Real life stories

Om die dood te aanvaar

Chante Hinds-Moller vertel van haar stryd om die dood van haar 19-maande-oue baba in 'n plaasdam naby hul huis, te aanvaar.

 

SHARE

 
Om die dood te aanvaar
 
 
 
 

Hoe rou jy oor jou oudste kind se dood met ’n baba (Darius, Daniël se kleinboet) wat totaal van jou afhanklik is?

Darius was maar vier maande oud toe Daniël dood is en baie ingestel en sensitief teenoor my emosies. Ek onthou hoe ek sommige dae net wou oorgee aan die geweldige huil wat wou oorloop, maar sodra ek begin huil, dan huil Darius ook.

Menige dae moes ek my emosies sluk en met uiterste selfbeheersing probeer om vir Darius te versorg. Dit was swaar en moeilike dae aan die begin – ek het probeer om soms ’n ent te gaan stap en dan kon ek in die stilte van die natuur my hart leeghuil.

Wat het daardie dag gebeur?

Dit was ’n doodgewone Donderdag, 14 Mei 2009, toe die veeinspekteur ons kom besoek het om ’n geval van brandsiek onder die vee te ondersoek. Ons was almal saam veld toe en het met die terugkomslag tee in die kombuis gedrink. Jan, my man, was saam met Daniël in sy kantoor besig om vorms in te vul.

Tussen ons woonhuis en die buitegeboue het ons ’n kamp opgeslaan wat die werf in ’n groot vierkant van die res van die plaaswerf afgespan het, maar met ’n klein hekkie oopgemaak moes word. Die veeinspekteur is gou motor toe en het nie die hekkie gesluit nie – ek was besig om vir Darius te voed en

Daniël het intussen saam met Jan deurgestap na die kombuis toe. Wetende dat die hekkie altyd gesluit word, het ons aanvaar dat hy in sy sandput speel – maar met die hekkie wat nie gesluit was nie, het hy – anders as gebruiklik, die steilte opgestap na die plaasdam waar die swane swem.

Het jy enige skuldgevoelens?

Natuurlik het ons aanvanklik gevoel dat ons gefaal het as beskermers, maar ons weet tog dat ons ingesteldheid toe (en nog steeds!) altyd gaan om die welsyn van die kinders. Ons is altyd bewus van hul behoeftes en ek en Jan vul mekaar wonderlik aan wat die versorging van ons kinders aanbetref. Ons het vinnig aanbeweeg van daardie fase tot die besef dat die lewe en dood nie in ons hande is nie.

Die eerste reaksie is om so ’n tragedie op die natuurlike manier te probeer verwerk. Die gedagte dat dit ’n “ongeluk” kon wees, het my mal gemaak. (’n Ongeluk is wanneer ’n koppie breek, of jy per ongeluk die melk mors ... defnitief nie die dood van jou lieflingkind nie!)

Ek vind baie aanvaarding in die wil van God en met ’n doelbewuste perspektief op die ewigheid. Onthou ook dat die Skrif sê: “Sorg dat julle nie neersien op een van hierdie kleinstes nie – of weet julle nie dat hulle engele voortdurend in die teenwoordigheid van ons Hemelse Vader is nie?” Ek weet dat kinders se beskermengele soms oortyd werk, en mens hoor dikwels merkwaardige stories van noue ontkomings. Dit was nie Daniël se lot nie. Sy dae was afgemeet en getel... Daarin moet ons probeer berusting vind.

Hoe was jou gemoedstoestand ná Daniël se dood tot nou toe?

Party mense sê hulle is eers geskok, dan volg ontkenning, dan word hulle kwaad, dan rou hulle en laastens skop aanvaarding in. Dis ’n aanhoudende proses wat siklies eerder as liniêr is. Ek vind dat ek oor en oor weer terugkeer na ’n sekere fase en dat ek soms deur al die fases binne die bestek van ’n paar uur kan gaan...

Die verlies van ’n kind is ’n lewenslange proses van verwerking. Dit definieer jou. Ek sal vir altyd die ma wees van ’n kind wat dood is.

