Nutrition

Kos om te vermy as jy swanger is

Noudat jy swanger is, is dit wat jy eet, belangriker as ooit tevore. Hier is B&K se lys van die kos wat jy tot baba se geboorte liefs van jou bord moet verban.

SHARE

 
Kos om te vermy as jy swanger is
 
 
 

Nes jy moet seker maak dat jy al die regte kosse eet, is daar sekere dinge waarvan jy moet wegbly terwyl jy swanger is omdat dit voedselvergiftiging kan veroorsaak of gevaarlik vir jou ongebore baba kan wees.

Gemorskos

Die meeste geriefskosse drup gewoonlik van versadigde vette en kalorieë sonder dat dit jou of jou baba veel voedingswaarde bied. Vermy dit as jy kan, hoewel jy maar so af en toe voor ’n burger mag swig.

Vermy droë aartappelskyfies, gaskoeldrank, koekies, pasteie, sjokolade, lekkers, koek en roomys en kies kos met baie vesel en min suiker. As die honger tussen maaltye knaag, eet liewer vrugte, groente, jogurt of ’n heelgraankoekie.

Kafeïen

Wees op die uitkyk vir kafeïen omdat dit ’n bestanddeel van baie produkte is soos koffie, tee, kola en sjokolade. Baie medisyne soos hoesgoed en hoofpynpille bevat ook groot hoeveelhede kafeïen.

n Mens moet versigtig wees vir kafeïen omdat dit die sentrale senustelsel stimuleer. Dit kan jou en jou baba onrustig laat voel en julle selfs hartkloppings gee. Dit beïnvloed jou en baba se vermoë om kalsium op te neem.

Vier koppies koffie ’n dag (800 mg kafeïen) kan jou baba se geboortegewig beïnvloed en selfs veroorsaak dat baba met ’n kleiner kop gebore word!

Lees die etikette van kos, koeldranke en toonbankmedisyne baie versigtig om die hoeveelheid kafeïen te bepaal. Skakel dit uit waar moontlik.

Kruie en kruietee

Daar is baie kruietees op die mark wat vir allerlei swangerskapkwellings help en wat veral kafeïenryke koffie en tee kan vervang.

Tog is daar ’n paar soorte kruietee – en kruie ook – wat swanger vroue liefs moet vermy omdat dit baba se ontwikkeling kan skade doen. Dié kruie sluit in salie (in groot hoeveelhede), polei (Pennyroyal), jenewerbessies (juniper berries), psilliumsaad (psyllium seed), smeerwortel (comfrey) en wynruit (rue).

As jy tydens jou swangerskap by ’n aanvullende geneser aanklop, is dit baie belangrik om te noem dat jy swanger is – ’n mens dink soms ’n middel is gesond net omdat dit natuurlik is, maar nie alle natuurlike medisynes is veilig in swangerskap nie.

Kunsmatige versoeters

Hoewel geen studie nog kon agterkom of kunsmatige versoeters sleg is vir ’n embrio nie, bevat baie kunsmatige versoeters die bestanddeel fenielalanien. Sommige mense kan die seldsame toestand fenielketonurie ontwikkel, waar hul liggaam nie in staat is om fenielalanien te absorbeer nie en dan word dit in die liggaamsvloeistowwe opgegaar.

Dit kan verstandelike vertraging en ander probleme van die sentrale senustelsel by ’n ontwikkelende baba veroorsaak. Sny kunsmatige versoeters dus liewer heeltemal uit terwyl jy swanger is.

Rou eier

Rou eier kan Salmonella-bakterieë bevat, wat voedselvergiftiging kan veroorsaak. Hoewel dit onwaarskynlik is dat Salmonella-voedselvergiftiging jou baba sal skade doen, word tog aanbeveel dat jy tydens jou swangerskap produkte vermy wat dit kan bevat.

Dié bakterieë kom veral in gekraakte eiers voor, maar is ook al in heel eiers opgespoor wanneer die hen se eierstokke daarmee besmet was. Die bakterieë word deur die kookproses vernietig en kan ook in rou hoender en ander rou pluimvee gevind word.

Was dus altyd jou hande nadat jy gewerk het met hoender of kos met rou eier as bestanddeel, en maak pluimvee deeglik gaar.

