nie, ken jy waarskynlik ’n paar Afrikaanssprekende ma’s wat dit wel is.

Neville sê dié drang hang saam met die ekonomiese waarde van Engels, en dit is verstaanbaar. Jou kind gaan waarskynlik tersiêre opvoeding in Engels kry en Engels sal eendag die voertaal by sy werk wees.

Moet ons dus hierdie drang teenstaan? Nee, sê hy. “Wat ons wel moet teenstaan, is om ons eie taal, ons moedertaal, minderwaardig te ag.

“In Suid-Afrika is dit veral middelklas ouers met ’n ander moedertaal as Engels wat hul kinders na Engelse skole stuur,” sê Neville. Volgens hom is dít nie waar die probleem lê nie, want hierdie kinders word in ’n omgewing groot waar daar genoeg boeke en ander media is wat hul van jongs af aan Engels blootstel.

In werkersklasgesinne is dit egter ’n minder goeie plan om kinders na Engelse skole te stuur, want dié kinders word eenvoudig nie groot met Engelse boeke en DVD’s nie. Die gevolg is dat die meeste kinders uit laerinkomste-gesinne op skool gaan sukkel met Engels as daar by die huis ’n ander taal gepraat word en hulle min of geen ander blootstelling aan Engels kry nie.

Dit is wetenskaplik bewys dat kinders twaalf jaar nodig het om hul moedertaal magtig te raak. Wanneer jou kind dus op vyfjarige ouderdom by die skool aankom, is daar nog sewe van dié twaalf jaar oor waarin hy in sy moedertaal onderrig behoort te word. Hiermee bedoel die kenners nie geen blootstelling aan ’n tweede taal soos Engels nie. Allermins. Engels kan ook aangebied word by die skool, Engelssprekende maatjies kan kom speel en boeke in die tweede taal kan gelees word. Navorsing wys dat tweetaligheid baie duidelike voordele het as dit kom by verstandelike ontwikkeling.

“Daar is egter geen rede waarom Afrikaanssprekende kinders moet oorslaan na onderrig in Engels nie,” sê Neville. “Dit is boonop bewys dat Afrikaanssprekende kinders wat in hul moedertaal onderrig word, beter vaar op skool as kinders wat in Engels onderrig word,” voeg hy by.

Hoe om ’n tweede taal aan te pak

Heila Jordaan, een van Suid-Afrika se voorste kenners van tweetaligheid, stem saam en sê navorsing toon duidelik dat kinders baie beter leer in hul moedertaal as in ’n tweede taal, selfs al is hulle ten volle tweetalig.

“Die uitsondering is waar kinders van geboorte af twee tale leer praat het en al twee ewe goed verstaan en praat,” sê sy.

Volgens Heila is dit nie nodig om jou kind in ’n anderstalige skool te sit om ’n tweede taal goed te vestig nie.

In ’n huis waar ma en pa ’n moedertaal deel, maar graag wil hê hul kinders moet ook aan ’n tweede taal blootgestel word, is Heila se raad om jou kinders gereeld geleenthede te gee om te kommunikeer met mense wat die tweede taal wat jy wil hê hulle moet aanleer, goed praat. Die wagwoord is volgehoue, konsekwente blootstelling van ’n goeie gehalte aan albei tale.

Hou dit ook in gedagte wanneer jy ’n skool kies. “Dit is baie belangrik dat taalonderrig by die skool goed moet wees. Alle onderwysers – nie net die taalonderwysers nie – moet goeie taalvaardighede hê en ook die taal wat hulle aanbied baie goed kan praat, lees en skryf,” sê sy.

“Dit is baie belangrik dat ’n tweede taal nie ten koste van ’n eerste taal geleer moet word of dat die tweede taal die eerste taal begin vervang nie.” Heila sê as dit gebeur, kan die kind ’n agterstand in albei tale ontwikkel.

En wanneer kan jy met ’n tweede taal begin? Volgens Heila bestaan daar geen reël dat jy moet wag tot ’n sekere ouderdom nie. En kinders hoef nie eers in een taal vaardig te wees voor ’n tweede taal geleer word nie, sê sy.

Dís goeie nuus vir huisgesinne waar die ma en pa verskillende tale praat. Ouers in sulke huise moet egter seker maak hul kinders hoor en praat ewe veel van albei tale.

