Ons vertel jou wat vroedvroue kan doen, hoe hulle opgelei word en hoe hulle jou kan help terwyl jy swanger is, kraam en selfs in die weke ná baba se geboorte.
Duisende jare lank al word vroue wat die lewe skenk, deur ander vroue bygestaan en vertroos. Geen wonder dus dat talle Suid-Afrikaanse vroue dit verkies om die swangerskap- en geboortepad saam met ’n vroedvrou te stap nie.
As jy “vroedvrou” sê, dink baie mense aan ’n ouerige tannie wat nie veel formele opleiding in geboortebystand het nie en wat jou hand vashou terwyl jy kraam. Dié prentjie kan egter nie verder van die waarheid wees nie. Vroedvroue is medies hoogs opgelei en beskik oor baie van die toerusting wat jy in ’n kraamsaal sal vind. Sommiges kan selfs suier- en ander ingewikkelde verlossings behartig.
“Ek spot altyd ons het alles behalwe ’n teater, want dit pas nie my kattebak nie,” sê Karen Clark (39), ’n gekwalifiseerde vroedvrou van die Oos-Kaap.
Karen kom baie ma’s teë wat met hul tweede bevalling ’n vroedvrou raadpleeg omdat hul eerste bevalling versuur is deur ’n gebrek aan aandag, kommunikasie en ondersteuning van hul dokter en mediese span.
“Die redes vir hul teleurstelling is dikwels dat die sorggewer te min tyd aan hulle bestee het of ongeduldig was en die vroue nie altyd al hul vrae kon vra nie.”
Voordele van vroedvroue
- Vroedvroue se tariewe is aansienlik laer as dié van ’n ginekoloog of dokter.
- ’n Vroedvrou kan jou regdeur jou swangerskap en die geboorte bystaan en jou veral ondersteun in jou begeerte om natuurlik te kraam.
- As jy ’n tuisgeboorte of watergeboorte wil hê, sal ’n vroedvrou jou kan ondersteun. ’n Ervare vroedvrou het al tientalle sulke bevallings agter die blad en weet wat jy deurmaak. Sy bly die heeltyd aan jou sy en hou jou en jou kind se welstand altyd in gedagte.
Vroedvroue is nie net daar om jou swangerskap te monitor en toe te sien dat die bevalling glad verloop nie; hulle sien ook na jou om op ’n sielkundige en emosionele vlak en bou ’n langdurige verhouding met jou, sê Karen.
“Ek word gereeld na verjaardagpartytjies genooi en sommige ma’s bel my sommer ook om te hoor by watter skool hulle hul kinders moet plaas. Dit het grootliks te make met die feit dat ek as vroedvrou ’n intense deel van hul lewe met hulle gedeel het,” vertel Karen.
Wat jy kan verwag
Die eerste vroedvroukonsultasie duur sowat ’n uur en alle opvolgbesoeke sowat 30-45 minute, dus taamlik langer as ’n tipiese doktersafspraak. In dié tyd word jy ingelig oor en voorberei op die geboorteproses en word jou dieet- en oefenplan bespreek, sê Karen. Daar word ook spesiale aandag gegee aan jou emosionele welstand en jy kan dus al jou vrese en swangerskapskwale met vrymoedigheid bespreek.
As komplikasies of ’n mediese noodgeval ontstaan, is ’n dokter se hulp egter nodig. Vroedvroue werk gewoonlik saam met dokters wat op bystand is. Hulle is opgelei om te weet wanneer komplikasies ontstaan het en kan die fort hou tot die dokter of ambulans opdaag.
Vroedvroue voer dieselfde prosedures, toetste en ondersoeke as ’n dokter of ginekoloog uit en stuur ook bloedmonsters weg na laboratoriums.
Kies gerus ’n vroedvrou met die persoonlikheid wat jy verlang, sê Karen – of dit nou ’n militêre tannie of ’n liefdevolle, sagte mafiguur is.
Selfs vroue wat met hul eerste bevalling ’n keisersnee gehad het, kan met die hulp van ’n vroedvrou ’n natuurlike bevalling aanpak. Die kans dat iets sal skeefloop, is 0,3%, sê Karen. ’n Ginekoloog is altyd op bystand en ’n bed word gewoonlik by die naaste hospitaal bespreek as ’n noodgeval ontstaan.
Vroedvroue is toegerus om die hele bevalling alleen te hanteer en kan selfs ’n episiotomie uitvoer indien nodig. Hulle het dikwels sekere pynverligtingsopsies ook beskikbaar. Hulle lê ook ná die geboorte besoek af en help jou om borsvoeding te bemeester.
