Changing body

Hou op stres as jy swanger is

Erge stres tydens swangerskap kan jou ongebore baba affekteer. Jy moet dus alles in die stryd werp om jou stres te bekamp.

SHARE

 
Hou op stres as jy swanger is
 
 
 
 

Terwyl jou baba in die baarmoeder is, word hy blootgestel aan die lewe soos jy dit ervaar. Waarheen jy ook al gaan, gaan jou baba; wat jy ruik en proe, ervaar jou kind.

Wanneer jy dus trauma deurmaak, maak jou baba dit ook deur. Maar het dit ’n invloed op jou baba?

“Beslis,” antwoord Karen van Zyl-Steyn, ’n berader, sielkundige en kenner van HypnoBirthing. Sy verduidelik dat baba en ma tydens swangerskap op verskeie vlakke bind en baba is baie sensitief vir enige verandering in sy ma se gemoed. As jy gestres is, is jou baba dit ook.

Invloed van stres op jou baba

Onlangse navorsing (’n studie met die titel Maternal Anxiety: Its Effect on the Fetus and the Child) toon dat hoë vlakke van streshormone ’n kind se breinontwikkeling kan aantas. Die studie noem ook dat spanning tussen paartjies en selfs gesinsgeweld toeneem tydens swangerskap, en dat die stres hiervan die fetus op lang termyn kan skade doen.

Hewige stres of angs kan die kanse verdubbel dat ’n kind later emosionele, gedrags- en kognitiewe probleme opdoen, soos ’n Israelse studie getoon het. Twee groepe seuns het aan dié navorsing deelgeneem:

Die een groep is tydens die Sesdaagse Oorlog gebore en die ander groep twee jaar later. Die kinders wat in die baarmoeder was terwyl die oorlog gewoed het, het betekenisvolle ontwikkelingsagterstande
en emosionele regressie getoon.

Moet jy dus bekommerd wees as jy die slagoffer van misdaad of geweld was terwyl jy swanger was – of selfs as jy net paniekerig was dat jy dalk die slagoffer van ’n motorkaping of huisbraak kon wees? Ja, sê Vivette Glover, professor in voorgeboortelike psigobiologie in Engeland.

’n Swanger vrou moet in lande soos SA en Irak maar gedurig in gedagte hou dat die misdaad of geweldsprobleem haar baie gespanne kan maak en dat dit haar kind kan aantas. “’n Mens moet probeer om stres te verminder terwyl jy swanger is. Dis ’n probleem as swanger vroue in stresvolle omstandighede verkeer, want dit kan ’n gesondheidsdebakel tot gevolg hê,” waarsku sy.

Plasenta se rol

“Die plasenta dien as versperring tussen ma en baba. Dit moet gifstowwe buite hou, – maar dit versterk sommige streshormone,” verduidelik Karen. “Aan die een kant maak dit die ma meer sensitief vir stresverwante veranderinge by haar baba sodat sy kan optree en die baba se lewe in ’n noodgeval kan red.

Aan die ander kant is die baba egter ook sensitief vir enige verandering in sy ma se stresvlak.”
Wetenskaplikes het al agtergekom daar is ’n verband tussen voorgeboortelike stres en vroeë geboorte.

Die mensdom is so geskape dat ons geprogrammeer is om te reageer op stres om ons te help oorleef, maar dit het ook ‘n negatiewe kant. In ’n stresvolle situasie reageer die sentrale senuweestelsel
deur die streshormoon kortisol vry te stel. Dit laat die adrenalien pomp sodat jy op die stressituasie kan reageer, maar as jou stresreaksie nie vinnig genoeg afskakel nie, kan die oortollige kortisol in die liggaam selfs ’n volwasse brein skade doen.

Dink dus net watter uitwerking dit op die delikate, ontwikkelende breinselletjies van ’n fetus kan hê ...

Verminderde bloedvloei

Nog ’n manier waarop erge moederlike stres jou baba se ontwikkeling kan aantas, is deur die bloedvloei na die fetus te laat afneem. Só sê navorsers wat die bloedvloei na die fetus in die baarmoeder getoets het.

Verminderde bloedvloei beteken ’n vermindering van suurstof en voedingstowwe vir baba se brein.
Normaalweg word die fetus se brein beskerm deur sekere ensieme wat dit omsirkel en teen gevaarlike stowwe beskerm, maar dié ensieme funksioneer nie so doeltreffend te midde van besondere hoë stresvlakke nie.