Wat wel ’n goue reël is, is geduld. “Die aanleer van ’n taal neem tyd,” sê Heila. Sy sien dikwels ouers wat te gou moedeloos word as hul kind byvoorbeeld tale meng of ’n taal net verstaan en nie praat nie. Dié ouers hou dan op om met hul kinders te kommunikeer in die spesifieke taal.

“Dit is jammer, want taalvermenging is nie ’n teken van verwarring nie. Kinders sal self mettertyd die twee tale uitsorteer en albei volkome baasraak. Taalvermenging is juis ’n teken dat die kind van al sy bronne gebruik maak om te kommunikeer.

“Dit is ook normaal dat kinders wat aan ’n tweede taal blootgestel word, ’n hele rukkie neem om die taal te begin praat.

“Die enigste rede tot kommer is as daar ’n agterstand in al twee tale is, want dit kan dui op ’n taalleergestremdheid,” sê Heila. Ouers moet altyd onthou kinders verskil baie as dit kom by hoe goed en vinnig hulle ’n taal aanleer.

“Taalvaardigheid is soos musiekaanleg – party kinders is eenvoudig sterker aangelê as ander. Maar net soos musiek kan almal dit leer tot op ’n vlak waar dit in hul behoeftes voorsien.”

"Dit werk nie!"

“Op 14 maande is my kind na ’n crèche waar daar net Engels gepraat is. Hy is nou vyf,” vertel Marie-Louise Paulsen van die Kaapstadse voorstad Plattekloof. Die afgelope byna vier jaar was vir haar ’n nagmerrie.

“Toe Janlo vier word, het ek besef sy moedertaal is lankal nie meer Afrikaans nie, maar Engels. Desnieteenstaande het ek saans by die huis met hom Afrikaans gepraat en sodra ek kon sien hy volg dit nie meer so lekker nie, het ek na Engels oorgeslaan.” Só het ma en kind meng-meng gekommunikeer.

Marie-Louise het egter al om en by Janlo se derde verjaardag onraad gemerk toe sy begin agterkom haar kind kan nie vir haar vertel wat die dag by die skool gebeur het nie. Hy kon ook nie kleure uitwys nie; nie in Afrikaans of Engels nie.

“Soms het hy aggressief geraak, andere kere net gefrustreerd. Ek was bekommerd en het dit genoem aan ’n vriendin wat ’n kindersielkundige is. Sy dring toe daarop aan dat sy vir Janlo sien. Dit het haar ’n halfuur geneem om ’n diagnose te maak: My kind weet nie waar hy hoort nie.
“Ek moes besluit: Gaan ons nou voort in Engels of Afrikaans?”

Ná deeglike oorweging het Marie-Louise, wat in haar vroeë veertigs is en in Afrikaans werk en kuier, besluit dit moet Afrikaans wees. Een van haar bekommernisse was hoe gaan sy vir haar kind wiskunde of wetenskap of enige toepassingsvak in Engels leer?

Janlo is kort daarna by ’n Afrikaanse skooltjie ingeskryf. Volgens wet moet die juffrou slegs Afrikaans praat as daar 15 Afrikaanssprekende kinders in die klas is. In Janlo se klassie was daar net elf. Die gevolg? Die juffrou het in Afrikaans én Engels klasgegee. Janlo, wat meer gemaklik in Engels was, het na die opdragte in Engels geluister, maar moes in Afrikaans terugvoer gee. Dít kon hy nie doen nie.

“Toe sy eerste rapport kom, het die juffrou gesê hy is óf hiperaktief óf lei aan aandaggebreksteurnis, en ’n arbeidsterapeut is aanbeveel. Die arbeidsterapeut se diagnose het omtrent heeltemal ooreengestem met die kindersielkundige s’n minder as ’n jaar tevore.

“Op vyfjarige ouderdom behoort ’n kind 1 500 Afrikaanse woorde te praat. Janlo het net 500 gepraat. Die arbeidsterapeut se voorstel was dat die juffrou voortaan elke opdrag wat sy in Afrikaans gee, moet herhaal. Dit is bykans nog ’n jaar later, en dit gaan baie beter met Janlo. Hy is nog agter by sy maatjies, maar hy is sedert die begin van die jaar in ’n suiwer Afrikaanse skool.”

