Olga Jardine: 18-21 weke

Olga Jardine: 18-21 weke
 
 
 
 

Olga Jardine (26) en haar man, Shaun (30), van Randburg het pas die geslag van hul baba uitgevind

Dis ’n DOGTERTJIE! Toe die dokter daai drie strepies aandui op die skerm, kon ek nie my oë glo nie, ’n piénk pienkvoet! Shaun was effens afgehaal – hy’t styf duim vasgehou vir ’n seuntjie – maar hy’t baie vinnig besef dat ’n dogtertjie vir ewig en altyd ’n pa se oogappel sal bly en hy loop nou met ’n breë
glimlag rond.

Week 18 en 19 was ’n bietjie rof en ek het nogal kwaai maagkrampe gehad. Ek was aanvanklik bekommerd, maar toe al my bloed- en ander toetse normaal terugkom, het ek ontspan. Die dokter het die pyn toegeskryf aan ligamente wat rek.

My boepie wys nou al mooi. My normale klere gaan nie meer baie lank pas nie, maar ek gee glad nie om nie – dis ’n wonderlike ervaring en eintlik so ’n groot voorreg om te weet daar groei ’n perfekte mensie daar binne.

Ons was in Clarens vir die naweek vir ’n lekker en welverdiende wegbreek. Die vars lug en rondsnuffel tussen al die winkeltjies was heerlik. Die hele naweek was perfek ... tot die kar se lugreëling op pad terug huis toe sy laaste asem uitgeblaas het, sowat 300 km buite Johannesburg!

Dit was nie grappies nie. Ek’s seker die babatjie het gedink ons hou in Zanzibar vakansie.

Ons het die babakamer al begin mooi maak. ’n Nuwe mat is ingesit en Shaun het die mure geverf. Die kot is opgeslaan, kaste reggepak en die kleertjies en geskenke wat ons al gekry het, is uitgesorteer. Ons het ook ’n pragtige kompaktum gekry en kan nou ons op die detail van die kamer begin konsentreer.

Sonar

Week 20 en 21 het verbygevlieg en toe was dit uiteindelik tyd vir die sonar. Dis ons hoogtepunt elke maand; omtrent soos 'n verslawing! Die dokter het na al haar organe gekyk, haar rugstringetjie en die
vrugwater, en ons kon selfs haar gesiggie mooi bestudeer. Alles lyk perfek en die dokter was baie tevrede met haar groei en vordering.

Ek kan nie besluit of my swangerskap vinnig of stadig vorder nie. Soms as ek terugkyk voel dit asof dit in ’n oogwink verby gaan wees, maar as ek dink dat ek nog vier maande moet wag, voel dit soos ’n ewigheid.

Die paar weke wat voorlê behoort vinnig verby te gaan. Dié naweek is dit ons huweliksherdenking en ons het besluit om dit te vier met ’n groot inkopietog vir die babakamer en ’n aandjie uit by ons gunsteling restaurant. Daarna is dit Shaun se verjaardag en my vriendin se kombuistee en troue waar ek (boep en al) die matron of honour is!

Hoogtepunt?

Sy gee die laaste paar dae meer prominente skoppe. Ek kan al amper ’n patroon begin sien: Sy’s op haar aktiefste soggens sodra ek wakker word, wanneer ek iets eet en as ek in die aande ná werk rustig word.

Elke skop en draai laat my glimlag! Maar sy is suinig met skop vir ander mense; sodra iemand anders hul hand op my maag plaas, lê sy tjoepstil!

Hoe voel jou lyf?

Ek is nog so af en toe ’n bietjie duiselig, maar verder voel ek fantasties.

 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - No comments yet

 
What do you think?

What was the most expensive item you've bought for your child?

Pram/stroller
Nursery room furniture, eg cot, compactum or bed
An outfit
A toy
Other