Party ouers het vertel dat hulle waardeloos, onbeholpe en magteloos voel, want hulle glo hulle het gefaal met hul ouerlike pligte. Het jy ook so gevoel?

Nee, maar ek het gevoel dat ek God gefaal het, of dalk het ek gevoel dat Hy my gefaal het? Magteloos- heid is die moeilikste emosie om te beheer. Die gevoel dat ek nog steeds vir hom goedjies wil doen – kosblikkies pak, bad en aantrek, tee maak en vertroetel. My moederhart het niks verander nie, maar die take het.

Dis nie iets wat jy kan afskakel nie. ’n Mens word as ouer voorberei vir ’n leeftyd se diensbaarheid teenoor jou kinders en die proses wil steeds voortgaan – of die kind daar is of nie. Jan gaan steeds elke aand na Daniël se graf om vir hom nag te sê en ’n kersie aan te steek. Ek maak steeds soggens sy gordyne oop en saans weer toe...

Het jou ouerskapstyl verander?

Die ding met die dood is dat dit onskuld verwyder. Mens besef hoe skielik alles kan verander en ek is dus élke dag bewus van die broosheid van geluk. Ek kies om nie neuroties of bevrees te wees nie. (Nie maklik nie!) Darius is geregtig op ’n vrye, sorgelose lewe sonder die bande van sy oorlede boetie wat hom terughou.

Het jy vir Darius op daardie tydstip geborsvoed toe Daniël dood is?

Dit was ’n wonderwerk. Ek onthou die uurlange rit na die hospitaal. Darius was in my arms; my gedagtes was leeg en die skok het soos ’n wolk om my gehang. Instinktief het ek vir Darius aan my bors gesit. Met die genade het ek slegs die eerste aand ’n kalmeerpil gedrink wat die melkvloei aangehelp het.

Maar die troos om ’n kind aan jou bors te hê terwyl jou hart in stukke is, was my redding. Ek kon vir Darius 14 maande lank borsvoed.

Wat het jy gedoen om te kan aangaan?

Om aan te gaan – weet ek nou – is nie ’n gegewe nie. Die alternatief lyk dikwels baie aanloklik. Ek wou verdwyn. Ophou asemhaal. Ek wou enigiets doen om die pyn te ontsnap. Die eerste paar weke en maande het ons net opgestaan en asemgehaal. Baie mense het kom kuier om ons aandag te probeer aflei.

Ons het self ook weggegaan om net van die onmiddellike situasie te ontsnap. Maar ons het telkens gevind dat die terugkomslag erger was. Dit was asof ons weer van vooraf gewoond moes raak aan sy leë kamer, die dam en die graf. Ons het minder weggegaan en dit was mettertyd asof met elke blik na die dam en sy graf, ’n bietjie van die seer weggebeitel word. Met genade alleen het ons hierdie eerste
jaar deurgekom.

Wanneer begin ’n ouer om jou kind se dood te aanvaar en om nie skuldig te voel om te lag en weer gelukkig te wees nie?

Dis ’n lang en komplekse proses waarvoor daar nie ’n formule is nie. Ek en Jan het wel besluit dat een tragedie genoeg is – ons gaan nie ekstra emosionele trauma op onsself bring deur verwyderd van mekaar te begin leef nie.

Ons het met die genade steeds ons vreugde in die lewe behou, te midde van oneindige smart. Mooi
was steeds mooi en snaaks was steeds snaaks. Daar is steeds dae dat ek opstandig is oor Daniël se dood. Ek het kognitief sy dood aanvaar, maar die proses van emosionele berusting sal seker nog ’n tydjie neem.

Bly julle steeds in dieselfde huis waar Danië dood is? Baie ouers verkies om te verhuis want daar is te veel dinge wat hulle sal herinner aan die voorval en die dood.

Ek het baie meer empaties geword vir die keuses wat ’n mens kan maak tydens trauma, want ek besef hoe vinnig ’n mens se lewe kan lostorring.

