Pregnancy health

Swangerskap-skete... en hoe om dit te oorkom

En só wag jy nog steeds vir daai blomfase van swangerskap waar jy met ’n pragtige blos op die wange spog terwyl jy jou blink bos hare selfversekerd oor jou skouers gooi en tevrede oor jou perfekte ronde magie vryf . . . Maar nee, pleks daarvan dat jy soos ’n kraakvars lelie lyk waarvan die kroonblare pas oopgevou het, voel jy maar taamlik verwelk.

SHARE

 
 
 
 



Niemand het jou gewaarsku teen al die nare goed wat ’n swangerskap soms kan inhou nie – van aambeie tot inkontinensie. Toemaar, jy is nie die enigste siel wat hierdeur wroeg nie. Daar is heelwat swangerskapskwale wat die meeste vroue tref. Ons bekyk sewe van die grootste sondaars. 

Aambeie

Al ooit gehoor hoe die ou mense jou waarsku om nie op ’n nat of koue vloer te sit nie, want dit veroorsaak aambeie? Wel, jou kans om dit tydens swangerskap te kry, is ’n honderd maal waarskynliker!

Aambeie – ook bekend as hemorroïede – is uitgesette are in die anale kanaal. Baie mense kry dit die een of ander tyd, maar dit veroorsaak gewoonlik net ongemak wanneer dit by die anus uitsak.

Aambeie word meestal veroorsaak deur beuring tydens hardlywige ontlasting (nóg ’n algemene kwaal wat hieronder bespreek word) en ook die passering van harde stoelgange. Dit beskadig alles die voering van die anale kanaal en die are se beskermende lagie.

Swak bloedsomloop in dié area is nog ’n oorsaak en die rede waarom aambeie dikwels tydens swangerskap voorkom. Die gewig van jou baba (en jou baarmoeder wat propvol vrugwater is) kan só swaar raak dat dit die bloedsomloop in die area daar onder belemmer.  

(En moenie neus in die lug rondloop as jy díé aaklige newe-effek van swangerskap vrygespring het nie. Die natuur kan jou nog altyd bykom wanneer jy klaar gekraam het. En dit is nie net vroue wat normaal gekraam het wat deurloop nie, selfs diegene wat ’n keisersnee gehad het, kan ná die geboorte aambeie ontwikkel.)

Behandeling

  • Probeer aambeie voorkom deur jou stoelgang so sag en gereeld moontlik te hou deur hope vesel te eet.
  • Daar is middels sonder voorskrif te koop, soos Anethaine-salf en setpille wat die ongemak van aambeie sal verlig, maar ongelukkig nie noodwendig sal genees nie.
  • Een behandeling is skleroterapie, waar ’n verhardingmiddel ingespuit word om die aartjies te laat krimp.
  • Gebruik lysterbessie (witch hazel) op ’n stukkie watte of gebruik medisinale aambei- sanitêre doekies as die nood druk.
  • Bad gereeld. Die warm water is nie net strelend nie, dit hou die area skoon en help so om infeksie te voorkom. 

Sooibrand (refluks)

Dit maak nie saak of dit aan die begin of aan die einde van jou swangerskap is nie, maar as dit al ooit vir jou gevoel het asof jy vuur kan spoeg, sal jy presies weet wat sooibrand beteken . . .

Wanneer die suur spysverteringsappe uit die maag opstoot en in jou slukderm beland, kry ’n mens sooibrand. Dit ontstaan wanneer die eenrigting-sluitspier wat kos die maag binnelaat vanaf die slukderm nie styf genoeg toemaak nie en dan gebeur dit dat die maag se suur inhoud na die slukderm toe terugstoot.

Die kenmerkende simptome van refluks is ’n branderige sensasie in die bors en keel. Dit volg gewoonlik veral op die inname van vrugtesap, warm drankies of warm, vetterige kos, en is erger wanneer jy lê of buk.

Sooibrand kan so erg raak dit kos of vloeistof agter in die mond opstoot, veral in die nag terwyl jy lê, en dit kan voel asof jy wil verstik.

