Discipline

Die einde van siepsop en braaiboud

Kenners sê die nadele van lyfstraf is veel meer as die voordele daarvan. Hier is 8 goeie redes om jou kind nie pak te gee nie.

SHARE

 
 
 
 

In Noorweë, Swede, Denemarke, Finland, Ysland, Kroasië, Ciprus, Letland, Italië, Israel, Duitsland en Australië is dit teen die wet vir ’n ouer, onderwyser of enigiemand anders om ’n kind te slaan – en dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat dieselfde wet binnekort in ons eie land gaan geld.

Die rede is dat dit barbaars is om aan mense te slaan, sê die voorstanders van dié wet. En, sê opvoeders, die nadele van lyfstraf is veel meer as die voordele daarvan. Hier is 8 goeie redes om jou kind nie pak te gee nie.

’n Oog vir ’n oog...

Wanneer jy ’n kind slaan, leer jy hom onregstreeks dat dit aanvaarbaar is om ander mense te slaan. Onthou, jy is sy grootste rolmodel. Hy hou jou gedrag, gewoontes en selfs jou maniertjies fyn dop en gaan jou beslis naboots – die goeie en slegte voorbeelde wat jy stel.

Moenie verbaas wees as jou tweejarige jou eendag met ’n taai klap bykom as jy hóm gereeld met die plathand tug nie. Dis nie omdat hy stout is nie, net dat hy nie van beter weet nie!

Uitgebreide navorsing is ook nou beskikbaar wat ’n direkte verband tussen lyfstraf in die kinderjare en aggressiewe en selfs gewelddadige gedrag in die tiener- en volwasse jare stel. Navorsing wys ook dat verreweg die meeste misdadigers in tronke as kinders gereeld gewelddadig geslaan is.

Dit beteken natuurlik nie elke kind wat pak kry, word ’n geweldsmisdadiger nie, maar wel dat geslaande kinders ’n groter risiko loop om aggressief te word.

Een klap lei tot nog een

’n Kollega vertel dat sy en haar man vooraf saam besluit het dat hulle nie hul dogtertjie sou slaan nie, maar ’n uitsonderlike houtjie hier en daar was nie teen die reëls nie.

Dit het begin met ’n pak slae as die meisiekind die dag regtig onmoontlik was en geen ander dissiplinemaatreël wou werk nie. Maar een pak het vinnig ná ’n ander gevolg en toe hulle hul oë uitvee, het daar skaars ’n dag verby gegaan dat hulle hul kind nié geslaan het nie.

Al die geslanery het haar ook nie soeter gemaak nie; inteendeel.

Hoekom is jy so stout?

Al word jy soms so woedend dat jy jou kind op die plek wil vermoor, moet jy jou dwing om diep asem te haal en jou af te vra waar die wortel van die kwaad nou eintlik lê...

Soms het kinders se onhebbelike gedrag baie eenvoudige oorsake: Hulle is honger, vaak, dors, dalk allergies vir ’n sekere bestanddeel in kos of die omgewing, of hulle is bloot verveeld.

Party kinders smag so na jou onverdeelde aandag dat hulle enigiets daarvoor sal doen. En as hulle dan nie positiewe aandag kan kry nie, is negatiewe aandag tweede beste.

Voordat jy jou stout kind met ’n hou bykom, vra jou eers af of hy nie dalk om jou aandag smeek nie.

Maar die Bybel sê dan so...

Dis Bybel sê ons baie duidelik aan dat ons dié moet tugtig wat ons liefhet.

Maar ons weet ook dat Jesus baie lief was vir kindertjies en dat Hy juis genade, vergiffenis, menslikheid en vredeliewendheid voorgestaan het.

’n Pyn op die boud = ’n pyn in die rug

Selfs ’n paar ligte houe op jou kind se sitvlak kan fisiek gevaarlik wees. Drukke of skokke op die onderste deel van die ruggraat stuur skokgolwe deur die lengte van die rugmurg en hoewel dit op die oog af heeltemal skadeloos kan lyk, kan jy onbewustelik jou kind beseer.

Sommige kenners skryf deesdae selfs die voorkoms van lae rugpyn by volwassenes aan gereelde slae in die kinderjare toe.

Daar is ook ’n paar seldsame gevalle waar kinders verlam is vanweë die beskadiging van senuwees rondom die rugmurg deur lyfstraf.

So kwaad jy kan moor

Ja, daardie selfde klein japsnoet wat nou so soos ’n engel in sy bed lê en slaap kan jou soms so kwaad maak dat dit voel asof jy die vlaktes wil inhardloop.

Moenie jou kind slaan of selfs op hom skree terwyl jy blind is van woede nie. Maak vir jouself ’n reël om eers tot bedaring te kom en diep asem te haal voor jy tot aksie oorgaan. Terwyl jy woede as ’n emosie ervaar, pomp die adrenalien só sterk deur jou are dat jy dalk glad nie bewus is van die krag en intensiteit van ’n paar houe op jou kind se sitvlak nie. En as jy eers begin slaan het, kan dit soos ’n vulkaniese uitbarsting wees wat ’n uitlaatklep gevind het en jy kan jou kind ernstige emosionele én fisieke skade berokken.

Die antwoord op alle probleme

Soos gesê is jy jou kind se grootste rolmodel. As jy elke keer ’n loesing as oplossing vir ’n probleemsituasie gebruik, leer jou kind dat dít is hoe ’n mens ander mense se verkeerde gedrag hanteer.

