Big school

Wat om te verwag in graad 1

Van vaardighede tot skoolklere, buitemuurse aktiwiteite tot oueraande, ons vertel jou wat om van graad 1 te verwag.

SHARE

 
Wat om te verwag in graad 1
 
 
 

Dis byna tyd vir die groot dag wanneer jou spruit gewapen met ’n splinternuwe boeksak, netjies gepakte kosblik en blinkgepoetste skoene tot siens sal wuif by die skoolhek en sy nuwe lewe in die ‘groot skool’ tegemoet sal stap. En terwyl die meeste van ons ons kinders se aanpassing daardie eerste paar weke angstig dophou, wag daar vir ons self ook byna net soveel aanpassings – want saam met graad 1 kom ’n splinternuwe leefstyl vir jou kind, en vir jou.

My oudste se graad 1-jaar het die mat heeltemal onder my voete uitgeruk.

Aanvanklik het ek gedink ek het die skoolding onder beheer: My kind het die eerste skooldag met ’n breë glimlag vir my tot siens gesê en was so gereed vir sy nuwe avontuur soos net ’n graad 1’tjie kan wees.

Toe daar reeds die eerste dag huiswerk saam huis toe kom, moes ek onraad vermoed het. Maar ek het nie. Ek het houtgerus aanhou glo graad 1 is soos die sub A waarmee ek grootgeword het, waar ons minstens in die eerste kwartaal nog net klei gespeel, geknip en ingekleur het om ons stadig gewoond te maak aan ons nuwe omgewing.

Ná ’n week se daaglikse huiswerk propvol nuwe dinge, moes ek my fout erken: Graad 1 is nie meer kinderspeletjies nie.

My reaksie was een van paniek: Ek was eenvoudig nie voorbereid op die vinnige pas waarteen die kleingoed weggespring het nie. In die proses het ek onnodige druk op my en my kind geplaas.
Baie ander nuwe graad 1-ma’s deel my ervaring, moes ek intussen hoor. Vir die meer ervare ma’s was die aanpassing nie ’n probleem nie. Dit help om ingelig en voorbereid te wees.

Wat kan jy verwag?

In graad 1 werk die onderwysers na doelbewuste uitkomste in ooreenstemming met die Hersiene Nasionale Kurrikulum. Dié kurrikulum bestaan uit agt leergebiede: tale, wiskunde, natuurwetenskappe, tegnologie, sosiale wetenskappe, kuns en kultuur, lewensoriëntering en ekonomiese en bestuurswetenskappe.

In die grondslagfase (van graad O tot 3) word op drie leerprogramme gefokus: geletterdheid, syfervaardigheid en lewensvaardighede. Dele van die ander leergebiede word ook hierby ingewerk.
Elke leergebied het uitkomste wat jou kind moet behaal en waarvolgens hy getakseer sal word. Jou kind se graad 1-onderwyseres sal aanvaar dat hy in graad O sekere dinge onder die knie gekry het. In die eerste kwartaal word hersiening gedoen van hierdie vaardighede, maar anders as in graad O, word dit nou vinnig deurgedraf.

Die onderwyseres sal wel by jou kind se individuele vlak aanpas, maar dinge vind in klasverband plaas en jou kind sal hierby moet inpas.

Jou kind kry die eerste weke woordlose boekies om te “lees”, wat spoedig opgevolg word deur boekies met woorde. Aanvanklik sal hy die woordjies memoriseer, maar geleidelik herken hy al meer woordjies tot hy uiteindelik werklik kan lees.

Teen die einde van die jaar spreek hy algemene woorde reg uit en probeer hy onbekende woorde spel en uitspreek deur sy kennis van klanke te gebruik.

Jou spruit kan ook dan al sy eie woorde en sinnetjies skryf, met spasies op die regte plekke en leestekens soos hoofletters en punte.

Op wiskundige vlak sal hy teen die einde van graad 1 in ene kan aantel en terugtel vanaf enige getal onder 100, getalname kan skryf van 1 tot minstens 34, en getalsimbole ken en lees tot by 100. Hy sal ook in tweë, drieë, viere ensovoorts kan tel, kan optel en aftrek tot minstens 34, somme uit sy kop kan doen tot minstens 10, kan verdubbel en halveer, en verduidelik hoe hy by antwoorde uitgekom het.