Vermy kos met rou eier soos slaaisouse, hollandaise-sous en tuisgemaakte roomys wat met eiers gemaak word. Kook eiers vir sewe minute of posjeer dit vir vyf minute. Braai eiers vir drie minute aan elke kant. Vermy eiers waarvan die geel nog loperig is terwyl jy swanger is.

Visfeite

Vis is een van die gesondste voedselbronne vir swanger vroue omdat dit so ryk is aan omega 3-vetsure wat hartsiektes help voorkom. Boonop is dit bewys dat omega 3-olies hoë bloeddruk in swangerskap en preëklampsie help voorkom.

Vroue wat tydens hul swangerskap ’n groot verskeidenheid vis eet, is langer swanger en hul babas het ’n hoër geboortegewig. Dit is belangrik, want hoe sterker baba by geboorte is, hoe skraler is sy kanse om kort daarna siek te word.

Die meeste vissoorte kan veilig geëet word en jy kan dit gerus by jou dieet insluit. Die meeste vis bevat min vet en groot hoeveelhede vitamien B, yster, sink, selenium en koper.

Sommige vissoorte is egter besoedel met metielkwik, ’n gevaarlike bestanddeel wat die gevolg is van mensgemaakte besoedeling. Dit beland in die water en word deur sekere vissoorte geabsorbeer. Mense wat dié vis eet, loop die gevaar om metielkwik-vergiftiging op te doen.

'n Oormaat metielkwik in vis is gevaarlik en kan ook deur die plasenta na baba oorgedra word.

Navorsers het al ontstellend hoë metielkwik-ladings gevind in vissoorte soos sommige salm, tuna (gevries en geblik) en makriel. Geblikte tuna is veiliger, maar moenie meer as twee blikkies ’n week eet nie.

Vermy soesji terwyl jy swanger is omdat die rou vis virusse en parasiete kan hê. Rou skulpvis wat besmet is, kan hepatitis A, cholera en gastroënteritis veroorsaak. Vermy alle rou vis.

Sout en natrium

Natrium is die chemikalie wat die vloeistowwe in jou liggaam reguleer. Tafelsout bestaan uit natrium en chloried. Natrium is te kry in souterige kosse soos neute, agurkies en baie verwerkte kos, van sop tot vleis. Dit word ook in sportdrankies gevind.

Probeer om net 3 gram (3 000 mg) natrium per dag in te neem terwyl jy swanger is. Te veel veroorsaak vogterughouding, swelling en hoë bloeddruk.

Kaas

Vermy blouskimmelkaas, baie sagte kase, ongepasteuriseerde kaas en kaas wat van rou melk gemaak is. Dié kase kan soms ’n bakterie bekend as Listeria bevat, wat met miskrame en voortydige kraam verbind word. Fetakaas is egter nie ’n probleem nie.

Alkohol

Om vir nege maande lank alkohol heeltemal te vermy, is regtig nie te veel gevra nie. Hoewel navorsing al gewys het dat ’n baie klein hoeveelheid alkohol jou baba geen skade sal berokken nie, is dit beter om heeltemal daarvan weg te bly.

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 3 comments

Chatlene

Ek wil graag weet of mens biltong kan eet. Maak dit n verskil as dit nat of goed droog is!
Posted on Mon, Jul 7th 2014, 19:47

Karien

Hi, daar! Ek wil asb weet of mens salami mag eet tydens swangerskap. Groete Karien
Posted on Mon, Dec 23rd 2013, 17:51

Elzeth Loubser

Mag baie juice drink? Ek drink baie Oros, is dit veilig? Mag Snoek eet (word gebraai)...? Ek is baie lief vir sterk speserye (soos kerrie), is dit veilig?
Posted on Tue, Oct 11th 2011, 19:29
Mom to Mom Feed
Poll

What do you feel the guiltiest about as mom?

I feel I don't spend enough quality time with my kids.
I shout at them.
I don't listen to them attentively and am always distracted.
I probably should have breastfed them for longer.
I'm not able to give them more material things.
I'm not organised with scrap books and albums and memory boxes.
My kids are overweight.
My kids watch too much TV.
I feel guilty for sometimes wishing I could just go away and be by myself.
Someone else is looking after my kids while I work.
I don't feel guilty!