Vriende van ons het ook hul seuntjie op 18 maande deur verdrinking verloor. Hulle het onmiddellik ná die begrafnis in hul motor geklim, begin ry en letterlik gestop toe hulle sonder petrol gaan staan het. Vyf jaar later kon hulle eers weer die moed bymekaarskraap om terug te keer.

Ons wou ook aanvanklik vlug. Dis ’n baie normale emosie, en ek het begin om die perseel ’n paar kilometer van die plaashuis op te knap. Dit was deel van my terapie. Maar halfpad deur die proses en ’n hele paar duisend rand later, moes ek besef dit gaan nie prakties werk nie, en ons het maar weer alles toegemessel en net so laat vaar.

Jy is weer swanger, baie geluk!

Baie dankie, dis ’n groot geskenk en ons is baie dankbaar, want dit was presies ’n jaar ná Daniël se dood en op 42 is ’n mens dankbaar vir nog kanse!

Praat jy met Darius oor sy ouboet?

O ja, Darius word groot met Daniël se erfenis – sy speelgoed, gesegdes, klere en foto’s en ons praat gedurig oor hom.

Wat is jou oorlewingswenke vir ouers wat ’n kind aan die dood moes afstaan?

Die grootste troos en seën was dat ons Daniël self kon begrawe en versorg voor sy begrafnis. Jan het self sy geelhoutkissie gemaak, ek het die blomme gedoen en ons kon hom self aantrek en vir oulaas
almal saam in die groot Ford plaas toe ry vir sy begrafnis.

Met alles wat ons nog vir hom kon doen, kon ons afskeid neem en troos vind. Ons was nog sy ouers wat besluite kon neem, pleks van vreemde begrafnisondernemers wat ’n vooraf uitgewerkte program volg.

Sy begrafnis was sag en soet, vol deernis met ouers wat self die “diens” gelei het, sy graf gegrawe het en hom begrawe het. Ons het ook baie tyd gehad om na te dink, kwaad te wees, te verlang. As mens te vinnig aanbeweeg en besig bly ná so ’n trauma, verloor jy belangrike mylpale in die treurproses.

Probeer om sagkens met jouself te werk. Ek het verskeie terapeutiese dinge gedoen, ek het my gees begin voed met die Woord, ek het vir ’n maand lank my van radio en televisie afgesonder en net gelees. Boeke oor rou, oor die dood, oor die hiernamaals – alles wat ek nodig gehad het om die proses te probeer verstaan.

Het jy wenke vir die mense om die ouers?

Bid en bel! Praat baie oor die kind en vra om hulle kamers en foto’s en geliefkoosde speelgoed te sien. Hou die herinneringe lewendig deur op verjaardae te bel of ietsie vir die graf saam te bring. Ouers wil graag oor hul kinders praat, maar wil nie aanstoot gee deur te veel te praat nie. Ek’s verheug as iemand my oor Daniël uitvra!

Hulp met die rouproses

Daar is ’n CD-reeks, Gesprekke oor Rou, deur Braam Klopper, wat ’n wonderlike hulpbron is vir mense wat rou, asook vir mense wat ander wil bystaan wat rou.

Die reeks bestaan uit die volgende vier titels: Praktiese Raad vir Mense wat Treur, Na die Dood van ’n Kind, Na ’n Miskraam of Stilgeboorte, Na Selfmoord.

Braam is ’n predikant sowel as pastorale terapeut wat spesialiseer in die proses van rou. Braam sê mense wat rou sukkel dikwels met hul konsentrasie en kan nie vir lang rukke lees nie, daarom is die gesprek-formaat van die CD juis so effektief, want elk CD is verdeel in kort hoofstukke waarna jy op enige plek kan luister.

Besoek gerus ook Braam se webtuiste by www.braamklopper. co.za waar jy ook toegang kan kry tot verskeie preke vir bemoediging, versterking en ’n perspektief op die dood en die lewe na die dood. Ook mense wat ander wil bystaan in hul rouproses sal baie leer uit hierdie CD-reeks.

Bestellings kan direk by Braam Klopper geplaas word, per e-pos by info@braamklopper.co.za of deur 082 574 3530 te skakel. Dit kos R100 vir ’n enkel-CD en R120 vir ’n dubbel-CD, plus R20 posgeld.