Jy kyk na ’n koste van tussen R5 000 en R6 000 vir die kraamproses. As jy bykomende toerusting wil huur, sal dit ekstra kos. Dis die moeite werd om met jou mediese fonds te onderhandel om te hoor of hulle jou bevalling met die hulp van ’n vroedvrou sal dek. Vind gerus ook uit of jou hospitaalskema ’n tuisgeboorte sal dek.
Het sy die regte kwalifikasies?
Alle geregistreerde verpleegkundiges in Suid-Afrika is as vroedvroue opgelei, sê Diana du Plessis van Johannesburg, ’n geregistreerde verpleegkundige en vroedvrou met ’n doktorsgraad in verloskunde.
Die opleiding is op diplomavlak (by spesiale kolleges) of op graadvlak (by universiteite). Studente ontvang hul verloskunde-opleiding by staatshospitale.
Geregistreerde verpleegkundiges word by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging geregistreer en werk volgens spesifieke regulasies.
Waar werk vroedvroue?
Jy sal vroedvroue aantref in staatshospitale, privaat hospitale, obstetriese kraameenhede en as privaat praktisyns.
“In staatshospitale staan hulle ma’s by met alle normale, ongekompliseerde swangerskappe en verlossings. Hulle mag episiotomieë uitvoer en heg en as die geneesheer nie betyds kan kom nie, is hulle heeltemal in staat om ’n verskeidenheid van gekompliseerde verlossings te hanteer,“ sê Diana.
Die vroedvroue wat in obstetriese kraameenhede werk, doen nes hul staatshospitaal-kollegas alles wat ’n geneesheer normaalweg sou doen. Dié eenhede word net deur vroedvroue beman wat verantwoordelikheid aanvaar vir voor- en nageboortesorg en die bevalling. As komplikasies ontstaan, is dokters op bystand of ’n ambulans word ontbied.
Daar is ’n verskeidenheid sulke dienste in stede en op die platteland, sê Diana. ’n Hospitaal sal jou na so ’n eenheid kan verwys.
In privaat hospitale is jy onder die toesig van die dokter. Hoewel die vroedvroue wat in privaat hospitale werk, opgelei en dus in staat is om normale ongekompliseerde verlossing te hanteer, bly die dokter die sorggewer en word hy betaal vir sy dienste.
“Die vroedvrou doen alles vir die ma, ongeag wat haar behoeftes is, maar die geneesheer word ingeroep wanneer sy baie naby aan kraam is. Dis omdat vroedvroue in privaat hospitale nie toegelaat word om die verlossing te hanteer nie, hoewel hulle in staat is om dit te doen.”
Vroedvroue in privaat praktyke funksioneer op verskillende vlakke. Hulle bied voorgeboorteklasse aan, lewer nageboortesorg en is betrokke by die verlossing self. Wat vroedvroue kan doen Volgens regulasies het ’n vroedvrou ’n tassie met spesifieke toerusting wat medikasie en drupstelle insluit.
“Alle vroedvroue mag binneaarse vog toedien, inspuitings gee, kateters inplaas en episiotomieë uitvoer en heg. Volgens regulasies moet ’n vroedvrou in ’n noodgeval kan optree om die ma en kind se lewe te red indien sy vir daardie optrede opgelei is,“ sê Diana.
Vroedvroue kan ook spesialiseer met nagraadse kwalifikasies in gevorderde verloskunde. Hulle word dan spesiaal opgelei om byvoorbeeld tangverlossings en suierverlossings uit te voer, asook ander meer gevorderde prosedures. Vra gerus uit oor jou vroedvrou se kwalifikasies en ervaring.
Ekstra bronne: www.birthworks.co.za; www.midwivessociety.co.za
Sophia Swanepoel and katija patel are now friends. Gister, 21:44
Sophia Swanepoel and Ilonka Graham are now friends. Gister, 20:24
Jo Brand became a registered member. Gister, 19:58












Add your comment
Comments - 1 comment so far
Anel
Ek is nou vir die tweede keer swanger en die keer met 'n tweeling en soek nog na iemand wat positief is daaroor dat mens normaal kan kraam met 'n tweeling - in ons land word klaarblyklik geglo 'n keiser is normaal en normaal is, wel, abnormaal en dis nou ongeag van hoeveel kinders jy mee swanger is... My eerste kind is normaal gebore in 'n staatshospitaal en was daar net 'n vroedvrou en ek dink een verpleegster. Alles het baie goed afgeloop en ek was naderhand spyt dat ek nie sommer by die huis gekraam het nie! Ons het 4:15 die Dinsdagoggend by my ouers gestop om te sê ek gaan hospitaal toe, 6:45 het my water gebreek en 7:35 is my seuntjie gebore! Ek het die vroedvrou ongelukkig net daardie dag gesien, maar was sy puik en was ek baie tevrede met hoe ek behandel was.