En dis net die oortjies van die seekoei. Daar is ook nog vele ander uitkomste wat hy die jaar moet baasraak.

“Die eise van graad 1 is wat werk betref baie meer as in graad O,” sê Ina Hughes, graad 1-onderwyseres by die Laerskool Stulting in Humansdorp. “Dis hoekom slaap, dissipline en roetine so belangrik is.

“In jou graad O-klas kan jou kind nog wegkom met moeg wees in die klas, maar as hy in graad 1 moeg is op ’n dag wat belangrike werk gedoen word en hy neem dit nie in nie, is hy daardie trappie op die leer kwyt. En as jy die eerste trappie misgetrap het, is die tweede trappie net soveel hoër.”

Ondersteun jou kind só

  1. Bly in gereelde aanraking met die onderwyseres, al is dit net met ’n SMS om te sê as jou kind is siek is of ’n briefie in die huiswerkboek.
  2. Gee jou kind roetine. “ ’n Graad 1-tjie moet ’n vaste slaaptyd hê,” sê Ina. “Kinders vertel my dikwels hulle het ’n program op televisie gesien en dan was dit tienuur die aand. Die volgende dag is daardie kind baie moeg en glad nie homself nie.”
  3. Dissiplineer jou kind tuis met reëls wat by die skool verleng kan word, sê Ina. “Sorg dat jy konsekwent is en jou nee nee is. As jy gesê het hy kan nie nou ’n ding doen nie, dan beteken dit hy kan nie.” Dit help jou kind om in die klaskamer gedissiplineerd op te tree en opdragte uit te voer.
  4. Stel belang in sy skoolwerk en wees positief daaroor. Moenie voor hom negatiewe dinge oor sy skool sê nie.
  5. Maak seker jou kind is betyds vir skool en skoolaktiwiteite. “Partykeer kom die kinders laat aan en dan is hulle in trane en die hele dag is vir hulle daarmee heen,” vertel Ina. “Die ander kinders praat ook daaroor: Daardie een is altyd laat! Jou kind kan gestraf word daarvoor, al is dit eintlik jou skuld.”
  6. Maak seker jou kind se toiletmaniere en ander selfversorgingsvaardighede soos snuit is goed gevestig. “Oefen met jou kind hoe hy in die klas moet vra om toilet toe te gaan sodat hy die vrymoedigheid sal hê om te vra,” sê Ina.
  7. Moenie jou kind dreig dat jy vir sy onderwyseres iets negatiefs oor hom gaan vertel nie. “Dit boesem vrees in. Hy moet veilig voel by sy juffrou,” sê Ina.
  8. Luister na jou kind. “Partykeer is ouers so besig dat hulle nie luister na hul kinders nie, en dan is dit eintlik belangrik. As jy luister, kan jy hoor as daar iets is wat pla, soos ’n kind wat nie wil skool toe kom nie omdat ’n maatjie hom boelie. So kan jy goed uitsorteer voor dit ’n probleem word,” sê Ina. “Praat met die juffrou as dit ’n gereelde probleem is.”
  9. Kyk elke dag in jou kind se tas of daar omsendbriewe is en stuur afskeurstrokies betyds terug, sê Ina. “Dit plaas die onderwyseres in ’n moeilike posisie as sy moet wag vir toestemmingsbriefies of geld.” Dit kan ook onnodige druk op jou kind plaas as die onderwyseres hom vra vir iets wat hy nie het nie.
  10. Lees jou kind se kwartaalprogram en teken belangrike datums aan.

Skryfbehoeftes

Jy sal ’n uitgebreide lys kry van skryfbehoeftes wat vereis word. As jy onseker is, gesels met die onderwyser om seker te maak jy koop die regte goed. En, sê Ina, vul dit deur die loop van die jaar aan, want daar is goed wat breek of opraak.