Hiperaktiwiteit

Die eerste studies wat die verband tussen stres en hiperaktiwiteit aangetoon het, het reeds in die 1970’s verskyn. Navorsers het proefnemings op diere gedoen en tot die gevolgtrekking gekom dat vroue wat tydens hul swangerskap onder erge stres verkeer het, meer geneig was om hiperaktiewe kinders te hê.

Verdere navorsing het die verband tussen voorgeboortelike stres en bepaalde gedrag by kinders verder bevestig. Sowat 153 kinders is gedurende hul eerste vier lewensjare waargeneem, verskillende aspekte van verskeie swangerskappe is opgeskryf en onderhoude gedoen met die ma’s in die ses maande ná geboorte.

In hierdie opname is 14 vroue geïdentifiseer wat angs weens huweliksprobleme ervaar het. Altesaam 10 van hul kinders was hiperaktief – anders as in die geval van ma’s wat geen stres of angs ervaar het nie.

Daarby het dit geblyk dat die kinders van gespanne ma’s ’n groter gevaar geloop het om aan aandaggebreksteurnis (AGS) te ly, asook aan angstigheid en kognitiewe agterstande, sê Vivette Glover.

Koliek

Koliek word kortweg beskryf as ’n toestand waar babas in die eerste vier maande ná geboorte aanhoudend huil. In ’n Duitse opname is 37 pasgeborenes wat in die hospitaal beland het weens babahuilsindroom (die mediese term vir koliek) vergelyk met 49 babas wat nie die probleem gehad het nie.

In die groep koliekbabas was daar tien keer meer ma’s wat gesê het hulle het konflik met hul huweliksmaats ondervind terwyl hulle swanger was as in die ander groep.

Kopomtrek

Studies toon dat daar ’n moontlike verband is tussen moederlike stres en ’n klein kopomtrek met geboorte.

Toe navorsers 70 ma’s wat in stresvolle omstandighede swanger was, vergelyk het met 50 ma’s wat nie so gestres was nie, het hulle agtergekom die babas van gespanne ma’s het ’n groter kans gehad om ’n klein kopomtrek te hê as dié wat minder gespanne was. Dié verskil was selfs groter as tussen die babas van rokers en nierokers.

Vroeë geboorte

Terwyl baie navorsing nog nodig is voor kenners tot ’n finale slotsom kan kom, lyk dit tog of moederlike
stres soms tot vroeggeborenheid kan lei.

Skisofrenie

Voorgeboortelike faktore soos stres, wanvoeding en komplikasies tydens swangerskap of geboorte word verbind met ’n groter kans om skisofrenie op te doen.

Die Finse psigiater dr. Matti Huttunen het die lewe van 167 kinders gevolg wat hul pa gedurende die Tweede Wêreldoorlog verloor het terwyl hulle fetusse was. Dié groep kinders is vergelyk met sowat 168 kinders wat tussen een en vyf jaar oud was toe hul pa gesterf het.

Die kinders wat hul pa voor geboorte verloor het, het ’n groter sterftesyfer gehad as dié wie se pa gesterf het terwyl hulle kinders was. In die eerste groep het ses skisofrenie opgedoen terwyl net een in die tweede groep dit ontwikkel het.

Aan die ander kant ...

Voor al hierdie inligting jou nou nog meer laat stres, is dit belangrik om te weet dat al die navorsers wat by die studies hierbo betrokke was, maan dat ander faktore ook hul bevindings kon beïnvloed het.

Die manier waarop ’n slagoffer op misdaad reageer, word deur ’n verskeidenheid faktore bepaal, soos oor erwing, sosiale omstandighede en hul persoonlikheid en algemene vermoë om stres te hanteer.

Daarby is diere se eerste reaksie op ’n noodsituasie om te veg of te vlug, terwyl mense meer geneig is om met leefstylveranderinge te reageer, soos om meer sigarette per dag te rook of meer alkohol te
drink, of om minder aandag aan gesonde eetgewoontes en oefening te gee.

Dié gewoontes kan ook jou baba se breinontwikkeling aantas – en kon dus studieresultate skeef beïnvloed het.

