Insurance & funds

Het jy genoeg versekering?

Noudat julle ouers is, moet julle skielik ’n magdom nuwe besittings aanskaf. Maar wat gebeur as daardie peperduur stootwaentjie breek, of die nuwe videokamera gesteel word? Dan moet julle baie seker wees jul papierwerk is op datum en jul korttermyn-versekering toereikend ...

SHARE

 
Het jy genoeg versekering?
 
 
 

Swanger ouerpare kan verskoon word as korttermynversekering die laaste ding is waaraan hulle dink terwyl hulle al die duur babatoerusting soos stootwaentjies en ’n kot koop. Maar juis omdat duur baba-benodigdhede gewoonlik duursaam genoeg is om vir latere kinders ingespan te word, is dit ’n goeie plan om dit so gou moontlik te verseker.

Korttermynversekering het verskillende afdelings waarvan huishoudelike inhoud en motorversekering die algemeenste is.

Motors word teen hul markwaarde verseker en huishoudelike inhoud soos TV’s, rekenaars en klere word verseker teen die vervangingswaarde daarvan. As jy al dié dinge as huishoudelike inhoud verseker, word dit net gedek terwyl dit in die huis is. Maar omdat ’n mens baie daarvan by die huis uitneem (soos skootrekenaars), het versekeringspolisse ook ’n “alle risiko”-afdeling.

Dit gee versekeringsdekking aan huishoudelike inhoud wat jy uit die huis neem.

Babaprodukte val onder huishoudelike inhoud, maar versekeraars beveel gewoonlik aan dat jy dinge wat buite die huis gebruik word, soos ’n stootwaentjie, in die “alle risiko”-afdeling van jou versekeringpolis uitstippel.

Een goue reël van versekering sê jy moet jou polisse gereeld hersien om seker te maak dit hou tred met veranderinge in jou lewe, soos verhuising, en om die vervangingswaarde van huishoudelike items op datum te hou.

As julle ’n stootwaentjie koop met die hoop om dit vir ’n beplande boetie of sussie te gebruik, sal julle die vervangingswaarde daarvan ten minste jaarliks moet hersien. Produkte se pryse styg en al kos die stootwaentjie nou R1 500, sal die vervangingswaarde daarvan oor twee jaar dalk R2 000 wees.
Dis jou plig as polishouer om jou versekeraar hieroor op datum te hou. Spring dus weg deur al die nuwe items wat julle wil verseker, op ’n voorraadlys te plaas met die bedrae wat julle daarvoor opgedok het.

Moet ook nie van kleiner goed vergeet soos los matte, boeke en gordyne. Hersien dan ook sommer al jul huishoudelike items en wanneer die lysie voltooi is, kan julle jul versekeraar of makelaar laat weet om die polis op datum te bring.

Maak julle egter gereed vir ’n premie-verhoging. Premies word geskoei op risikoprofiel soos jul woonbuurt, ouderdom, wat julle verseker, vorige eise en nuwe items wat by die polis gevoeg word. Hoe hoër jul risiko, hoe groter die premie wat julle gaan betaal.

Die korttermynversekeringsmark is gelukkig baie mededingend en daarom kan julle vir drie of meer kwotasies van verskillende versekeraars vra en die een kies wat die beste gehalte teen die beste prys bied.

Kyk na die soort dekking, die voorwaardes van elke polis en bybetalings wat nodig sal wees as daar iets uit jou motor gesteel word.

Verder kan dit baie voordelig wees om een versekeraar te gebruik vir huishoudelike en motorversekering. Julle hoef dan net met een versekeraar te werk, een premie te betaal en kan selfs vir afslag kwalifiseer.

Mense word dikwels ontnugter as hul versekeringseise gedeeltelik uitbetaal word omdat die versekeringsdekking nie genoeg was nie; of, erger nog, as die eise afgekeur word omdat die polisvereistes geïgnoreer is.

Statistieke wys dat byna die helfte van mense met korttermynversekering met tot 45 % onderverseker is. Byvoorbeeld: Jy verseker jou huishoudelike inhoud – wat die stootwaentjie insluit – vir R110 000, maar die waarde daarvan is ongeveer R200 000. As daar by julle ingebreek word en goedere ter waarde van R20 000 word gesteel, gaan die versekeraar net R11 000 uitbetaal.

As jy ongelukkig is oor besluite van jou versekeraar en jy kan dit nie met hulle besleg nie, kan jy by die ombudsman vir korttermynversekering gaan aanklop vir hulp. Besoek www.osti.co.za.

Dankie aan Herman de Meyer, hoof van onderskrywing by Sanlam

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - No comments yet

Mom to Mom Feed
Poll

How do you feel about kids calling adults by their first names?

It's disrespectful.
Don't have a problem with it.
Not sure how I feel about it.