Hoe om 'n gelukkige huwelik te hê

Hoe om 'n gelukkige huwelik te hê
 
 
 

Kom ons wees maar eerlik: ouerskap is 'n voltydse werk, en dit verander jou huwelik dramaties. Maar jou huwelik is ook die fondament waarop jou hele familie gebou is, en as julle twee se verhouding sterk is, sal die hele familie sterk wees. Jou lewe sal meer vreedsaam wees, jy sal 'n beter ouer wees, en jy sal meer pret in die lewe hê!

Maak daai besluit

Om 'n sterk huwelik te onderhou moet jy bereid wees om tyd en energie daarin te ploeg. Moenie bekommerd wees nie, jou kinders sal nie afgeskeep word nie – inteendeel, hulle sal floreer!

Die verbasende geheim is dat dit nie enige ekstra tyd hoef op te neem nie, jy's besig genoeg. Al wat dit verg is 'n nuwe houding en 'n sterk fokus. Lees die volgende aanbevelings en pas dit toe oor die volgende 30 dae. Evalueer dan weer jou verhouding. Ek waarborg jou julle sal albei gelukkiger wees.

Soek die goeie, ignoreer die slegte

Jy't met hierdie persoon vir 'n klompie goeie redes getrou. Jou maat het baie wonderlike eienskappe. Die eerste stap om bietjie vonk in jou huwelik terug te sit is deur die goeie in hom of haar weer raak te sien, en maar bietjie blind te speel vir die res.

Maak 'n gewoonte daarvan om die irriterende klein dingetjies te ignoreer – jy weet, die vuil kouse op die vloer, 'n dag oue koppie koffie op die tafeltjie, die ewige geklets op die foon – en besluit om uit te kyk vir dié dingetjies wat jou laat glimlag: die manier waarop hy op die vloer rondrol saam met die kinders, die feit dat sy jou gunsteling koekies gemaak het.

Gee 2 komplimente elke dag

Noudat jy besluit het om die goeie in jou maat raak te sien, is dit tyd om dit te sê! Dis die goue sleutel tot jou geliefde se hart.

Dink net daaraan. Wanneer jou liefling sê, "Jy's die beste. Ek's so bly ek het met jou getrou," laat dit jou nie net meer geliefd voel nie, dit laat jou ook meer liefdevol teenoor hom of haar (en die wêreld) voel.

Speel mooi

Dit klink dalk snaaks, maar dink bietjie daaroor. Hoeveel keer sien jy, of ervaar jy, dat eggenote ongeskik en kras met mekaar praat, in wyses waarop hulle nooit eers met 'n vriend sal praat nie?

Ons steur onsself dikwels min aan ons geliefdes en is soms kortaf sonder om dit te bedoel. Onthou wat Bambi se vriendjie Thumper gesê het? "As jy nie iets moois oor iemand kan sê nie, moet dan liewers niks sê nie."

Kies waaroor jy wil stry

Hoe gereeld hoor ons hierdie stukkie raad? Dis goeie advies as mens kinders grootmaak – en ewe goeie raad om in die huwelik te volg. In enige menseverhoudings sal daar onenigheid en konflik wees. Die geheim is om te besluit watter kwessies die baklei werd is, en watter eintlik maar oorgesien kan word.

Die 60-sekonde drukkie

Mens kan maklik 'n nuutgetroude paartjie uitken aan die manier waarop hulle nie hul hande van mekaar kan afhou nie – dis hande vashou, styf teenaan mekaar sit, die arm aanraak, soen – net soos wat mens kan sien wie die ou getroudes is.

Dis veral ma's wat dikwels minder behoefte aan fisiese kontak met hul eggenote het omdat hul babas en jong kinders soveel geleentheid bied vir liefkosing dat hulle teen die einde van die dag "tasvervuld" is.

So hier's 'n eenvoudige wenk: doen moeite om jou eggenoot meer dikwels aan te raak. 'n Streel, 'n drukkie, 'n soentjie, 'n skouermassering... dit wek 'n lekker gevoel in beide van julle.

Gesels met en luister meer na jou maat

En ek bedoel nie, "Onthou om Jimmy se rugby-uniform op te tel," of "Ek het 'n ouervergadering vanaand," nie.

Nee, kom in die gewoonte om jul gedagtes te deel oor wat jy in die koerant gelees het, wat julle op TV kyk, wat jou drome en jou bekommernisse is. Let veral op daardie dinge wat vir jou eggenoot interessant is, en vra vrae. Luister dan ook na die antwoorde.

Dit kan baie moeilik wees vir 'n huwelik om te floreer as julle die heeltyd "Mamma" en "Pappa" is. Julle moet ook gereeld tyd as "man" en "vrou" saam spandeer. Dit beteken nie jy moet 'n 2-week vakansie in Hawaii bespreek nie, alhoewel dit ook lekker kan wees!

Gebruik net die klein rukkies gedurende die dag wanneer jy sonder onderbreking 'n gesprek kan voer, of selfs net stil-stil saam kan wees, sonder 'n baba op die heup, 'n kind wat aan jou broekspype trek of 'n tiener wat smeek om die karsleutels.

'n Daaglikse oggendstappie om die blok of 'n koppie tee saans nadat die kinders in die bed is kan wondere verrig om julle twee weer te konnekteer.

En ja, dis heeltemal in order om oor julle kinders te gesels wanneer julle alleen saam tyd spandeer, want hulle is darem een van die belangrikste bande wat julle in jul verhouding het.