Marie-Louise se raad aan ander ma’s? “Jy dink dalk dit is baie oulik as jou tweejarige links en regs oulike Engelse woorde met sy Afrikaans meng, maar ná wat ek deur is, is dit allesbehalwe oulik. ’n Kind se moedertaal ís belangrik.”

"Dit werk!"

Die Wolmaranse, ook van ’n Kaapstadse voorstad, Durbanville, vertel ’n ander storie. Nog voor hul oudste dogter haar eerste woorde kon praat, het hulle besluit hulle wil hul kinders tweetalig grootmaak. Vir hulle het dít beteken Afrikaans by die huis, maar Engels by die skool.

Vandag is hul dogter sewe en haar boetie vyf en dié twee is vlot tweetalig en is bo-gemiddelde presteerders by die skool.

Maar daar was opofferings, sê hulle. “Ek het besluit om nie terug te gaan werk toe nie en het probeer om soveel moontlik aandag aan hulle te gee gedurende die eerste twee jaar van hul albei se lewe. Ek het in dié twee jaar net Afrikaans met hulle gepraat,” sê hul ma, Daneil.

Albei kinders kon op twee al lekker in Afrikaans klets. Eers tóé het hul ouers hulle stelselmatig aan Engels begin blootstel om hulle voor te berei vir ’n skoolloopbaan in Engels. Die gesin het ook, op aanbeveling van ’n kleuterskoolonderwyseres, sekere aktiwiteite in Engels gedoen.

“Soms het ons in Engels gery, ander kere in Engels gebad, maar ons het nooit gesê ’n Woensdag is byvoorbeeld ’n dag vir Engels praat nie.”

Volgens die onderwyseres is ’n dag te lank vir klein breintjies. Jy moet dit afbreek in kompartemente.

Was daar enige uitdagings? “Ja, daar is beslis ’n risiko dat jou kind sy taal wil begin meng. Ons seuntjie kom steeds soms huis toe en sê goed soos ‘ek het vandag ge-jump op die jumping castle. Dan korrigeer een van ons hom dadelik. Hy moet besluit: Óf hy praat Afrikaans óf hy praat Engels.”

Die Wolmaranse sê hulle sou presies dieselfde roete gevolg het as hulle weer kon kies. Albei ouers is lief vir Afrikaans en wil geensins hê hul kinders moenie Afrikaans praat nie. “Afrikaans is en sal ons huistaal bly. Ons wil net nie hê ons kinders moet ooit sukkel om ’n Engelse handboek te verstaan of hulself in Engels te kan weergee nie. Dit gaan daaroor om die wêreld vir hulle oop te maak,” sê pa Wollie.

"Dit was te moeilik"

Heidili Bonas is Afrikaanssprekend en woon al byna ’n dekade op die Engelse platteland waar sy met ’n Britse man getroud is. Hul eerste kind is nou ses jaar oud en sy Afrikaanse woordeskat is beperk tot bykans tien woorde waarvan oumie, oupie, biltong en koekie vier is. Dít ná blootstelling aan Afrikaanse boeke en CD’s in die eerste twee jaar van sy lewe.

Toe die seuntjie met ’n Suid-Afrikaanse ma en Britse pa op twee jaar en nege maande nog nie begin praat het nie, het sy ma besluit dit is tyd om in te gryp. Sy het oorgeskakel na Engels. En binne ’n paar weke het hy begin babbel. Heidili het kenners se raad ingewin en almal was dit eens: Hy was verward. Maar hoekom het dit nie gewerk nie? Daar is tog baie kinders wat sonder moeite meertalig groot word.

“Anders as baie ander Suid-Afrikaners in die Verenigde Koninkryk het ek my in ’n plattelandse omgewing bevind waar ek geen kontak met ander Afrikaanssprekers gehad het nie. Speeltyd en kuiertyd met maatjies was dus altyd in Engels en as die gewone “ek-wil-nie-my-speelgoed-deel-nie”-situasie opduik, moes dit in Engels beredder word!” vertel Heidili.

“My enigste kommunikasie in Afrikaans by die huis geskied oor die telefoon.” Só hoor haar kinders dus net eenrigtinggesprekke. By die huis praat ma en pa Engels aangesien pa nie Afrikaans magtig is nie.