Swangerskap is ’n algemene oorsaak van refluks omdat dit die opwaartse druk op die sluitspier laat vererger.

(En nee, as jy wil sterf van sooibrand tydens swangerskap beteken dit nie dat jou baba met ’n bos hare gebore gaan word nie. Dis sommer net ’n ouvroustorie dat daar ’n verband tussen jou baba se hare en sooibrand is.)

Behandeling

  • Daar is heelwat veilige teensuurmiddels op die mark wat die maagsuur sal neutraliseer. (Sommige teensuurmiddels het boonop ekstra kalsium bygevoeg.)
  • Eet saans klein maaltye en eet ’n paar uur voor slaaptyd sodat die kos betyds verteer.
  • Lig die koppenent van jou bed sowat 20 cm (’n baksteen en ou telefoongidse is ideaal) of gebruik ekstra kussings om die suur binne-in jou maag te help hou.
  • Vermy stywe klere en gordels en moenie te veel buk of plat lê ná etes nie.

 

Hardlywigheid

’n Swanger vrou se spysverteringstelsel is heelwat stadiger weens al die swangerskapshormone wat deur haar lyf pomp. Dis waarskynlik die natuur se manier om doodseker te maak dat jy elke titsel vitamien en mineraal opneem en dís waarom kos ook langer in die maag bly. En behalwe dat dit een van die redes is waarom swanger vroue meer geneig is tot winderigheid, veroorsaak dit ook hardlywigheid.

Asof dit nie reeds genoeg is nie, kan jou vitamienaanvulling wat yster bevat, die hardlywigheid vererger. Die hormoon progesteroon laat boonop die dermwand ontspan sodat die peristaltiese bewegings flouer raak. (Die teendeel is egter ook moontlik: Sommige vroue wat met hardlywigheid gesukkel het weens ’n spastiese dermspier vind dat hul hardlywigheid tydens swangerskap verbeter. Die progesteroon laat die spiere ontspan en die derm werk meer doeltreffend.)

Behandeling

  • Moet nooit ’n lakseermiddel gebruik wanneer jy swanger is nie; probeer eerder om jou dieet te verander. Vervang wit- deur volkoringbrood. Eet baie vars vrugte en groente en ontbytgraan wat vesel bevat. Drink 1,5 tot 2 liter water per dag en ’n koppie kookwater wanneer jy opstaan en weer een net voor jy gaan slaap.
  • Gaan dadelik toilet toe as jy die behoefte het om te ontlas – as jy uitstel, word jou stoelgang droog en dis een van die hoofoorsake van hardlywigheid.
  • Swem is goeie oefening omdat water die dermfunksie stimuleer.
  • Gebruik ook ’n aanvulling van ’n omega 3-ryke olie soos lynolie, vlasolie of visolie as jou stoelgang droog en krummelrig is.
  • In haar Swangerskap- en Geboorteboek (Human & Rosseau) beveel suster Lilian die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos drie maal per dag aan om die dermwandspiere soepel en sterk te maak.
  • Sy beveel verder Segiro-druppels aan vir hardlywigheid wat met opgeblasenheid gepaardgaan.
  • En as jy regtig erg hardlywig is, gebruik ’n gliserien-setpil om die derm van ’n harde stoelgang te ledig.  

Vaginale afskeiding

Vaginale afskeiding gedurende swangerskap verskil van vrou tot vrou. Tog is ’n dun, melkerige afskeiding met ’n matige reuk (leukorree) normaal gedurende swangerskap. Dit is baie soos die afskeiding wat baie vroue het voor hulle begin menstrueer. Hierdie afskeiding kan toeneem soos die geboortedatum naderkom. Moet nooit tampons hiervoor gebruik nie omdat dit kieme in die vagina kan laat broei.

Kenners is dit deesdae eens dat vaginale uitspoeling glad nie ’n goeie plan is nie. Dit gooi die normale balans van mikro-organismes in die vagina omver en kan lei tot bakteriese vaginose, ’n ernstige vaginale infeksie.