Natuurlik het jy die reg om kwaad, hartseer en teleurgesteld te voel oor jou kind se gedrag. Maar daar is ander maniere om die boodskap van jou gevoelens aan jou kind oor te dra as deur hom te slaan. As dít is hoe jy jou emosies aan hom kommunikeer, gaan hy jou voorbeeld volg.

’n Pak slae leer jou kind nie verantwoordelikheid nie

“Toe my dogtertjie eendag by die hek uithardloop het ek so geskrik dat ek haar dadelik ’n paar houe gegee het,” vertel Hendrik de Wet van Johannesburg. “Toe ek tot bedaring kom het ek vir haar verduidelik hoe gevaarlik dit buite in die straat is. Maar toe ek haar ’n bietjie later vra waarom sy nie by die hek mag uithardloop nie, antwoord sy: ‘Want jy sal kwaad word.’

“Ek het besef die pak slae was nutteloos want al wat sy onthou het, was my woede – nie die regte les wat sy moes leer nie. Dit was haar laaste pak.”

’n Pak slae kan jou kinders dalk beheer, maar hulle gedra hulle om die pak te vermy eerder as omdat dit die regte ding is om te doen.

Daardie belangrike selfbeeld

Jane Nelsen, ’n Kaliforniese terapeut en die medeskrywer van die Positive Discipline-reeks, som selfbeeld as volg op:

“Selfbeeld word gevorm wanneer jy voel dat jy iewers hoort, wanneer jy glo dat jy in staat is om iets te doen en wanneer jy weet jou bydrae is die moeite werd en word na waarde geag.

“Jy as ouer is daarvoor verantwoordelik om te verseker dat jou kind trots is en selfrespek het – vir homself en vir sy kulturele agtergrond. Daarby moet hy glo dat hy die lewe se uitdagings sal kan hanteer.”

Elke keer wanneer jy hom slaan, breek jy sy selfbeeld so ’n klein bietjie af. Daardeur wys jy vir hom dat jy nie sy lyfie of vir hom as mens respekteer nie.

Die bekende kos- en rubriekskrywer Mariëtte Crafford skryf haar twee kinders, Peter en Mariëlla, se gesonde selfbeeld toe aan die feit dat sy hulle nooit geslaan het nie. Sy sê sy het dit reggekry “deur hulle nie te slaan nie (nóg die lyf, nóg die siel), my onuitspreeklike liefde vir hulle onophoudelik te probeer uitdruk, en deur hulle van voor hul geboorte af al as volwaardige mense met ’n uitsoekplek onder die son te respekteer”.

“Ek vertrou hulle ook elke oggend aan die Here se sorg toe en steek vir hulle elkeen elke dag ’n kers aan. So weet hulle hulle is gelief. En ’n geliefde mens het selfvertroue,” sê Mariëtte.

Leeslys
Beating the Devil out of Them deur Murray Straus (Simon & Schuster).
Good Parents, Bad Parenting: How To Parent Together When Your Parenting Styles Are Worlds Apart deur Lisa Dunning (www.lulu.com).
Stupid Things Parents Do To Mess Up Their Kids: Don’t Have Them If You Won’t Raise Them deur Laura Schlessinger (HarperCollins).

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 5 comments

deburger

My seun is 4 jaar oud na die gebooorte van my dogtertjie het hy begin stout raak en hy was nooit so nie, ek en my man is moedeloos.
Posted on Fri, Jul 20th 2012, 11:58

Linda

Ek sukkel met my dogtertjie van 15maande. Sy kan nou al lekker loop en ongelukkig is die koffie tafel laag genoeg dat sy nou op hom kan begin klim. Sê ek 'af' dan kyk sy my met n glimlag en klim net verder op. Ek gaan haal haar so 2 keer af, maar sy klim net weer op. Dan gee ek maar n pietsie, maar sy hardloop net weer terug tot ek haar aandag aflei met iets anders. Enige advies? Dit lyk behoorlik of sy my 'uit tart' - sy kyk met so n glimlag na my terwyl sy doen wat sy nie moet doen nie :-)
Posted on Fri, Mar 9th 2012, 16:13

Stephanie

Interessante artikel, julle vertel vir ons in detail hoekom ons nie ons kinders moet slaan nie, maar julle ons nie alternatiewe metodes van dissipline nie?
Posted on Thu, Jan 19th 2012, 21:28

annalize

....maar 'n verdiende pak slae is ni geweldadig nie! Nie ek, mu susters of enige iemand wat ek ken, wat saam met grootgeword het en definitief ook slae gekry het, is kriminele of geweldsmisdadegers nie, inteendeel!!! In hierdie artikel word gesteriotipeer en heeltemal oordryf!!
Posted on Thu, Jan 19th 2012, 16:57

Jeanne Erasmus

Ek het ook my oudste (nou 16) pakslae gegee toe sy klein was. Sy het altyd 'n glimlag op haar gesig gehad wanneer ek lyfstraf toegepas het. Eendag het ek net tot die besef gekom, "wat leer ek die kind uit hierdie "les"" en my antwoord aan myself was, "dat as sy nie maak soos ek se of doen wat vir my aanvaarbaar is nie, moet sy voel!" Ek het onmiddellik besef dat dit nie die pad is wat ek met haar wil saamloop nie. Ek het ook onthou hoe ek gevoel het as kind, wanneer ek geslaan was, hoe vernederd en seer ek gevoel het, en ek het my pa met 'n passie gehaat!!!
Posted on Thu, Jan 19th 2012, 15:40