“Konsekwentheid is baie belangrik in die opvoeding van ’n kind en as pa nie vir ma verstaan nie, kan baie misverstande plaasvind,” sê Heidili. “Frustrasie speel ook ’n rol in die sin dat een ouer iets uitwys, ‘Look, John, there is a horse’ en dan moet ma gou vertaal: ‘Kyk, daar is ’n perd.’ Ek het gevoel ek is besig om hom heeltemal te verwar. Dan is daar ook vanuit ’n skolastiese oogpunt die feit dat Afrikaans nie op die kurrikulum van ’n Britse skool is nie. As my moedertaal ’n sterk Europese taal soos Frans of Spaans was, sou dit ’n ander situasie gewees het en was ek baie meer gemotiveerd om dit te praat.

“Ek is egter bly dat my kinders blootstelling het aan twee tale sodat hulle die konsep van meertaligheid verstaan.”

"Dit het gewerk"

“Toe my dogter byna tien jaar gelede in Engeland gebore is, was dit vir my heeltemal onnatuurlik om eers daaraan te dink dat ek nie in my moedertaal met haar sou kommunikeer nie,” sê die Afrikaanssprekende Nina Spotswood. Omdat haar Suid-Afrikaanse man se moedertaal Engels is, het hulle besluit dat sy altyd Afrikaans met die kinders sou praat en hy Engels.

“Na haar geboorte het dit die eerste agt jaar vir ons baie goed gewerk. Ek het heeldag met haar Afrikaans gepraat en wanneer Tim saans tuis was, het hy net Engels gepraat. Ons het met mekaar weer net Engels gepraat, maar ek het nooit vir Neve in Engels aangespreek nie. ’n Oudioloog het vir my gesê dat die belangrikste reël is dat die tale nooit gemeng moet word nie en dat Afrikaanse mense net Afrikaans met die kind moet praat en andersom. Selfs my wiegeliedjies was dié wat my ma en pa vir my gesing het. My man se Afrikaans is baie goed en hy kon dus verstaan wat ek vir haar sê.”

Terug in Suid-Afrika het Nina haar dogter na ’n tweetalige kleuterskool in Pretoria gestuur en hier het die probleem met gemengde taal begin. Neve het goed kopgehou en kon teen die tyd dat haar jonger sussie gebore is (sy was toe drie), vlot Afrikaans en Engels praat. Met die tweede dogtertjie, Isla, het die Spotswoods presies dieselfde roete gevolg. Toe ousus Neve ses jaar oud en kleinsus Isla drie jaar oud was, is hulle na ’n suiwer Engelse skool.

“By die huis het ons egter steeds by die reëls gehou en ons drie saam het net in Afrikaans gekekkel. Ek kan nie presies onthou wanneer dit gebeur het nie, maar oornag het Neve en Isla Engels met mekaar begin praat, maar nog steeds Afrikaans met my. Ná ’n jaar of wat het iemand eendag vir my gesê sy kry nie reaksie uit Isla nie tensy sy Engels met haar praat. Ons het toe meer Engels met Isla begin praat al kon sy Afrikaans baie goed verstaan.”

Die Spotswoods het intussen Kanada toe getrek, waar hulle vir die eerste paar maande nog volgens die ou reëls Afrikaans gepraat het met ma en Engels met pa, maar dié reël is nou by die venster uit. “Die kinders het niemand anders as ek gehad om Afrikaans mee te praat nie en wou hul nuwe aksente by die huis oefen. Dis ook moeilik en voel onbeskof om voor kinders en mense wat nie Afrikaans praat nie, die taal te gebruik.

“Dit is sleg dat hulle nie vir ouma en oupa oor die telefoon kan verstaan nie, maar ek weet dat die Afrikaans daar iewers weggebêre is, en as ons weer gaan kuier sal hulle dit maklik optel. Ons sê altyd vir Isla dat oupa nie Engels verstaan nie en dan probeer sy baie hard met die Afrikaans.

“Ek dink ’n mens moet ’n taal gebruik, anders verloor jy dit,” sê Nina.