Die ma se geestesgesondheid tydens swangerskap en geboorte het ook ’n invloed op die pasgeborene
se welstand. ’n Kalm, ontspanne omgewing ná die geboorte kan die pasgeborene se emosionele gedrag beslis positief beïnvloed. Mishandeling en verwaarlosing kan weer die kind se kans op depressie in die
toekoms verhoog.

Selfs net blootstelling aan die ma se depressie en angs word gekoppel aan emosionele afwykings.

Karen van Zyl-Steyn glo ’n baba se breinontwikkeling vind plaas in tandem met sy ma se welstand. Die baba leer deur sy ma as’t ware in die baarmoeder reeds hoe om in die buitewêreld te oorleef.

“As die ma baie gestres is tydens die swangerskap, sal die baba waarskynlik sy vegtersinstink slyp deur ’n groter agterbrein te ontwikkel. En as die ma meestal ontspanne is, leer die baba dat die wêreld buite die baarmoeder veilig is en hoef hy hom nie op gevegte voor te berei nie.

Hy sal waarskynlik ’n groter voorbrein ontwikkel, wat verbind word met intellek en kreatiwiteit.”

Die soort stres wat jy ervaar, speel waarskynlik ook ’n rol. Navorsing toon byvoorbeeld dat aanhoudende stres wat nie jou emosionele sekuriteit bedreig nie (soos die siekte van ’n familielid), min of geen uitwerking op jou ongebore kind het. Maar langdurige stres soos gesinsgeweld het wel ’n uitwerking.

Behandeling en Medikasie

As die stres te kwaai is, moet jy dit beslis oorweeg om professionele hulp te kry, sê Liz Dooley van die Family Life Centre in Parkview, Johannesburg. Selfs al voel jy die stres kry nie die oorhand nie, moet
jy dalk maar gaan hulp soek.

“Dit gaan immers nie net oor jou nie, maar oor die lewe wat binne-in jou ontwikkel,” sê sy. Dis in elk geval byna onmoontlik om stres te vermy terwyl jy swanger is, en dus kan jy gerus liewer uitvind hoe om dit te hanteer, is Karen se raad.

Daarby kan jy dan probeer om stresfaktore waar moontlik te verwyder of te vermy.

Pas jou op

Vir swanger vroue wat stres weens geweld ervaar, het Karen dié raad: “Doen wat mense doen wat trauma deurgemaak het – praat met ’n professionele terapeut en pas jou op.

Probeer om gesond te eet, genoeg slaap te kry, oefening te doen en die regte aanvullings te neem.”
Spierverslappers en pynpille moet net met die toestemming van jou dokter gebruik word. Nie net dring dit die plasenta binne nie, dit kan ook die hartkloppatroon en bewegings aantas.

As jy slagoffer van ’n traumatiese gebeurtenis was, moet jy jou dokter laat weet as jy voor die voorval medikasie geneem het. Laastens is dit belangrik om te onthou dat die risiko’s van stres net dit is: risiko’s. ‘n Gestresde swangerskap beteken nie noodwendig dat jou kind benadeel is nie.

“Moet dus nie stres net omdat jy stres nie! Die kans dat jou stres jou baba gaan aantas, is maar tussen 5 en 10 persent. Dit beteken minstens 90 persent van alle ma’s wat kwaai stres beleef, gesonde
kindertjies in die wêreld bring.”

Onthou

“Een van die beste geskenke wat ’n ma haar baba kan gee, is om te ontspan. Ons doen dit nie genoeg in ons samelewing nie. Amperouers gee nie altyd erkenning aan die lewe wat binne die baarmoeder bestaan nie en gebruik dikwels swangerskap om stresvolle dinge afgehandel te kry voor die baba opdaag. Maar jou baba is al klaar daar,” sê die berader Karen van Zyl-Steyn.

 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 3 comments

SARIE

GOEIE DAG IS DAAR ENIGE MEDIKASIE WAS GEBRUIK KAN WORD AS JY SWANGERS IS VIR STRES
Posted on Mon, May 27th 2013, 08:29

Nokuzola Boqwana

Kindly please advise where we can get. This article in English as not all of your readers are afrikaans speaking people...
Posted on Thu, Mar 15th 2012, 13:08

Michelle

Hi I am really interested in reading this artical, however i am unable to understand Afrikaans, is it possible i could get this in English please.
Posted on Thu, Sep 15th 2011, 11:41