Kosfiemies

Kosfiemies
 
 
 

Ons almal ken daardie magtelose gevoel van aan tafel sit met ’n snuiter wat weier om te eet. Dis dán dat jy maar gerus kan begin kweek aan die spreekwoordelike hare op jou tande, want die kans dat jy hierdie oorlog gaan wen, is skraal.

Soms werk selfs die heel beste kunsies in die boek eenvoudig net nie om ’n kind sover te kry om te eet nie. (En dan kry ’n mens boonop selftevrede vroue wat in kleur en geur vertel hoe wonderlik húlle kinders eet – selfs knoffel en olywe en soesji! Hulle val in dieselfde kategorie as die ma’s van kinders wat goeie slapers is en wat dit smalend vertel terwyl jy soos ’n seekoei sit en gaap.)

Maar die feit bly staan, jy het die volste reg om bekommerd te wees as jou kind nie wil eet nie. Of ten minste nie goed eet nie – veral as hierdie patroon vir dae, selfs weke aanhou. Kos is die bepalende faktor vir jou kind se gesondheid, groei en ontwikkeling. As hy nie reg eet nie, sal hy nie optimaal groei en presteer nie.

Tog sê Amanda Weber, ’n praktiserende dieetkundige in die private praktyk in Greenside, Johannesburg, dat ons as ouers soms taamlik onredelike idees het oor hoeveel ’n kind werklik veronderstel is om te eet. En dan vergeet ons dikwels dat kinders dalk reeds by die skool geëet het – en kinders eet gewoonlik baie beter saam met hul maats as tuis.

“Kinders se eetlus kan ook van volwassenes s’n verskil – ons is dalk gewoond daaraan om saans ’n groot bord kos te eet, terwyl baie kinders in die loop van die middag happies eet en dan saans nie juis honger is nie. Soms is kinders eenvoudig net te moeg om saans ordentlik te eet,” sê Amanda.

Gebore eters

Navorsing het al keer op keer bewys dat ’n goeie eter gebore en nie gekweek word nie. Daar is kinders wat van geboorte af al (of binne die eerste paar weke) moeilike eters is. En ’n mens moenie dié japsnoete verwar met kinders wat in kort fases (’n dag of twee tot ’n week) sleg eet nie.

“Moeilike eters het gewoonlik van geboorte af gesukkel met voeding, of hulle nou bors- of bottelbabas was. Daar is ook ’n besliste verband tussen babas wat moeilik voed en koliekbabas. Moeilike eters is daarby uit die staanspoor geneig om sekere smake en teksture te vermy en sal van die begin af al net sekere kosse wil eet,” sê Amanda.

Dis ook moontlik dat kinders wat later in hul lewe sleg eet, te laat aan vaste kosse blootgestel is. Moet dus nie te lank uitstel voor jy met vaste kosse begin nie – die ideaal is tussen 4 en 6 maande.

Gee eers vir jou baba groente voor jy hom aan vrugte bekendstel. As hy eers gewoond is aan die vrugte, gaan hy dalk sy babaneusie optrek vir die groente.

Peuters wat net peusel

Peuters en kleuters is soms net te besig om die wonderlike wêreld om hulle te ontdek om hulle aan eet te steur. Kinders verbrand ook minder energie vanaf 18 maande. “Navorsing het al oor en oor bewys dat geen kind homself doelbewus sal uithonger nie. En tog bly die moontlikheid van wanvoeding of ’n tekort aan sekere voedingstowwe ’n nare werklikheid,” sê Amanda.

Sy onderskei tussen die volgende tekorte:  

’n Tekort aan proteïene

’n Tekort aan proteïene is nie baie algemeen onder slegte eters nie, aangesien baie kinders wat nie goed eet nie, steeds baie proteïen in die vorm van melk of melkskommels inkry.

“Kinders hou oor die algemeen van jogurt, kaas, grondboontjiebotter en ham – alles goeie bronne van proteïene.” Baie kinders eet juis sleg omdat hulle te veel melk of ander vloeistowwe tussen etes of deur die nag drink.

n Tekort aan koolhidrate

Amanda sê koolhidrate in die vorm van pasta en brood (selfs rys en koeskoes) is oor die algemeen taamlik gewild by kinders, veral in die vorm van ’n toebroodjie met grondboontjiebotter op. ’n Kind wat nie genoeg kilojoules in die vorm van koolhidrate inkry nie, sal nie net tam en lusteloos wees nie, maar ook ’n swak immuunstelsel hê.

