Wellbeing

Winterkiemse se Moses

Jy kan baie doen om die nare verkouekiem gedroggies te uitoorlê deur nou al jou kind se immuniteit op te bou... ons vertel jou hoe.

SHARE

 
 
 
 

Moenie nou kyk nie, maar daar hang honderde kieme op deurknoppe, speelgoed en mensehande rond wat net wag om jou kind te bespring sodra die eerste winterkoue aanbreek.

Dis waarom babas en peuters – wat graag alles in hul mond druk – en ouer kinders – wie se speelgroepe of klaskamers van die kieme wemel – dikwels die hele koue seisoen lank hoes en proes.

Dis byna onmoontlik om jou kind kiembestand of haar omgewing kiemvry te maak. Kieme is oral, veral op plekke soos dagsorgsentrums en speelgroepe, en blootstelling aan nare goggas is deel van die lewe. Dit hoef ook nie altyd ’n slegte ding te wees nie, want al die virusse en bakterieë om jou kind kan as’t ware haar immuunstelsel ’n hupstoot gee.

Indien sy egter buitengewoon vatbaar is vir siektes, kan jy ’n paar stappe doen om haar immuunstelsel sterker te maak. Voorkoming is baie beter as ’n nimmereindigende kringloop van antibiotika en ander medisynes.

Borsvoeding

Probeer om jou baba so lank moontlik te borsvoed. Jou borsmelk is ryk aan teenliggaampies wat jou baba se immuunstelsel versterk en help om siektes af te weer. Probeer dus aanhou voed, selfs al is dit net een voeding in die aand. Beskou dit as ’n bietjie nodige daaglikse medisyne wat jy ingee.

Gesonde kos

Sodra jou kind vaste kos begin eet, kan jy veral fokus op kos ryk aan antioksidante soos patat, wortels, pampoen en papaja (vitamien A), bessies, kiwivrugte, aarbeie en groen blaargroentes (vitamien C), avokado’s en alle sade (vitamien E), vis en ertjies (sink) en broccoli en hoender (selenium).

Gevriesde vrugte en groente is tweede beste, terwyl geblikte of verwerkte groente met ’n paar uitsonderings min voedingswaarde oorhou. Probeer waar moontlik kos in die natuurlikste vorm eet. Hoe meer ingryping daar was deur die mens, hoe meer voedingstowwe het al verlore gegaan.

’n Eetplan met baie vrugte en groente help ook om gesonde bakterieë (probiotika) in die spysverteringskanale op te bou. Wanneer ’n mens te veel vleis eet, is die kanse groter dat skadelike stowwe vrygestel word tydens vertering. Die verteringsproses word ook vertraag.

Jy kan die probiotika ondersteun deur gefermenteerde kos by jou kind se dieet in te sluit, soos jogurt, maaskaas (suiwel), suurkool, piekels (groente), tofu, soja-jogurt (soja) en suurdeegbrood (graan of rog).

Aanvullings

Die nodige vitamiene en gesonde bakterieë kan ook in die vorm van aanvullings geneem word.

Vitamien A bied veral goeie beskerming teen ’n verskeidenheid van siektes en ’n kind het tussen 500 mcg (babas), 700 mcg (tweejariges) en 1 000 mcg (sesjariges) per dag nodig.

Vitamien C is ’n groot kanon in die vitamien-arsenaal en daarvan het julle 100 mg (babas), 200 mg (tweejariges) en 400 mg (sesjariges) per dag nodig.

Daar’s ’n verskeidenheid multivitamien-aanvullings op die mark, in pilvorm of as vloeistof na gelang van wat jou kind verkies, met al die vitamiene en minerale wat nodig is. Die ideaal is om die aanvulling met ontbyt te gee, aangesien die B-vitamiene ’n effense stimulerende uitwerking kan hê. Maak ook seker jy volg die dosisaanwysing op die pakkie.

Probiotika kan ook voorkomend gegee word – die poeiervorm kan maklik met vloeistof of kos gemeng word. Moet dit egter nie saam met die kos verhit nie, want die hitte vernietig meeste van dié goeie bakterieë.