Wanneer jy en jou eggenoot gereeld tydmaak vir mekaar en konnekteer op 'n manier wat julle verhouding koester, sal jy dalk net opnuut die liefde tussen julle, en sommer 'n verfrissende energie ook, ontdek, wat jou sal help om 'n beter, meer liefdevolle ouer te wees.

Jy skuld dit aan jouself, jou maat en jou kinders, om jou verhouding te vertroetel.

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 11 comments

Chantelle

Dis baie interessant. Nog iemand wat great huweliks advies gee is www.intiem.co.za Het al baie daar geleer!!
Posted on Thu, Apr 25th 2013, 08:26

jenny corna

Want to read it
Posted on Tue, Mar 19th 2013, 09:35

Kelly

Ek is na amper 15 jaar van enkel ma wees vir d eerste keer getrou toe ek 7 maande swanger was met ons seuntjie.Wat n aanpassing,n baba en huwelik op 40 jarige ouderdom en ook my 16 jarige tiener dogter!Ek voel meestal depressief n gedaan want alhoewel my man help met baba,moet ek steeds n huishouding run en dan werk ek ook nog vd huis af vir ekstra geld!Ek weetnie of dit is omdat ek laat in my lewe getrou het of nie maar vir my is dit nie lekker om getroud te wees nie.Ek dink partymaal om enkel ouer te wees was makliker.Voor ons getrou het ht hy my meer gesoen ensv.Nou is dt so piksoen dalk een keer n dag!Ek mis iemand wat my styf vashou n soen.Ek weetnie vir hoe lank ek nog so kan aangaan nie.My seuntjie is nou 16 mnde oud.Ek kyk partymaal vi my man n wens hy was iemand aners!Ek wil ook graag n gelukkige huwelik he maar hy praat skaars en spandeer elke vrye oomblik op sy laptop en speel rekenaarspeletjies!Selfs ini aand langs my ini bed!As ek iets se,se hy dis hoe hy ontspan!Maar ek kry nie kans om te ontspan nie!
Posted on Tue, Mar 19th 2013, 09:00

ronelle

my man is ook maar baie oudtyds vir sy ouderdom, hy dink dat mense net trou en da gelaat en dat mans werk terwyl die vrou moet sien dat die res gedoen word, wel ek is vandag se 26 jarige getroude huisvrou. ek soek aandag! en hoe anders as om aandag te trek soos 'n lawwe tiener en dit werk vir my. en in plaas van kla oor wat die ander een nie doen nie het ons 'n instelling gemaak om te vra wat kan ek vir jou doen,
Posted on Thu, Feb 21st 2013, 20:19

BFN Mother

Ek is netso gatvol om altyd die perfekte Ma en Vrou tewees en niemand in my gesin waardeer enigsins iets wat ek doen.Is altyd laat aan diens want ek moet sorg dat Manlief sowel as kiddies reg wees vir skool en werk.Manlief het natuurlik nog n vreeslike ander maier van dinge sien as ek.So,eerlikwaar,gatvol vir my lewens styl
Posted on Sun, Feb 10th 2013, 20:10

Marisa

my kinders weier volstrek om in hulle kamer te slaap. hulle wil by my op die bed lê. ek geniet die cuddling maar meeste van die tyd raak ek saam met hulle aan die slaap wat tyd vir my arme man heel by die venster uitgooi. sit die kinders in hulle beddens, skreeu hulle blou moord... gaan slaap nie voor 10 in die nag nie. roetine bly dieselfde. raad op...
Posted on Thu, Jan 31st 2013, 15:54

Lizelle

Dis alles goed en wel, maar ek is gatvol om alewig te moet vra vir goed om gedoen te word en te dink en doen vir alles en almal. en dan is ek nog boonop die een wat op die vloer rondkruip en speel saam kinders, dit nadat ek kos gemaak, hulle gebad en als reggekry het vir skool vir volgende dag...is ek die enigste een wat so voel?
Posted on Thu, Jan 31st 2013, 15:32

sara

en wat as hy nie wil oop maak en praat nie ek probeer maar dit is moeilik hy kan met sy friende en friendinne grappe maak maar nie met my nie ons is 14 jaar getroud en het 3 kinders ek is raad op
Posted on Sat, Dec 10th 2011, 21:03

Chantelle

Ek en my verloofde het vasgesit in die magstryd en het fatastiese raad en 'gereedskap" gekry by Imago Verhoudins terapie. Dit het ons verhouding gered! Imago het ons oe oopgemaak na n bewuste verhouding! http://huwelike.co.za
Posted on Tue, Jul 19th 2011, 14:04

Aletta Coetzee

Dit is alles so waar ons gebruik die maatreël so gereeld en na 3 jaar van 'n wonderlike huwelik is dit nog steeds wonderlik om manlief te sien na 'n lang dag. Ons geniet mekaar nog net so baie soos toe ons ontmoet het en sussie se laggie in die huis het alles nou net mooi gevul nou is ons surkel mooi toe.
Posted on Mon, Feb 14th 2011, 13:45

Natasha Matthieson

Dit is altyd goed om weer en weer sulke artikels te lees, want 'n mens se lewe is so gejaagd jy vergeet hoe om aan jou huwelik te werk al het julle nog nie kinders nie. Ons eerste kind is oppad - 12 Januarie 2011
Posted on Fri, Aug 20th 2010, 12:20