 
 

Janice Johannes

Janice Johannes was Baba & Kleuter se assistent redakteur en is nou 'n vryskutskrywer. Sy het haar tande as joernalis by Beeld geslyp en sedert Lucas (2) se geboorte is sy passievol oor die ontwikkelingsfases van baba's en kleuters.

Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 3 comments

Leonie Maritz

My hart is seer my lewe is dol dol leeg Jy was maar net in jou vroee jeug Hoe gaan ek sonder jou lewe elke keer as ek aan jou dink begin my liggaam te bewe Die pyn in my hart wil nie verdwyn Die son het ophou skyn Ek wens jy was nog hier, sodat ek kon hoor hoe jy lag van plesier Ek wens ek kon jou aan jou raak en die vreugde van jou kind wees ervaar Ek wens ek kan jou stem hoor, en verdrink in di...e woorde wat jy altyd kon toor Ek mis jou elke dag meer en meer, hoe leef n mens met hierdie seer My lewe is leeg sonder jou, ek moet aangaan en n toekoms bou Jou woorde sal ek onthou, elke dag sal ek dit om my vou Jou drukkie in die hospitaal, dankie dit was so rojaal Dankie vir die tyd was ons saam kon wees, die laaste dae van jou se mens wees Mag jy vrede ervaar, saam met God in die Hemelse see vaar!! Lief jou vir nou, lief jou vir altyd Tot ons weer ontmoet dis net n kwessie van tyd!!
Posted on Thu, Aug 7th 2014, 15:48

DS.JIMMY DAVIS

ONS HET ONS BABA VERLOOR EEN DAG NA SY GEBOORTE.EK IS SELF N PREDIKANT MAAR DIE RAAD WAT EK VIR ANDERE GEGEE HET , HET GEVOEL OF DIT NIE VIR MY WERK NIE. EK HET MY VERTROOSTING GEVIND IN DIE WOORD EN MYSELF DAARIN VERBERG. EK HET GEWEET WAAR HY IS, MAAR DIT HET DIT NIE MAKLIKER GEMAAK NIE. AL WAT ONS STAANDE GEHOU HET WAS GELOOF EN DIE WETE DAT GOD NIKS SAL LAAT GEBEUR WAT NIE BINNE SY WIL IS NIE. MAAR DIE VERLANGE GAAN NIE WEG NIE. AL WAT EK WEET IS DAT DAAR WEER 'N BLYE WEERSIENS SAL WEES IN 'N PLEK WAAR DAAR GEEN DOOD SAL WEESNIE.
Posted on Mon, Nov 26th 2012, 10:25

Lizbe Bothma

Ek het my eerste kind agv van 'n miskraam verloor. En ek het soveel empatie met hierdie ouers. Ek kon nie my 1ste kind begrawe nie, want dit was nog te vroeg in die swangerskap, maar ek het ook getreur, rou emosie uit geskreeu en gehuill. Verdrinking is ontelbaar meer pynvol, maar soos hierdie mammas gesê het hulle mis en verlang nogsteeds. Ek is geseen met 'n seun van 3jr en ek het vir hom gesê dat sy boetie of sussie by Jesus is, want hy het hom of haar nodig gehad. Vir 3jr is hy nogal heel slim, want hy het verstaan, en hy bly my sonskyn kind. Ek bid vir elkeen van die mammas en pappas, want daar is nie klein of groot pyn nie, pyn bly pyn.
Posted on Wed, Aug 8th 2012, 14:37
Mom to Mom Feed
Poll

What do you feel the guiltiest about as mom?

I feel I don't spend enough quality time with my kids.
I shout at them.
I don't listen to them attentively and am always distracted.
I probably should have breastfed them for longer.
I'm not able to give them more material things.
I'm not organised with scrap books and albums and memory boxes.
My kids are overweight.
My kids watch too much TV.
I feel guilty for sometimes wishing I could just go away and be by myself.
Someone else is looking after my kids while I work.
I don't feel guilty!