’n Vaginale afskeiding tydens swangerskap behoort geen ander kleur as wit te wees nie en mag ook nie jeukerig, branderig of onwelriekend wees nie. Enige afwyking hiervan kan ’n aanduiding wees van ’n infeksie. Die vaginale area kan wel gekneus en geswel voel.  

Vaginale sproei (Candida)

Vaginale sproei kom taamlik algemeen voor tydens swangerskap as gevolg van die veranderde pH van jou liggaam. Die simptome sluit ’n effens onwelriekende reuk, dik wit of geel vaginale afskeiding, jeukerigheid en branderigheid in. Dit kan selfs bloeding veroorsaak.

Vaginale sproei moet behandel word om te voorkom dat die baba dit opdoen tydens ’n natuurlike geboorte. Dit kan hardnekkige mondsproei by pasgebore babas veroorsaak.

Volgens suster Lilian moet ander vaginale infeksies spesifiek behandel word. Jou dokter sal ’n geskikte vaginale swamdoder moet voorskryf as die onderstaande raad nie die simptome verlig nie. Moenie jouself probeer behandel nie, aangesien sommige sproeimedikasies nie in swangerskap geneem mag word nie.

Behandeling

  • Gebruik homeopatiese Buso-druppels en die weefselsouttablet Kali Mur drie maal per dag.
  • Wend snags 10 ml natuurlike, ongegeurde jogurt wat lewende AB-kulture bevat vaginaal aan. Gebruik ’n 20 ml-spuit wat by apteke verkrygbaar is en plaas dit versigtig in die vagina.
  • Wend Natura vitamien E- of Calendula Plus-salf uitwendig aan om jeukerigheid en branderigheid te streel en genesing van die aangetaste vel rondom die vagina te bevorder.
  • Gebruik probiotika wat die balans van die dermflora sal herstel. ’n Versteuring in dié balans maak ’n mens meer vatbaar vir die talle vorms van Candida.
  • Dra katoen-onderklere.
  • Beperk jou inname van suiwel- en graanprodukte, soet en sout peuselkos en kossoorte soos suurtjies wat gis bevat.  

Inkontinensie

Dit is glad nie vreemd vir swanger vroue om in die laaste trimester ’n klein bietjie urine te lek nie, veral wanneer hulle lag, hoes of nies. Dit word stres-inkontinensie genoem en is die gevolg van die druk wat jou groeiende baarmoeder op jou blaas plaas.

In die bekende swangerskapsgids What to Expect When You’re Expecting waarsku die skrywers dat jy wel doodseker moet maak dis urine wat uitlek deur die snuif-toets te doen. As dit nie soos urine ruik nie, moet jy dadelik jou dokter gaan spreek omdat dit vrugwater kan wees.

Behandeling

  • Beproef gerus dié wenke om stres-inkontinensie te probeer voorkom:
  • Vermy kos en vloeistowwe wat jou blaas kan irriteer, soos koffie en ander drankies wat kafeïen bevat. Vermy ook sitrusvrugte en sappe, tamaties, skerp kos en gaskoeldrank.
  • Doen gereeld Kegel-oefeninge om die bekkenspiere te versterk. 

Toe neus

Waterterughouding of opgeswelde lugweg-membrane as gevolg van al die ekstra vloeistof wat in jou liggaam rondbeweeg terwyl jy swanger is, kan dit soms laat voel asof jy ’n kopverkoue, toe neus, allergie of sinusitis het, hoewel dit nie die werklike probleem is nie.

Tog kan baie suiwel die probleem vererger.

Behandeling

Volgens suster Lilian help die weefselsoute Nat Mur en Nat Sulph om die vloeistofbalans in die weefsels te help reguleer en die verstopping van die neusgange te verlig. Neem een tablet van elk drie maal per dag.

’n Werklike toe neus reageer veilig en goed op die homeopatiese neussproei Nasenol en homeopatiese Phyryna-druppels is uitstekend vir ’n postnasale drup.

Nasosinus-kapsules is nuttig vir sinusverstopping met hoofpyn indien jy voor jou swangerskap al las van sinusontsteking gehad het. 