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 8 comments

Rolene

Goeie artikel... Dit laat mens bietjie dink!
Posted on Mon, Jul 14th 2014, 23:04

Marna Beets

I am an English teacher for grade 1 and 2 learners and struggle with isiXhosa learners as well as Afrikaans learners who are put in an English class. Most of their parents can not speak English and are unable to help with homework or understand notes. These learners are already 6 years behind an English child and they are seldom able to ever catch up. It is a very sad situation.
Posted on Fri, May 2nd 2014, 21:20

jeanette

Ek het my 2 seuntjies van die begin af in hul akademiese taal blootgestel. My seuns is dus albei engels alhoewel hul ouers afrikaans is. Hulle huistaal is en was nooit afrikaans nie. Die nuwe suid afrika het geen beloftes vir afrikaanse mans ingehou nie, so behalwe vur duurder skoolgeld is ons glad nie spyt nie. Dis nie asof mens jou kind afrikaans grootmaak en dan skielik in n engelse skool prop nie!! Dis wel deur dagte besluite aan ouers se kante.
Posted on Fri, May 2nd 2014, 16:38

Ciska van Zyl

Baie insiggewende artikel en gee my gemoedsrus nou! Ek is n onderwyseres en gee by n Engelse skool skool. Het gewonder wat ek volgende jaar met my seun moet doen - my skool of die Afrikaanse skool! Ek wil net byvoeg dat ek 2 kinders in my klas het wie se moedertaal Afrikaans is en nou op 10jarige leeftyd kan beide nie so goed Engels of Afrikaans praat,lees of skryf nie! Ek en baie van my vriende was ons hele skoolloobbaan in Afrikaans en nou gee en studeer ons in Engels en niemand van ons sukkel verskriklik baie nie!
Posted on Wed, Jul 24th 2013, 20:05

LC

ons woon ook buite die land. My oudste was 3.5 toe ons weg trek. Hy was in meestal afrikaanse kleuerskool, maar hulle het ook die laaste jaar engels in gebring. Dankie daarvoor - want in Cambodia was daar geen sprake van Afrikaans nie. Ek het volgehou ons praat afrikaans in die huis en met ons kind/rs. Boeta het 'n paar keer vir my gese hy wil engels met my praat -en ek het net volstrek geweier. Boetie nommer 2 is gebore en basies hier begin skool. Ons praat nogsteeds net Afrikaans in die huis, maar klein boet (nou 3.5) praat nie saam Afrikaans nie, behalwe vir 'n paar woordjies. hy verstaan 100% wat ons se en vra, maar sal in engels antwoord. Ek sukkel nou met my oudste kind op skool en sou baie graag met julle beraders in kontak wou kom om meer oor die tale situasie uit te vind - ek is diep in die penarie met hom, en is al naby moedeloos. sal waardeer as julle in kontak kan kom.
Posted on Wed, Jul 24th 2013, 17:45

Santa

Ek moes in 'n krisis my kleindogter (Engels) gaan haal en in 'n skool in Pretoria sit. Ek het nie kans gesien om hara in n Engelse staat skool te sit nie, en het nie geld gehad vir privaat Engelse skool nie. Nou is sy in Afrikaanse skool. Sy is nou in gr. 9 en sukkel met die Afrikaans terme in Boehou en NW. Het iemand dalk raad om die kind se lewe makliker te maak.
Posted on Wed, May 15th 2013, 09:04

Ivy06

Ons maak ons 3 kinders in Afrikaans, Engels, Tswana, Duits, Frans en Hollands/Nerderlands groot. Ek glo van dat ek jonk was dat jy ook jou stamboom se afkomstig tale moet leer en om dat die Staat ook nou aanbeveel dat kinders ook 'n Afrika taal moet leer. Gelukkig kan ek sê hoe jonger hulle is hoe makliker is dit om vir hulle dit te leer. Ek weet selfse dat daar op nickelodeon n program is (Dora the explorer) wat vir hulle Spans leer.
Posted on Tue, Feb 5th 2013, 16:38

e van zyl

excellent article and advice,thank you
Posted on Thu, Dec 6th 2012, 22:37
Poll

What do you feel the guiltiest about as mom?

I feel I don't spend enough quality time with my kids.
I shout at them.
I don't listen to them attentively and am always distracted.
I probably should have breastfed them for longer.
I'm not able to give them more material things.
I'm not organised with scrap books and albums and memory boxes.
My kids are overweight.
My kids watch too much TV.
I feel guilty for sometimes wishing I could just go away and be by myself.
Someone else is looking after my kids while I work.
I don't feel guilty!