Daar is ook homeopatiese en weefselsoutremedies soos echinacea, wat die liggaam se immuniteit aanwakker en ’n belangrike remedie vir alle infeksies en aansteeklike kindersiektes is.

Spesiaal geformuleerde middels soos Creche Guard is ook doeltreffend – dit het olyfblaar-ekstrak wat wondere verrig teen virusse en bakterieë.

Water

Moedig kinders aan om baie gefiltreerde water te drink. Dit voorkom ontwatering en help die liggaam om op sy beste te werk.

Verder droog die selle binne-in die mond en neus maklik uit. Wanneer dit gebeur, vorm klein gaatjies en krakies in die vliese wat vrye toegang gee aan verkouevirusse. Slymvliese wat nie uitgedroog is nie, is plomp en meer weerstandig teen infeksies.

Water help die liggaam ook om van skadelike stowwe ontslae te raak.

Genoeg slaap

Maak seker jou kinders kry genoeg slaap. Terwyl ’n kind in droomland is, is haar liggaam hard aan die werk om beskadigde selle te herstel. Slaap reguleer ook hormoonvlakke.

Die ideale hoeveelheid slaap is 12 tot 15 uur vir ’n baba, kleuter en jong kind, en 10 tot 12 uur vir tieners. Hoe meer slaap hulle voor middernag inkry, hoe beter is dit vir hul neurologiese ontwikkeling.

Oefening

Navorsing wys dat oefening immuniteit verbeter en siektes soos diabetes en vetsug voorkom. ’n Gesonde kind sal natuurlik vol energie wees.

Kanaliseer dié energie deur hulle te laat deelneem aan aktiwiteite soos swem, stap, dans en ander buitemuurse aktiwiteite, of deur speletjies soos jagentjies of wegkruipertjie. Gereelde oefening verhoog die liggaam se vermoë om spanning en infeksie te hanteer, en help ’n kind om beter te slaap.

Sê nee vir suiker

Suiker onderdruk die immuunstelsel deur witbloedliggaampies (belangrike soldaatjies in die immuun-weermag) se aktiwiteit te belemmer. Dis nie altyd moontlik nie, maar probeer tog om suiker uit jou kind se dieet te hou. Gee eerder dwarsdeur die dag gesonde peuselhappies sodat haar bloedsuiker nooit te laag daal en sy na soetgoed begin gryp nie.

Griepinspuitings

Volgens Prof. Robin Green, hoof van die pediatriese eenheid by die Pretoriase Akademiese Hospitaal, word talle kinders en volwassenes jaarliks gehospitaliseer as gevolg van griep en griepverwante siektes. En steeds besef ons nie hoe ernstig die siekte is nie.

Dit is uiters belangrik dat die hele gesin, maar veral kinders onder 6 jaar ‘n griepinspuiting moet kry, juis omdat daar ‘n groter risiko is dat hulle respiratoriese infeksies as gevolg van griep kan opdoen. Bronchitis, bronchiolitis, longontsteking en hoë koors is gewoonlik ‘n komplikasie van griep.

Babas kan reeds vanaf 6 maande ‘n griepinspuiting kry, maar indien jy twyfel kan jy die Sanofi Pasteur helplyn bel by: 0860 160 160.

’n Kind wat reeds tekens van griep toon of wat net oor die algemeen effens siekerig is, moet eerder nie dan ’n inspuiting kry nie, aangesien dit die simptome kan vererger.

SWANGER VROUE

Dis frustrerend dat medisynes wat jy gewoonlik sou drink om beter te voel, nie toegelaat word terwyl jy swanger is nie en dat jy dus langer sleg voel en siek bly as gewoonlik.

Dieselfde beginsels wat vir kinders geld, geld egter ook vir swanger vroue: gesonde, natuurlike voedsel, voldoende voedselaanvullings (onthou dat swanger vroue nie meer as 2 200 mcg vitamien A per dag moet inneem nie) en genoeg water, nagrus en oefening.

’n Daaglikse dosis probiotika is altyd ’n goeie idee, en hou die vitamien C gereed vir die eerste tekens van siekte.