Bronnelys

Suster Lilian se Swangerskap- en Geboorteboek – Die volledige gids. Human en Rousseau 2005.

What to Expect When You’re Expecting deur Heidi E. Murkoff, Arlene Eisenberg en Sandee E. Hathaway. Pocket Books 2002.

The Best Friend’s Guide To . . . Pregnancy deur Vicki Lovine. Bloomsbury Publishing 1997.

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 10 comments

madelein

hi ek wil net graag uitvind ek kry simtome en is nie seker wat dit als kan beteken nie of ek moet begin bekomerd raak of nie ek het n dikkerige melkafskeiding met n slete reuk al vir 3 weke my rug is seer kry ligte hoofpyne word naar maar my ou kry die meeste morningsiknis ek bly moeg my voete swel ek bring op sodra ek tee of eiers eet of drink my maag spiere was seer 3 dae terug en my maag swel ligweg my teepels is ligweg senitief se my asb is daar enigsins iets om oor bekomerd te raak
Posted on Wed, Mar 19th 2014, 11:49

chrisie

Ek het my op die pil gesit hierdie maand is nou al by die 4de rooi pil het nog nie siek geraak nie kry blaas en rugpyn maar ek het nog nie siek geraak nie
Posted on Thu, Aug 22nd 2013, 11:31

magdalene

hi my dogter is swanger met haar eerste kind. sy kla van die begin af van hoofpyne en ek't opgelet die wit van haar oe is geel/bruin. sy is nie 'n roker nie. wat kan dit wees?
Posted on Sun, Apr 7th 2013, 20:57

adeline

Hi ek wil net weet wat is fout met my as ek toilet toe gaan dan is daar n blink sluimerige ding watuit my vagina kom en ek het sooibrand wat in my keel sit asb ek is raad op
Posted on Wed, Nov 7th 2012, 11:54

Meranda

Wil net kry afskeidings, is 30 weke swanger. Doen die snuif toets maar ryk nie na urine nie. Is dit dalk vrugwater? Is dit gevaarlik? Sien my dokter weer die 15 November 2012.
Posted on Fri, Nov 2nd 2012, 20:43

maruzell

hi ek en my man probeer vir n baba en ons het so week trug begin en ek swangerskap toets gedoen maar wys niks nie maar daar is wel n wit afskeiding is dit dalk te vroeg om te wys?
Posted on Tue, Oct 23rd 2012, 11:00

Naudine

Goeie dag. My niggie is nout 22 weke swanger en wil graag weet: hoe weet sy of haar blaas lek en of is dit vrugwater wat lek? Dr sê sy moes al `n miskraam gehaad het, maar alles lyk nog ok.
Posted on Tue, Sep 18th 2012, 12:28

Santjie

Goeie dag. Ek is 22 weke swanger en wil graag weet: hoe weet ek of my blaas lek en of is dit vrugwater wat lek?
Posted on Mon, Oct 10th 2011, 09:48

Hester Cilliers

I want to know what to do with the muscle pain and cramps in my legs. I am 7months pregnant, I know I must take extra Magnesium, as prescribed by the pharmacist. But is there excersises which will help? Thanks
Posted on Tue, Dec 7th 2010, 14:37

esme

Vanaf ek my baba 10 maande terug gehad het, het ek die aakligste afskeidings reuk wat net nie wil weg gaan nie. Ek gebruik Melodene voorbehoed pil. Het Melodene ook voor ek swanger geword het ook gebruik. Ek het al als probeer wat kan ek gebruik. Help asseblief!!!!
Posted on Sat, Aug 7th 2010, 11:28
Mom to Mom Feed
Poll

What do you feel the guiltiest about as mom?

I feel I don't spend enough quality time with my kids.
I shout at them.
I don't listen to them attentively and am always distracted.
I probably should have breastfed them for longer.
I'm not able to give them more material things.
I'm not organised with scrap books and albums and memory boxes.
My kids are overweight.
My kids watch too much TV.
I feel guilty for sometimes wishing I could just go away and be by myself.
Someone else is looking after my kids while I work.
I don't feel guilty!