Huiswerk

Hierdie is jul eerste jaar van huiswerk en dis gewoonlik dan dat ouers oorweldig voel. Maar, sê Ina, dis verskriklik belangrik dat jou kind veral in die eerste ses maande sy huiswerk goed doen.

“Daardie fondament is so belangrik, want as jy dit nie reg aanpak nie, is die volgende trappies baie onseker.”

Sy beklemtoon dat ouers moet sorg dat hul kinders elke dag huiswerk doen en ’n vaste huiswerkroetine het. “As jy ’n dag oorslaan, wil die juffrou dat net mooi die volgende dag jou kind evalueer en dan is hy nie voorbereid nie,” sê Ina.

Probeer om nie verbouereerd te raak omdat jý nie weet wat om te doen nie; dit maak jou kind ook verbouereerd. “As jy onseker is oor hoe om huiswerk te doen, gesels met die onderwyseres. Huiswerk behoort net sowat ’n halfuur te duur.”

As jy heeldag werk, moenie jou kind se huiswerk ná vyfuur probeer inpas nie, want dan is hy al moeg. Soek liewer ’n goeie nasorgsentrum of stel ’n au pair aan. As dit te duur is, kan jy oorweeg om ’n au pair met een of twee ander ma’s in die klas te deel.

Sport en buitemuurs

Die skool bied gewoonlik ’n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite aan soos tennis, netbal, rugby, krieket, redenaars en drama. Wees versigtig om nie jou kind se program oorvol te maak nie.

Skooldrag

Sorg dat jou kind die regte skooldrag het en netjies lyk, met skoon skoene en versorgde hare en naels. Dit sal hom nie net trots laat voel nie, maar ook help om beter by die groep in te pas.

Ouerbetrokkenheid

Daar sal van jou verwag word om betrokke te raak by geldinsamelingsprojekte, sportdae en so meer. So word geld vir die skool ingesamel wat uiteindelik die las op jou sak verlig.

Daar is ook ander voordele. Dit help jou om ander ouers beter te leer ken en beteken vir jou kind geweldig baie. “Die oomblik as jy in sy skool belangstel, voel dit vir hom jy is deel van sy grootword en sukses,” sê Ina. “Dit maak kinders ongelooflik trots as ouers by ’n stalletjie of met rugbyafrigting help.”

Oueraande

Doen moeite om jou kind se oueraande by te woon. Daar is gewoonlik in Januarie ’n belangrige inligtingsvergadering oor die jaar vorentoe. Doen moeite om by die onderwyseres uit te kom ná elke vorderingsverslag.

Goue reël

Werk saam met die skool, eerder as daarteen. Onthou, julle is ’n vennootskap wat saam-saam jou kind goed moet grootmaak.

 
 
 
Shanda Luyt

Shanda Luyt

Shanda Luyt stap al meer as 10 jaar die pad saam met Baba & Kleuter, eers as  assistent-redakteur en deesdae as vryskutskrywer. Sy is 'n ma van drie en is  passievol daaroor dat alle ouers verdien om ingeligte keuses te kan maak na  gelang van hulle en hul kinders se unieke behoeftes en omstandighede. Sy woon in Humansdorp in die Oos-Kaap.

Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 7 comments

Anneline

Ek wil net uitvind of julle my dalk kan help wat is die maksimum buitemuursaktiwiteite wat n graad 1 kan doen. Baie dankie
Posted on Thu, Feb 14th 2013, 15:54

Deidre

Ek is n ma van 2 jongste word 4 en oudste is nou in graad1. Toe my oudste 4 jaar oud was pre premier en net n maand van skool toe word daar al gesien daars fout met knip ens. Na 2 jaar van Arbeidsterapie het hy nt verswak my pa skoonma en skoompa in in daai tyd oorlede als wou net nie uitwerk nie vra hom om n ding te doen dan kan hy nie onthou wat jy gevra het nie. n Jaar terug het ons hom maar na n pediater toe gevat na die skool hom beveel het toe is hy in graad R. pediater het gese hy het al 18 . hy het ADHD so hy is toe op ritilan gesit en ek moet se ons lewe het beter geraak hyt begin konsentreer minder moeilikheid gesoek met ons almal minder tee begin praat meer gehelp as jy n gunsie vra minder geireteerd geraak en ek kan nog baie op noem die lekkerste was toe hy by die huis gekom het en vir my kon vertel wat hy geleer het dit was lekker ek is baie bly my kind het hulp gekry en al die gehuilery ens wat ek hier onder lees het n emosinele efek op jou kind op n manier ek sou se kry hulp dis nie te se daar is eers iets fout nie maar doen ook geen skade om uit te vind nie.
Posted on Tue, Jan 22nd 2013, 16:21