EERSTE TEKENS VAN VERKOUE OF GRIEP

Al is jy hoe versigtig, gebeur dit tog dat ’n verkoue- of griepvirus jou kind soms beetkry. Hou dan die volgende in gedagte:

Koors

Koors is die liggaam se manier om te sê hy is besig om ’n infeksie te beveg. Probeer om nie onmiddellik na die koorsstroop te gryp nie – dis goed vir jou kind se liggaam om deur die proses te gaan. Sodra die koors 39 grade of hoër is, kan jy koorsstroop of ’n setpilletjie gebruik om die koors af te bring.

Intussen kan jy jou kind afspons met lou water – veral haar kop, aangesien dit die meeste hitte verloor. Jy kan ook ’n hemp of katoensokkies in koue water week, uitwring en aantrek, waarna jy warm droë wolsokkies of ’n sweetpaktop bo-oor aantrek – gewoonlik kort voor slaaptyd. Trek ná so 30 minute die nat klere uit en trek droog aan. Wanneer jou kind se lyf op die koel temperature reageer, stimuleer dit ook die immuunstelsel.

Ekstra vitamien C

Gee dadelik ekstra vitamien Cmet die eerste teken van ’n seer keel of verkoue. Jy kan die daaglikse dosis van 4 tot 6 keer per dag bykomend gee tot hulle gesond is en dan die dosis stelselmatig verminder. ’n Los magie is ’n moontlike newe-effek – jy kan dan die dosis effens verminder.

Kos ryk aan vitamien C is kiwivrugte, kool, broccoli, aarbeie, ertjies, tamaties en sitrusvrugte.

Sink

Sink-druppels help ook om infeksie te beveg. Moenie meer sink gee as die aanbevole daaglikse dosis vir jou kind se ouderdom nie.

Sny suiwel, vleis, eiers en suiker uit

Suiwel, vleis en eiers kan bydra tot ’n dikker slymafskeiding deur die slymvliese. Met die teenwoordigheid van ’n loopneus of hygende hoes kan jy gerus dié kos uitsny tot jou kind heeltemal herstel het. Sny ook alle suiker uit haar dieet terwyl sy verkoue of griep het.

Probiotika

Jy kan jou kind se probiotika-aanvullings opstoot tot 3 keer die aanbevole daaglikse dosis. Soms veroorsaak dit meer winderigheid, wat nie altyd ’n slegte ding is nie!

Ligloop vir antibiotika

Antibiotika is wonderbaarlik wanneer dit oordeelkundig gebruik word. Die probleem is daar ontwikkel ál meer bakterieë wat bestand is teen selfs die sterkste antibiotika, juis omdat antibiotika te maklik voorgeskryf word.

Indien jou kind gereeld siek word, vermy herhaalde kursusse antibiotika en besoek eerder ’n voedingskonsultant om by die wortel van die probleem uit te kom. Gebruik antibiotika net wanneer dit werklik nodig is – dit help glad nie vir verkoue nie.

Begin dan om vir jou kind ekstra probiotika-aanvullings te gee en hou hiermee vol vir minstens ’n week nadat die kursus antibiotika voltooi is.

Bykomende bronne:

http://billingsgazette.com
www.healthychild.com
Optimum Nutrition Before, During and after Pregnancy deur Patrick Holford en Susannah Lawson (Judy Piatkus Publishers)

 
 
 
Disclaimer: The advice on this site is for information purposes only. Please consult your health professional.

Add your comment

Comments - 1 comment so far

Tanya

Ek het onlangs 'n artikel gelees waar hulle deur eksperimente bevind het dat 'n mens nié meer hitte deur jou kop afgee nie - nogal 'n interessante alternatief op die dekade-oue geloof.
Posted on Wed, Jul 17th 2013, 21:34
Poll

What do you feel the guiltiest about as mom?

I feel I don't spend enough quality time with my kids.
I shout at them.
I don't listen to them attentively and am always distracted.
I probably should have breastfed them for longer.
I'm not able to give them more material things.
I'm not organised with scrap books and albums and memory boxes.
My kids are overweight.
My kids watch too much TV.
I feel guilty for sometimes wishing I could just go away and be by myself.
Someone else is looking after my kids while I work.
I don't feel guilty!