’n Tekort aan yster

Kinders kan inderdaad ’n bloedystertekort ontwikkel as hulle nie genoeg bronne van yster inneem nie, soos eiers en rooivleis. In dié geval is ’n ysteraanvulling waardevol, maar jy moet dit met jou dokter, apteker of dieetkundige bespreek.

Merke, gereed, éét!

Jammer, daar is ongelukkig geen towerwoord wat jy oor jou moeilike eter kan uitspreek om hom in ’n honger wolf te laat ontluik nie. En kulkunsies soos om groente te verdoesel en elke aand kunswerke op te tower is ook nie altyd die antwoord nie.

Navorsing het wel getoon dat gereelde blootstelling aan dieselfde kos baie belangrik is vir uiteindelike sukses, sê Amanda. “As jy wil hê jou kind moet broccoli en ertjies (of wat ook al) eet, moet dit gereeld op sy bord aanwesig wees. Jy kan maar verwag dat jou snuiter dit tussen 10 tot 15 keer sal ignoreer of vermy voordat hy bietjies-bietjies daaraan sal begin proe.

Moet nooit toelaat dat jou kind ’n reaksie by jou ontlok nie! Verwyder eenvoudig die bord wanneer hy klaar is, al het daar kos oorgebly waaraan hy nie geraak het nie. 

“Moenie ’n alternatief soos jogurt of roosterbrood gee nie, veral nie as dit binne 20 minute ná aandete is nie,” sê Amanda.

Die meeste kinders het dikwels baie eentonige voorkeure as dit by kos en smaak kom en hulle sal vir lang tye aaneen net op 3 of 4 verskillende soorte kos oorleef. En anders as ons volwassenes kan kinders lag-lag 3 keer ’n dag aan dieselfde kos smul sonder om uitgeëet te raak! Jy sal verbaas wees hoeveel keer ná mekaar jou japsnoet kan bly word oor visvingers en tamatiesous! Of Weet-Bix met melk. Of doodgewone piesangs . . .

“In dié geval kan jy hom maar die kos gee wat hy verkies, maar sorg dat jy altyd iets soos aartappels, patats of pampoen insluit. Wissel die manier af waarop dit voorberei is – aartappels kan byvoorbeeld as kapokaartappels, gekookte aartappel óf as oondgebakte skyfies voorgesit word.

“Baie kinders gril vir sekere teksture en daarom is dit belangrik om verskillende teksture te beproef, soos gebakte eiers pleks van gekookte eiers,” sê Amanda.

Sy sê verder indien jou kind oor die algemeen sleg eet, is ’n goeie aanvullende melk (soos Nespray en Nido) ’n goeie idee, juis omdat dit help om sekere vitamien- en mineraaltekorte te voorkom.

Te siek vir kos?

Onthou dat alle kinders soms deur fases gaan waar hulle sleg eet, veral babas wat besig is om tande te kry en kinders van alle ouderdomme wat siek is. “Kinders sal dan terugval op melk of ander vloeistowwe tot hul weer beter voel,” sê Amanda.

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 2 comments

marinda

Ek het n 3 jarige seuntjie wat net sekere goed eet,braaiwors,tamties,jogurt,appels,piesangs,kaas,rooiworsies,dit is basies stappelvoedsel en ek sukkel regtig met plannevir kosmaak want hy eet nie at ekvoorberei niehy maak hom baie maklik naar vir kos.As baba het hy erg refluks gehad kan dit n effek he?help.en ek het n 14 maande oue bab dogtertjiewat fliksis om te eet maar ook maar nukke het.rigllyne of n paar resepteom te probeer kan dalk n begin wees.
Posted on Thu, May 3rd 2012, 23:12

Wendy

Ek wil net weet, ek het 'n dogtertje wat nou 19maande oud is. Sy het nou van tussen 17 en 18maande 'n witkol teen haar nek ontwikkel. Kan dit miskien 'n tekort aan yster wees? Sy hou van eet maar het haar dae van net met die kos wil speel. Met geboorte tot nou nog is sy blakend gesond, maar dit laat my bekommerd voel. Ek het haar nog nie na 'n velspesialis geneem nie. Baie Dankie
Posted on Wed, Feb 2nd 2011, 12:45