Linda

Ek dink die artikel is definitief net vir my geskryf.Elke punt wat julle hier noem voel ek... ek sal jou meer gerus voel en nie so alleen as ek so sukkel met die huiswerk en my kind nie
Posted on Fri, Feb 3rd 2012, 13:24

Yvonne

@ Cindy, miskien moet jy hom na 'n arbeids terapeut toe vat. Hulle sal met hom sit en hom evalueer en jou van daar af se wat julle moet doen.
Posted on Fri, Jul 15th 2011, 12:06

cindy

hello my seunkie is vir die tweede jaar in graad 1 .en hy sikkel vreeslik met letters,hy ken nie die verkil tusin a en b nie ek weet nie wat om te doen nie al wat hy wil doen is inkleur en dit is pragtag.maar die ander werk is nie ,ek oefen elke dag met hom maar dit kom nie in sy kop nie. wat kan ek doen ek wil nie he hy moet weer agter bly volgende jaar nie.
Posted on Wed, May 25th 2011, 11:12

Carin Brits

My dogtertjie het die voorreg om in 'n klein skooltjie (200 leerlinge) te wees, maar sy pas ook glad nie aan nie. Sy het gisteraand haarself aan die slaap gehuil, en vanoggend so huilend opgestaan, huilend aangetrek en huilend skool toe gegaan. Die onderwyseres sê sy huil as dit pouse is, sy huil as sy atletiek moet gaan doen en as sy op die bus moet klim na die naskooltjie toe. Ek dien op die FIK (Fonds insamelings kommitee) by die skool om dit vir haar maklikker te probeer maak. Ek is 'n werkende Ma en bekommer my dood oor my kind. Ek lees 'n boek getiteld "Kweek kinders met karakter". Daarin word sy beskryf as 'n Sierboom tipe. Volgens die boek moet sy met kalenders en dagboeke en lysies voorberei word op alles wat elke dag gaan gebeur. Toe ek dit gisteraand begin toepas, het die kind sommer byvoorbaat begin huil. Haar redes vir die tranedal is dat hulle te veel werk en inkleur, pouse is te kort, sy kry dit nie reg nie, dit is "boring" want hulle het dit in Graad 0 reeds gedoen, die maatjies is lelik met haar, hoekom werk haar ma nie ook by die skool soos die ander maatjie se ma nie. Is die druk van graad 1 te veel? Is dit 'n sielkundige probleem? Wat doen ek verkeerd? Iemand help tog asseblief, want ek is raadop!!!
Posted on Thu, Feb 3rd 2011, 09:12

Evelyn Coetzee

My dogtertjie is nou graad 1, en dit is 'n gesukkel om haar in die oggende by die skool te los, sy huil verskriklik en pleit dat ek haar nie moet alleen laat nie. Ek is 'n werkende ma met werksure van half 8 tot half 5. Ek weet nie hoe om dit te hanteer nie, is daar iets by die skool fout, is sy net alleen, pas sy nie aan nie, manipuleer sy my ... ek weet regtig nie wat om te dink nie, maar dit is baie ontstellend vir my. Tog as haar Pa haar in die middae gaan optel is sy haarself en wil sy nie praat oor die oggend se tranedal nie. As daar enige iemand is wat raad het hieroor sal ek dit baie wardeer.
Posted on Tue, Jan 18th 2011, 10:26
Mom to Mom Feed
Poll

What do you buy online?

Nappies
Clothing
Toys
Books, DVD's, CD's